Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Komedie geen grap nie

Komedie is geen grap nie – dis ’n ernstige saak, het Sarel van der Walt Donderdagmiddag op Netwerk24 se gespreksreeks by die Innibos-kunstefees in Mbombela gehoor.

“Vir my is standup-komedie ’n ernstige saak. Dit is nie iets wat ek ligtelik opneem nie. Baie mense beskou standup-komedie as s****t praat op die verhoog.”

Só sê die komediant Schalk Bezuidenhout, wat saam met die reisskrywer Erns Grundling deelgeneem het aan die gesprek “Afrikaanse komedie: Lag-Lag die toekoms in”.

Erns Grundling (regs) Donderdag op die Netwerk24-gespreksreeks by die Innibos-kunstefees aan die woord. Langs hom is die komediant Schalk Bezuidenhout en links Ivor Price, die gespreksleier. Foto: Sarel van der Walt

Ivor Price, ’n bekende op TV, was die gespreksleier.

“Ek het by Trevor Noah geleer standup-komedie is ’n kuns. Dis ’n fyn kuns om mense te laat lag,” sê Bezuidenhout.

“Vir my is dit belangrik dat mense dié vorm van komedie moet hanteer asof dit ’n ernstige verhoogstuk is.

“Daarom is dit ook vir my belangrik dat standup-komedie op ’n verhoog gehou word. Om dit op ’n stuk gras in die biertuin te doen, werk nie.

“As die omgewing nie reg is nie, gaan jy as standup-komediant sleg lyk,” sê hy.

“Daarom, wanneer mense my bespreek vir ’n vertoning, sê ek vir hulle hulle moet dit hanteer asof dit ’n ernstige teaterstuk is waarin Sandra Prinsloo en Marius Weyers speel.

“Daar moet ’n verhoog wees en daar moet rye stoele wees, die gehoor moet in die donker sit en jy in die lig op die verhoog. Die klank moet ook goed wees,” sê Bezuidenhout.

“As dit nie die regte omgewing is nie, maak dit nie saak hoe goed jou materiaal is of hoe ’n goeie komediant jy is nie, jy gaan sleg lyk.”

Bezuidenhout en Grundling se boek Truitjie roer my nie het onlangs verskyn. Hulle tree ook saam met Bibi Slippers in die KykNet-program “Die Ware Naarheid” op.

Grundling sê Suid-Afrikaanse komediante het die laaste paar jaar baie hard gewerk om skerpskertsery in ’n teater-konteks te ontwikkel.

Bezuidenhout sê dit het eenvoudiger geword as in die dae toe Pieter-Dirk Uys en Casper de Vries die enigste werklike skerpskertsers in die land was.

“Destyds was dit half kabaret. Hulle het karakters vertolk. Dit is nie meer so nie. Deesdae, soos met Trevor Noah, is dit net die komediant en sy mikrofoon.

“Ek streef ook om soos hy te wees. Jy kan wondere verrig as dit net jy en die mikrofoon is,” sê Bezuidenhout.

Hy het al verskeie kere in die voorprogram vir vertonings van Noah, die wêreldbekende Suid-Afrikaanse komediant, opgetree.

Bezuidenhout praat met die grootste respek van De Vries.

“Baie keer as ons saam eet, wonder ek of Casper weet hoe ’n groot invloed hy op my gehad het.”

Wat inspireer hom?

“Ander komediante. Daar is geen beter motivering as ’n ander komediant se vertonings by ’n sekere teater uitverkoop is en joune nie,” sê Bezuidenhout, wat een van min skerpskertsers is wat oor kleurgrense heen gewild is.

“Baie van die ander komediante is my helde, maar ek weet nie of hulle dit noodwendig weet nie!”

SA het komedie nodig

Grundling sê Suid-Afrika met al sy probleme het komedie en humor nodig.

Schalk Bezuidenhout lees voor uit sy en Erns Grundlingh se nuwe boek. Foto: Sarel van der Walt

“Humor en komedie het ’n baie belangrike rol in ons samelewing, nie net om mense uit te daag nie, maar ook om hulle te laat lag.

