Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kom ons strek soos rankplante verbete na bo en reik son toe

Die meeste van ons het al beleef dat die lewe ons handrem optrek. Ons reaksies op hierdie soort uitdagings bly grootliks ons eie keuse, glo Sarie Marais-Nell.

Almal wat gehelp het om die ingang van Huis Vergenoegd in die Paarl met blomme te versier. Foto: LINDY KRIEK

Daardie jaar toe kanker my pa oorwin en my ma ’n weduwee geraak het, was ek kort duskant vyf. Agtergelaat op ’n Karooplaas; my ma sonder bestuurslisensie.

My oupa het kom uithelp, veral met ritte dorp toe.

Op een so ’n dag het Oupa hom aljimmers misgis met die plaasdriffie-pad Laingsburg toe.

Eers by terugskoue besef ek dat sy onvermoë om met die eerste probeerslag uit verskeie driffies uit te ry tot bo, dalk tekenend was van sy gemoedstoestand destyds; hartseer oor sy dogter se weduwee-lot tydens een van die grootste droogtes van daardie jare.

Op die agterste sitplek het ek en my broertjie daardie oggend op ons knieë gestaan, loerend na die stof wat die tweekleur-Opel opskop, toe ons besef hier’s fout. Want in stede van wegry van die groot rivierklippe doer onder, het die klippe telkens blitsvinnig nader gesnel.

“Klippe toe, klippe toe,” het ons in koortjie-styl gesing, tot die volwassenes ons stilgemaak het. Dis een ding om te sukkel met ’n kar wat teen opdraandes stoom verloor, maar om dit aanmekaar te hóór ook, verdubbel die spanning. Almal van ons het al sulke “klippe toe, klippe toe”-tye beleef; omstandighede wat ons hele intensie om met mening vorentoe te lewe, ruweg omvergooi.

Al het ons geen keuse in dié proses gehad nie.

Uit die geskiedenis, uit die Bybel en oorgelewerde verhale besef ons dat menige sterk persoon dikwels tog hierdie rotsagtige roetes oorwin. Al beleef elkeen van hulle ook vir ’n oomblik (of dalk veel langer) al die gevoelens van moedverloor se vlakte.

Dikwels vorm hierdie belewenis van wanhoop, verlorenheid en wisselende mates van selfbejammering uiteindelik die wegspringblokke vir ’n herstelde gees en ’n ysere wil om op te staan, hard te werk en bo uit te kom. Spreekwoordelike eelte en bloedblase ten spyt.

Ons almal ken oorlewingsverhale soos vertel ná oorloë of huishoudelike geweld, soos Jannie Mouton se En toe fire hulle my; die merkwaardige emosionele terugbons van mense soos Alison Botha en hoeveel vreugde ’n onbeplande laatlam dikwels bring.

Hoe die koronavirus-pandemie die mensdom tref, sal binnekort ’n hele klompie boeke en flieks meebring.

Verhale oor hoe eensaamheid, moedeloos- en geldloosheid die hoof gebied en vindingryk oorwin is, die onmag om nou ’n geliefde waardig te begrawe, vroue wat alleen kraam omdat die vader juis daardie dae in isolasie moet leef, jong mense gestrand in die buiteland omdat hulle nie betyds hul huise kon bereik voor alle terugvlugte afgestel is nie, mense in die vermaaklikheids- en gasvryheidsbedryf wat hul inkomste verloor; entrepreneurs wat juis finansiële afgronde moes hanteer toe die virus begin versprei.

Diegene wat van die hand na die tand leef en hul huidige Groot Niks. Ek leef in afwagting vir verhale oor emosionele veerkragtigheid; mense wat midde-in hierdie onsekere tyd kreatief planne maak, soos rankplante verbete na bo strek en son toe reik, nooit heeltemal moed verloor nie en vasbyt en deurdruk.

Ons geld en geleenthede kan dalk opraak, ons planne en moed mag net nooit heeltemal verdwyn nie. Juis hier lê ons keuse: Die ingesteldheid waarmee ons hierdie onbeplande lewensfase hanteer. Gebruik ek die tyd van stiller leef om innerlik te groei en familiebande op te bou, of raak ek deel van die negatiewe persentasie van die bevolking – diegene wat bitterbek en droewig hul lot bekla, bittere voorspellings en valse feite die wêreld instuur en hul gesinslede se inperkingstyd met knorrige houdings beduiwel?

Anders as met die droogte, waar stedelinge soms meewarig raad uitdeel oor hoe om die droogte te bestuur (en daarmee bewys hulle weet nie presies hoe lyk die werklikhede daar waar die velskoen die aardkors tref nie), beleef elke aardbewoner tans die realiteite van hierdie pandemie. Dit troos om te weet dis nie die eerste keer dat so iets die aarde tref nie; dat die internet ons tans meer ingelig en in kontak met ons geliefdes hou.

Want met haar Christelike ingesteldheid en sorgsame geaardheid, kon my dapper ma ses kinders alleen grootmaak en ons almal (redelik) ordentlik die lewe instuur.

Maar skielik sit ons sonder ’n manier om ’n bejaarde prakties te ondersteun, of iemand wat in ’n ander dorp verjaar, lekker te bederf. (Help dit regtig om ’n blommefoto te stuur?)

Terwyl die aktiewes onder ons verlang na die vryheid om te gaan swem, draf of stap in die berge.

Ek waardeer mense wat internetskakels stuur sodat ons in ons pajamas oorsese museums en natuurparke kan besoek, ek koester dade van mense soos ’n Bolandse bloemiste wat ’n see van ongebruikte troublomme rondom Paarlse ouetehuispilare rangskik, dit omskep tot simbole van deernis.

My doel in dié uitdagende tydperk is dat ek só optree dat my kinders hopelik iets daaruit kan neem as ’n lewensles.

Want met haar Christelike ingesteldheid en sorgsame geaardheid, kon my dapper ma ses kinders alleen grootmaak en ons almal (redelik) ordentlik die lewe instuur.

Op haar laaste Kersdag het sy ons gemaan om altyd ’n lewensdroom te koester: “Want as jy nie meer ’n droom het nie, kan jy net sowel doodgaan.”

Amper soos ’n emosionele “klippe toe”-pad. Heelpad afdraand.

Meer oor:  Sarie Marais-Nell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.