Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koes! Stuka van Blitzkrieg in suburbia is hier
Foto:

Elke plek het sy unieke klank. Dink maar aan die geroesemoes in ’n gimnasium, die suisgeluid van wind deur dennebome, die doef-doef van ’n taxi wat verby ry, die geplons en gejil van kinders in ’n swembad of die brul van ’n skare in ’n vol sportstadion.

Elke buurt het ook sy eie klankbaan. Die gerammel van plastiek-wieletjiesdromme soggens wanneer die vullislorrie sy ronde doen, en saans die kragopwekkers – die baritons van die buurt – wat die noot insit wanneer beurtkrag aanbreek.

’n Tuin, tradisioneel ’n plek van stilte en vrede, het verbasend baie byklanke. Die bekendste is waarskynlik die murmurering van ’n grassnyer op ’n Saterdagoggend. Gerusstellend, want iewers word gewerk – en dis nie jy wat dit doen nie.

Maar dan is daar ’n nuwe vorm van intense geraasbesoedeling: die skreeugeluid van die petrolaangedrewe blaarblaser, die Stuka van suburbia, die voorstedelike weergawe van die “sirene van die dood” van die Duitse Blitzkrieg van 1939.

Ter versagting, om met ’n blaarblaser in die hand rond te stap en die werf mooi netjies te maak, is waarskynlik lekker gemeet aan die ander tuinwerk. In Japan het hulle reeds twee eeue gelede klein blaasbalkies gebruik om takkies en blare uit hul fyntuine te verwyder, ’n bevredigende en vreedsame takie, kan ek my indink.

Deesdae se blaarblasers lyk egter soos ’n jong bazoeka. Dit bied aan die tuinier sy Rambo-oomblik. Blare vlug in hul honderde blindelings voor jou uit.

Deesdae se blaarblasers lyk egter soos ’n jong bazoeka. Dit bied aan die tuinier sy Rambo-oomblik. Blare vlug in hul honderde blindelings voor jou uit.

Later kry jy die ekstra satisfaksie om daardie laaste drie of vier hardkoppige blaartjies iewers in ’n hoekie los te blaas en asdrom toe te jaag – as jy nie wil hoor nie, moet jy voel. Die klank sny soos ’n Jerigo-trompet van erf tot erf deur die Vibracrete.

Oorsee is daar lank reeds ’n rebellie teen blaarblasers se geraas aan die gang. In die Kaliforniese kusdorpie Carmel is dit al in 1975 verbied (moontlik omdat Clint Eastwood daar woon en hy gewoonlik eers skiet en dan vrae vra . . .).

In ’n hofsaak daar het ene Diane Wolfberg voor ’n hof bewys – in drie proeflopies – dat sy met ’n gewone hark blare vinniger, deegliker en stiller kan opgaar as iemand met ’n blaarblaser.

Ander aktiviste het die Quiet Mark geskep, amper soos ons Buro vir Standaarde, om stiller blaarblasers te waarmerk, tipies dié met rustiger vierslag- of elektriese enjintjies.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het selfs ’n kategorie geskep vir nadelige, langdurige, steurende geraasbesoedeling. Dit word uitgedruk as dB(A) – nie die desibels opsigself nie, maar hoe jou ore veral skriller klanke ervaar.

Die WGO klassifiseer enigiets bo 75 dB(A) as ’n “toenemend onaanvaarbare risiko”. Volgens hul indeks trotseer ’n blaarblaser-operateur 100 dB(A), tien keer soveel as met ’n grassnyer se dieper dreuning.

Op ’n afstand van tien meter teister ’n blaarblaser die buurman met 75 dB(A), omtrent ewe veel as padgeraas op dieselfde afstand.

Ek troos my aan een ding. Wanneer iemand sy blaarblaser weggepak het en terugstap huis toe, sal die eerste klompie nuwe herfsblare reeds weer op die grasperk geval het. Een ding is seker, Moeder Natuur kolf laaste.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Geraas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.