Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kommentaar se kloutjie pas nie by artikel se oor
Gerhard van Huyssteen

Gedurende die afgelope week skryf Andries Bezuidenhout op Netwerk24 ’n artikel oor sy ervaring tydens die Week van de Afrikaanse Roman in België en Nederland.

Pragtige foto’s daarby, wat ’n mens laat verlang na Vlaamse friet (wat jy moeilik slaptjips kan noem) en Hollandse bitterballen (ronde kroketjies wat jy saam met bier geniet).

So misplaas soos wat my verlange na Lae Landse lekkernye is na aanleiding van Andries se artikel, so misplaas is die kommentaar onderaan sy artikel op Netwerk24. Of miskien lê die fout by my?

Dalk moet ek gaan vir leeslesse, want ek kan nie die kloutjie van die kommentaar by die oor van die artikel bring nie.

Ek interpreteer die artikel as ’n skets van hoe die Afrikaanse letterkunde op eie pote staan in ’n wêreldliteratuurkonteks; hoe Afrikaans- en Nederlandstaliges tóg mekaar se letterkundes kan lees; hoe poësie in die Lae Lande onderhou en ondersteun word.

En dan volg die kommentaar onderaan die artikel . . .

Dit gaan oor “hoe die Engelse die Afrikaners verdruk en uitgemoor het in die konsentrasiekampe”; hoe onbelangrik die “klomp Kase” se goed­gesindheid is, “net so min as wat dit die Boere gedurende die ABO gehelp het”’; dat die “klomp Kaaskoppe . . . ook baie aangejaag het soos baie ander kolonialiste”.

Die artikel word opgesom as “Boere bashing [sic] met ’n klomp kaaskoppe wat ook dink die Afrikaners is ’n sleg klomp”. En les bes: “In goeie Afrikaans aan daai groep kies ’n vinger” (sic – of dalk weet ek ook nie meer wat “goeie Afrikaans” is nie . . .).

My kloutjies is ver weg van my ore. Ek sit ’n ander bril op, lees weer. Steeds geen verbande nie, niks nie.

My kloutjies is ver weg van my ore. Ek sit ’n ander bril op, lees weer. Steeds geen verbande nie, niks nie.

Ek bel Media24 en vra of die kommentaar van ’n ander artikel dalk onderaan Andries se artikel verskyn het. “Nee,” verseker hulle my, “alles is klopdisselboom.”

Toe besef ek die stemdikmakers het waarskynlik net die misleidende kop wat die subredakteur gekies het (“Hier is Afrikaans en sy digkuns nog ’n sondebok”), gelees.

As jy kommentaar op ’n artikel wil lewer, moet jy warempel die artikel behoorlik lees – al is dit net ter wille van die kloutjies en die ore.

Die deuntjie wat wit bitterballe en swart galbrakers sing, is een en dieselfde: Kom ons leef in die verlede, want ons is te bang vir die toekoms.

So hard soos wat swart agitators “the legacy of apartheid” skree, so hard skree wit woedenaars “die Ingelse en konsentrasiekampe”.

Hoe kan ons van swart mense verwag om “aan te beweeg” en te vergeet van apartheid, as ons self nog nie die gebeure van meer as honderd jaar gelede kan vergewe en vergeet nie?

Dis vinkel en koljander, die een beweeg so min aan soos die ander. Daar blyk net een deuntjie te wees om te tokkel, want die ramkietjie het net een snaar. Maak nie saak of die artikel oor ’n bootreis, ’n Sondagmaal of ’n poësiesentrum in België handel nie, ons het ’n onvergewensgesinde verknogtheid aan die verontregting van die verlede.

Ek sug, klik Netwerk24 se webblad weg en onderneem – vir die soveelste maal – om nie weer kommentaar onderaan webartikels te lees nie.

My kloutjies én my ore pyn.

Meer oor:  Menings  |  Taal  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.