Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koevertjies vol vrot melk en geldjies vir kos

Toe ek ses jaar oud was toe trek ons Stofkraal toe van Kliprand af. Namakwaland toe. Met die donkiekar. Toe gaan ek skool toe op Molsvlei.

Oorle pa het op plase gewerk, van plaas na plaas na plaas. Skaap. Bokke.

Dana Snyman

Ons is van die Boesmanland se Diergaardts. Oorle oupa was blind. Toe sê oorle pa: “Magrieta, jy sal moet loop werk soek.” Toe is ek mos Kleinzee toe. Toe maak ek mos maar mense se huise skoon. Toe is ek 16 jaar oud.

Later toe werk ek by die myn, Alexkor, in die menasie. Ook skoonmaakwerk. Toe is daar De Langer-mense wat sê kom saam met ons Johannesburg toe. Kom loop werk vir ons in Johannesburg. Skoonmaak. Kook. Was en stryk. Blanke mense.

Johannesburg was te lawaaierig vir my, toe sterwe oorle pa mos ook. Ek is ’n mens wat hou van stilte. Toe is ek terug Stofkraal toe, met die bus tot in die Kaap. Daarvanaf met die trein tot op Bitterfontein.

Toe loop werk ek op Optel. Dis ook so ’n mynplek soos Alexkor. Dis waar ek vir Dirk, my man, ge-ontmoet het. Toe raak ek mos swanger met my oudste seunskind. Sydney. Toe werk ek tot op sewe maande, toe is ek terug Stofkraal toe, toe is Sydney gebore. Toe hy drie maande oud is, toe los ek hom by my ma en gaan werk op Springbok. ’n Mens is hartseer, jy wil by jou kind wees, maar oorle pa het geglo ek moet gaan werk.

’n Mens is ’n onrustige ding. Jy werk en jy werk by iemand, en dan trek hulle weer iewers anders heen, dan sit jy maar weer sonder werk. Dan moet jy weer rondgaan en vra: Het jy nie vir my werk nie, mevrou? Het jy nie vir my werk nie, meneer?

Van Springbok af is ek Garies toe. Toe werk ek by Adderjan Nieuwoudt.

Van Springbok af is ek Garies toe. Toe werk ek by Adderjan Nieuwoudt. My suster het vir hom op die plaas gewerk, en toe hy met die kubusse begin toe loop werk ek vir Adderjan. Ek staan en kry nou nog daai stink ruik. Adderjan het mos so ’n plek op Garies gehad, dan laat raak ons die melk vrot in glase, dan skep ons daai vrot van die melk af, dan sit ons daai stink besigheid in koevertjies.

Baie van ons Stofkraal-mense het toe vir Adderjan loop werk op Garies. Toe lyk daai Garies soos Johannesburg van die mense en karre. Maar toe werk daai kubusse nie uit nie, toe loop werk ek op die plase. Lepelsfontein se kant toe. Anderkant Rietpoort so af.

Hoeveel plekke ek al gewerk het, kan ek nie vir jou sê nie. Ver meer as 20 seker. Dertig. Toe ek met Rosa en Charlotte swanger was, het ek tot op agt maande gewerk. Waar sal die geld anders vandaan kom?

Hoe lank is ek nou al by jou hier op Jacobsbaai? Agt jaar?

Elke maand stuur ek geld terug Stofkraal toe. My man werk ook mos nie meer nie. Ek laat hulle almal eet. Dis hoe die lewe is.

En eintlik is ek ’n rustige mens wat by my eie huis wil wees en net sorg dat my eie huis skoon is. In November word ek 60. Ek weet nie of daai dag ooit gaan kom nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.