Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kom ons praat oor ons seuns én ons as pa’s
Charles Smith

Dit voel of iets in jou ontplof as jy ’n foto sien van ’n jong man wat ’n selfie neem by ’n toneel waar iemand pas deur ’n trein raakgery is.

Is dit wat ons samelewing geword het?

Gevoelloos. Só selfbehep en narcisties. Is dit die soort kinders wat ons grootmaak? Klein Donald Trumps wat altyd reg is, wat vere voel vir ander se pyn.

Dit is dié vraag wat my nog slegter laat voel as die foto self. Want dit is waar. Kyk om jou. Luister. Kyk in die oë van kinders wat afgeskeep, geboelie óf bederf word. Kyk na al die jong brekers, charmers, laventelhane en spiertiere. En kyk na wat ons samelewing geword het.

Dan besef jy: Ons seuns is in die moeilikheid. En dit is óns skuld. Dié drie name sê baie oor die krisis: Don, Henri, Xander. Maar dit sê nog nie naastenby alles nie. Min kinders met probleme gaan oor tot moord of misdaad.

Ons seuns is in die moeilikheid. En dit is óns skuld.

Dink aan jou eie seun. Jou eie kinders se skool. Doodnormale seuns uit gegoede huise. Wat alles het. Maar kyk hoe hulle vroue behandel (onthou die Spur-voorval), seuns wat op 15 meisies links en regs verneuk (en die pa’s wat lag daaroor). Kyk hoe hulle armes hanteer, anderskleuriges, minderes, soos kelners en winkel-assistente. Dis beslis nie net wit of Afrikaanse seuns nie. Engelse kinders se ingebore meer-derwaardigheid is ’n groot pyn.

’n Ma vertel hoe geskok sy was toe sy haar een seun vir die broer hoor sê: “ ’n Vrou se plek is in die kombuis . . .” Hulle is albei nog op skool.

Dit is ook tyd om te praat oor die hele superskoolkonsep – waar ryk kinders in superspanne leer om altyd beter te doen as ander mense, waar bevoorregting deel is van die kurrikulum en meerderwaardigheid en snobisme onder die kleurbaadjie van goeie maniere vernis word.

Dis moeilik om vandag ’n kind te wees. Die druk is ontsettend hoog.

Dis moeilik om vandag ’n kind te wees. Die druk is ontsettend hoog. Skole wil wen, ouers wil halfgodjies op Facebook uitstal. Dan kry jy bendes en dwelms in skole en wilde partytjies en dranknaweke. En boelies op WhatsApp.

En hulle moet alles kan hanteer.

En ons as pa’s wil hê hulle moet mans wees. Hulle moet jag, rugby speel en die mooiste meisies hê. Niemand sê dit is ook orraait om die beste boeke te lees of self te skryf, te sing en bloot te gaan stap in die natuur nie.

Etiese jag en biltong is deel van ons kultuur. Maar om die natuur te verwoes en leeus te slag vir bloedgeld is barbaars.

Geld en status het van ons monsters gemaak. Dis tyd om te praat oor ons seuns en waarheen hulle op pad is.

Ons moet sê: Meet ons aan ons seuns as hulle goeie en voorbeeldige mans word. Nie as ons die duurste huise en motors het nie.

Ek beplan pa-en-seun-kampe op ons familieplaas, Zeekoegat. Laat weet wie wil dit bywoon. Kom ons praat oor ons seuns. En ons as pa’s.

Daar is baie Stellas wat verhinder kan word.

* Charles Smith is Netwerk24 se nuushoof in die Vrystaat.

Meer oor:  Charles Smith  |  Seksisme  |  Seuns  |  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.