“Daar is baie om te sê vir humor in hierdie moeilike omstandighede waarin ons ons bevind en op verskillende maniere beleef en ervaar.

“Hopelik sal komediante aanhou om knoppies te druk waar dit nodig is.”

Grundling sê hy is bly om te sien daar is ’n herlewing in skerpskertsery in die land.

“Dit is ook ’n genre wat wêreldwyd al hoe gewilder word. Dit is ’n opwindende tyd vir komedie en humor,” sê hy.

Standup-komedie is ’n onderskatte kunsvorm.”

Is dit platvoers?

“Jy moet verstaan ’n komediant is nie net daar om op die verhoog die een of ander stelling te maak nie.”

Hy stem ook nie saam dat dit platvloers is nie.

“Nou die dag het iemand Schalk gevra wat vir hom taboe is. Dit het my aan die dink gesit.

“Hy het gesê dis ’n moeilike vraag, want wat vir een komediant taboe is, is nie noodwendig vir ’n ander een taboe nie,” sê Grundling.

“Die een se doel is dalk om mense rêrig te skok. Schalk se komedie is nie daarop gemik om mense doelbewus te skok en ’n stelling te maak nie.

“Miskien geld dieselfde vir hoe ’n gehoor kyk na watter materiaal ’n komediant gebruik.

“Die een se platvloers is vir hulle dalk hoër of laer as ’n ander komediant s’n,” sê Grundling.

Komedie en vloekery

“As ’n komediant deurentyd vloek, raak dit vir my vervelig en verloor ek belangstelling.

“Dit gaan vir my oor watter temas aangeraak word en hoe slim dit gedoen word.

“Ek self hou baie meer van ’n slim stukkie woordspel,” sê Grundling.

“Die woordspel in standup-komedie is baie belangrik, want daar is interessante dinamika tussen die komediant en sy gehoor.”

Vir hom is “relevante komedie” belangrik.

Gehore kan verskil

Erns Grundling Donderdagmiddag by Innibos in Mbombela. Foto: Sarel van der Walt

“Ek dink nie daar is ’n ander genre in teater of ’n ander kunsvorm waar jy so onmiddellik terugvoer kry oor of iets werk of nie soos in standup-komedie nie.

“Hulle praat van you die on stage wanneer niemand vir jou lag nie, net na jou staar of uitstap,” sê Grundling.

“Dit is amper soos met ’n tennisspeler op Wimbledon. As Rafael Nadal die bal teen die net vasslaan, is hy onmiddellik de moer in. As hy ’n wenhou slaan, vier hy dit.

“In standup-komedie kan dit baie vinnig stil raak en jy voel dit dadelik aan.

“In een dorp kan dit suksesvol wees en die volgende aand baie moeilik. Ons het dit al met Schalk se vertonings ervaar.

“Een aand is dit asof die dak lig, die ander aand moet Schalk baie harder werk om reaksie uit die gehoor te kry.”

Om altyd suksesvol te wees, is baie moeilik, sê Grundling.

Bezuidenhout sê dis moeiliker om op te tree in vertonings waar jy net een van verskeie komediante is omdat die gehoor nie net daar is om jou in aksie te sien nie.

“Wanneer jy ’n eenman-vertoning hou en die verhouding tussen jou en die gehoor is nie wat dit moet wees nie, kan jy dit korter maak, want daar is geen nut daarin om jouself en die gehoor verder te straf nie.

“Dit is waarskynlik beter vir jou én die gehoor,” sê hy met ’n glimlag.

Afrikaanse gehore

“Ek dink nie Suid-Afrikaanse gehore verskil van mekaar nie,” sê Bezuidenhout. “Hulle ervaar iets is snaaks of nie.”

Sy ervaring is dat Engelse en swart gehore lag vir dieselfde grappe wat hy in Afrikaans vertel, al verskil hul verwysingsraamwerk.

Vertel komediante die heeldag grappe?

Grundling sê vir baie mense was Charlie Chaplin ’n klassieke voorbeeld van ’n komediant.

“As jy gaan oplees oor hom, kom jy agter hy was eintlik ’n baie ernstige man.”

Meer oor:  Schalk Bezuidenhout  |  Innibos  |  Gespreksreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.