Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koelkoppe is nou in Suid-Afrika nodig

Dit is in tye soos dié dat ons in Suid-Afrika leiers en mense nodig het wat koelkop kan bly, skryf Dawid Kuyler.

Parlementslede van die EFF probeer om die staatsrede te ontwrig. Foto: Gallo Images

In ons huidige situasie het ons koelkoppe nodig.

Mense wat soos die Stormers twee weke gelede toe speeltyd al verstreke was koelkop gebly het en in bykomende tyd die wenpunte aangeteken het. As hulle drooggemaak het, sou my mening oor hulle beslis anders gewees het.

In Suid-Afrika is daar baie mense wat skynbaar kop verloor.

As ’n mens maar net dink aan die staatsrede en die debat daarna, het die EFF beslis kop verloor. Hulle sien geen rede in nie en het nie respek vir ’n demokrasie nie. Hulle veroorsaak ook dat mense se koppe warm word en mense wat kop verloor én warmkoppe is ’n resep vir ’n ramp.

Na die staatsrede-debakel was sosiale media bedrywig met mense wie se koppe warm was. Dit wat alles kwytgeraak is, getuig daarvan.

Toe het oudpres. FW de Klerk se uitspraak oor apartheid daartoe gelei dat talle mense hom en sy stigting behoorlik die kop gewas het. Apartheid is ’n misdaad teen die mensdom en wie dit nie wil insien nie, moet sy kop laat lees.

Talle munisipaliteite is onder administrasie en steeds gaan die roekelose spandering van geld wat hulle nie het nie voort.

Kyk ’n mens na die Dudu Myeni-hofsaak en wat sy aangevang het, kan ’n mens byna nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat sy ook kop verloor het toe sy die SAL se voorsitter was. Geen regdenkende persoon kan mos ’n semi-staatsinstelling só willens en wetens in die afgrond in bestuur nie?

Die Zondo-kommissie maak steeds meer bekend oor mense wat roekeloos meegewerk het aan staatskaping. Eskom laat sit ons gereeld in die donker omdat hul grootkoppe van die verlede lang vingers gehad het en meegewerk het om hulself te verryk. Talle munisipaliteite is onder administrasie en steeds gaan die roekelose spandering van geld wat hulle nie het nie voort.

Op ’n vraag van die DA in die parlement is bekend gemaak dat R2,6 miljard in die vorige finansiële jaar aan bonusse vir senior staatsamptenare bestee is.

Gegewe die feit dat talle staatsdepartemente deur die ouditeur-generaal geroskam word oor vrugtelose spandering, is dit onverstaanbaar hoe dit kan gebeur. Hoe kan ondoeltreffende bestuur beloon word?

Is dit geldgierigheid of die gevolg van leë, groot koppe in die staatsdiens? Hierdie onthullings kan enige landsburger se kop warm maak.

Hoe om kalm te bly

Dit klink soms asof pres. Cyril Ramaphosa met ons koppe wil smokkel, skryf Dawid Kuyler. Foto: Gallo Images

Pres. Cyril Ramaphosa se toesprake klink asof hy met ons koppe wil smokkel. Ons hoor oor en oor van nuwe planne, maar weinig van die vorige planne het gewerk. Mense kan met reg vra: Hoekom sal die nuwe planne nou werk? Faksievorming binne die ANC maak dat talle goeie planne nie op dreef kom nie.

Betogings teen geen of swak dienslewering vind lank reeds plaas, tog word daar elke verkiesing maar weer vir die dieselfde party gestem.

Wat gaan aan in kiesers se koppe wat lojaal bly aan ’n party wie se verteenwoordigers hulself verryk ten koste van die kiesers? Het kiesers dan kop verloor? Of herhaal die geskiedenis homself?

Dit is nie altyd maklik om koelkop te bly nie.

Talle finansiële adviseurs kan jou vertel hoe kliënte kop verloor en aandele verkoop as die aandelemark skielik daal. Paniekerige mense doen dinge waaroor hulle later spyt is.

Talle van ons het al kop verloor en goed gesê en gedoen waaroor ons vandag skaam is.

Dawid Kuyler

Dit is in hierdie tyd dat ons leiers en mense nodig het wat koelkop kan bly.

Mense wat soos Nelson Mandela ná die sluipmoord op Chris Hani ’n ongelooflik belangrike toespraak kon lewer wat verandering kon laat voortgaan terwyl die tafel gedek was vir bloedvergieting. Ons benodig vandag sulke leiers wat rigting kan gee terwyl mense se koppe warm is.

Dit lyk asof hulle baie skaars is. Ons het wel talle politieke opportuniste. Vakbonde staan vierkant in die pad van die ekonomiese redding van Suid-Afrika. Ek het groot begrip vir mense wie se werk op die spel is, maar as ons by SAL, Eskom en die staatsdiens bloot voortgaan asof daar ’n onuitputlike bron van geld is, dan moet ons ons koppe laat lees.

Selfs die kerk is nie gevrywaar van warmkoppe nie; of sal ons hulle heethoofde noem? Kerklike heethoofde wil die veldslag wen, maar verloor inderdaad die oorlog en die vrede.

Die kerk se getuienis in Suid-Afrika met sy baie warmkoppe is uiters beperk. Kom ons wees koelkop en erken dat kerke self nie ’n goeie voorbeeld vir die samelewing stel nie.

Wat kan ons doen om koelkop te bly?

Moenie dadelik emosioneel reageer op mense en situasies nie. Wag eers. Slaap daaroor. Dink rustig voordat jy uitsprake maak wat wys hoe warm jou eie kop is. Nugter denke bring redelikheid. Luister na ander voordat jy praat.

Ek is so dankbaar vir mense en instansies wat te midde van die vele uitdagings in Suid-Afrika koelkop voortgaan om ’n verskil te maak. Ons het hulle broodnodig.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Eff  |  Nelson Mandela  |  Cyril Rmaphosa  |  Fw De Klerk  |  Dudu Myeni  |  Chris Hani  |  Korrupsie  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.