Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kom ons hoop Cyril sien die saak ook só

Een swaeltjie maak geen somer nie, maar Cyril Ramaphosa se verkiesing is om – soos politici graag sê wanneer hulle huiwerig is om standpunt in te neem – “versigtig optimisties” te wees oor die toekoms van Suid-Afrika onder sy leiding.

Wat moed gee, is dat hy nie net ’n sakeman en bedrewe politieke strateeg is nie (as die ANC se destydse hoofonderhandelaar het hy die heengegane Nasionale Party se Roelf Meyer, Dawie de Villiers en Leon Wessels só ore aangesit dat hulle nóú nog nie weet of hulle kom of gaan nie), maar ook ’n suksesvolle kommersiële wildboer met ’n dik tjekboek.

Daarmee volg hy in die spore van ’n lang lys Afrikaner- politieke leiers wat ook suksesvolle boere was.

Johan van Wyk

Dis ’n eervolle beroep wat karakter vereis. Maar nie ’n maklike een nie. Wat is die definisie van ’n boer? Hoe kwalifiseer jy om een genoem te kan word?

Dis nie net vir spot nie dat dit iemand is wat met ’n bank se geld op die Landbank se grond vir die koöperasie boer.

Gelukkig help humor boere om kop bo water te hou. Al is dit soms ’n lag met ’n traan.

In ’n humoristiese boekie van 1928, Two Innocents on a Natal Farm, vertel die skrywer, Walter Hewetson, die fiktiewe verhaal van Bill en sy vrou, Evangelina, se “trials and tribulations” op ’n plaas naby Durban.

Bill probeer baie hard, maar dit bly ’n gesukkel. Wanneer Evangelina hom ná nóg ’n terugslag verwyt, “and you call yourself a farmer!”, kap hy terug: “I am a farmer. Don’t I subscribe to the Natal Farmer? Do I not own a farm? Have not several of my cattle actually died on my own land? Am I not losing money over every transaction? What more do you want? Of course I am a farmer!”

Verplaas dit na die hede en Bill kan se: “Ek is ’n boer. Is ek nie ’n intekenaar op Landbou­-weekblad nie? Verloor ek nie gereeld geld op Safex nie? Word daar nie by my vee gesteel en op my grond geplak nie? Ly ek nie periodiek onder uitmergelende droogtes nie?”

Hy kan ook byvoeg: “Is ek nie uitgelewer aan die giere en grille van die vrye mark nie? Is ek nie die slagoffer van radikale ekonomiese transformasie, grondeise en allerlei drakoniese arbeidswette nie? Ly ek nie onder die onbeholpenheid van die minister van landbou nie? Loop ek nie die gevaar om aangerand en ’n slagoffer van ’n plaasmoord te word nie? Wat meer wil jy hê? Natuurlik is ek ’n boer!”

Al sou hy dit nie hardop sê nie, hoop ek van harte dis ook Ramaphosa se definisie van ’n boer. As jy wil weet hoekom, stap deur supermarkte gelaai met wonderlike kos. Nie meer goedkoop nie, nogtans.

Raai vir wie moet ons dankie sê.

Meer oor:  Cyril ­Ramaphosa  |  Johan Van Wyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.