Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kom Ace se gesig in dié rubriek se logo?

“Die hoofstroommedia skram daarvan weg om die moontlikheid te belig dat Ace Magashule president kan word. En dit is ’n fout om te ontleed dat hy verswak is, hy is moontlik juis op sy sterkste nou,” skryf die politieke ontleder Richard Poplak onlangs in Daily Maverick.

Barnard Beukman

Sy kommentaar kom in ’n tyd wat die poppe letterlik soos lanklaas in die ANC begin dans het. En soos in vele politieke bewegings gaan dit alweer oor ’n magstryd. Maar in dié geval bepaald oor die staatskapers, wat benoude spronge begin doen soos die nasionale vervolgingsgesag (NVG) stadig maar seker die net al hoe stywer span.

Die Ace Magashule/Jacob Zuma­-kamp gaan by die dag al hoe meer roekeloos en uitdagender word. Hulle veg om oorlewing en letterlik om uit die tronk te bly. Eerste prys is om weer beheer oor die ANC en die magshefbome van die staat te kry. Daarvoor moet hulle pres. Cyril Ramaphosa probeer ontsetel.

Die taktiek is maar dieselfde as toe oudpres. Thabo Mbeki Zuma­ as sy adjunkpresident in die pad gesteek het. Zuma het die vrye tyd benut om deur die ANC se grondvlakstrukture te beweeg. Dit was ook nie te moeilik om ’n toenemend ongewilde Mbeki te ondermyn nie.

Hulle gaan als moontlik doen om die ANC intern te ontwrig en Ramaphosa in ’n staat van interne beleg te kry. Selfs in die Ramaphosa-kamp is die verwagting dat ’n mosie van wantroue iewers kan uitslaan. Die aanslag gaan nie binne die grense van “Queensberry rules” bly nie.

Hopelik het diegene wat meen Ramaphosa is tans die grootste probleem in die land, die afgelope week die lokprent gesien van wat op ons wag as die ander klomp weer oorneem. Van die diepkele in die senior kern van Ramaphosa se kring hou vol hy is besig om deur te trek. Sommige van hulle is self gefrustreerd met sy taktiek, wat nou al die “te-lang-pad” genoem word.

Maar as staatshoof en as ANC-president meen hulle hy moet die deeglike legalistiese pad loop en elke skuiwergat met elke tree toemaak. Hulle meen ook waar dit saak maak, het hy die nodige meerderheid. Ook vir sy tweede termyn. Ramaphosa se volgehoue gewildheid by die kiesers maak hom ook ’n bate in beroepspolitici se oë.

Die vraag is natuurlik net: Gaan ’n uiteindelike oorwinning betyds kom en sal hy bevry wees om te doen wat nodig is om die land te red?

Of gaan dit ’n steriele bewind wees wat vasgeknoop is in onuitvoerbare kompromie? En gaan hy ekonomiese groei najaag of verdere dreinering van die staatskas onder die vaandel van swart bemagtiging?

Wat ook interessant is, is dat hy nie ’n vredesduif na Nkandla gestuur het nie, maar een van sy binnekringvalke, en spesifiek Bheki Cele, minister van polisie – wat ook sterk vir hom in KwaZulu-Natal vir die presidentskap georganiseer het. Tot dusver het Ramaphosa se akkommoderende houding teenoor Zuma en kie hom net verdere ondermyning op die hals gehaal. Cele is ongetwyfeld met ’n sterk boodskap Nkandla toe.

Intussen is dit juis die nodige krag van die regsprosesse wat onstuimigheid bring en dit gaan Suid-Afrikaners se geduld toets.

Waaroor daar geen twyfel is nie: As die antwoord op die vraag in die rubriek se opskrif “ja” is, is Pieter-Louis Myburgh se Gangster State voltrek.

Die nuut versterkte NVG deur Ramaphosa begin nou eers opwarm. En die betroubare regbank is lank reeds opgewarm. Moontlik doen hulle tog wat die ANC skynbaar nie kan of wil doen nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.