Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kom skrywers, gee jul karakters bietjie meer kos

Ek is onbewus van enige navorsing oor kos in die Afrikaanse letterkunde.

Vreemd as jy dink wat wél navorsingswaardig is. Veral studies oor hersamestelling van die kanon; “omhelsing” van transformasie en bevryding van “verstikkende en beperkende ideologieë”.

As ek jaarliks die boeke vir die Akademiepryse deurlees (soms deurworstel), val dit my op hoeveel romankarakters skynbaar leef op lug. Lang, uitgesponne beskrywings is volop; dikwels in welige taal en vol van die kleinste besonderhede. Maar selde word iets vertel van kos.

Dit lyk asof romankarakters deesdae nooit eet nie! Trouens, verskeie van die hooffigure dóén ook maar min. Wat my herinner aan ’n kollega wat jare her kunswerke in opdrag van die Universiteit van die Vrystaat op die Vrystaatse platteland moes aankoop. En sowaar op ’n plaas ’n mooi Claerhout raakloop én koop.

Op die belangstellende boer se vraag oor wat sy werk nou eintlik was, antwoord hy ietwat neerbuigend: “hoogleraar in die algemene literatuurwetenskap”. Waarop die boer vir ’n wyle swyg, toe tuur in die verte en later sydelings opmerk: “Tja, dit laat my dink aan my eie seun. Hy doen ook maar fokôl!”

Deesdae se helde is nie veel beter nie. Veel meer as om te sit en tob; eindelose eksistensiële vrae te vra; filosofie uit te lê en redelik doelloos rond te dwaal, vermag hulle ook nie.

Van Wyk Louw het hom in Vernuwing in die prosa al opgewerk oor Etienne Leroux se werk “erg los van elke moontlike ekonomiese groeigrond” is waar niemand werk of hulle bemoei “met die stoflike nie”.

Deesdae se helde is nie veel beter nie. Veel meer as om te sit en tob; eindelose eksistensiële vrae te vra; filosofie uit te lê en redelik doelloos rond te dwaal, vermag hulle ook nie.

Maar ’n mens moet redelik wees: Dit gaan om anti-helde; die tipiese hooffiguur van die moderne (en post-moderne) letterkunde. Diep knape wie se manlikheid verdag is, se huwelike meestal op die rotse is, ’n moederbinding het (en dalk daarom dikwels gryp na fopspene in die vorm van alkohol) en vir wie “werk” of “doen” onbetaamlike vierletterwoorde is. In elk geval selde ’n brood sny of vleis braai.

Maar jy kan nie alle skrywers oor dieselfde kam skeer nie.

J.C. Steyn se werk is vol van kosverwysings: grondboontjiebottertoebroodjies in sy jeug; broodbak deur sy ma, later in Bloemfontein en ’n beskrywing van padkos wat jou dadelik laat soek na jou Stanley-fles en Tupperware-bakke. Dalk die mooiste is sy weergawe van M.E.R. se verrukking met smôrrebrôd, brood met beleg.

Eben Venter skryf dikwels oor kos en sy resep vir ’n skaapboud in Foxtrot van die vleiseters is navolgingswaardig; ook Schalk Schoombie se gereg van maalvleis, rosyne, olywe en komyn verskyn dikwels op ons tafel.

T.T. Cloete sê dat Leroux in Isis, Isis, Isis behep is met eet en drink: Dit “gee soos sien en vertel vir die knolskrywer bestaansekerheid.”

Dalk moet skrywers hul moderne (anti)helde meer laat eet, drink en kosmaak. Dan sal hulle straks minder dink en meer doen.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Boeke  |  Skrywers  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.