Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kommer oor Afrikaans

Is dit nou regtig die begin van die einde vir Afrikaans? Dié vraag het verskeie, meestal ooremosionele antwoorde. Amelia Burger het met ’n paar kenners gesels.

Suid-Afrika is vol swartgalliges wat glo als is aan’t ondergaan – Afrikaans inkluis.

Daar’s ook heelwat optimiste wat sê nee wat, die taal was nog nooit so lewend nie. Afrikaans dans dan energiek en kreatief op verhoë, in boekwinkels en flieks, op TV, radio en die internet.

Ons kook, sing, skryf, lees en hou (veral) fees in Afrikaans. Laat ons dus nie kleinlik wees en oor Afrikaans aan universiteite, skole en dies meer baklei nie.

Sulke optimisme is prysenswaardig, maar ook ’n bietjie naïef. “Ja, dit gaan goed met Afrikaans op kultuurgebied, maar daar is faktore wat dinge vertroebel,” sê prof. Anne-Marie Beukes van die departement linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg.

“Ek dink byvoorbeeld aan Afrikaans in die openbare domein, waar dit minder as ’n spiltaal (lingua franca) gebruik word; die onderwys, waar Afrikaans kwyn; en die godsdiensdomein, waar Afrikaanse mense toenemend die tradisionele kerke verlaat waar Afrikaans die verstektaal is of was.”

Dis een van die redes wat ’n taal veld laat verloor – wanneer dit uit sekere domeine geskuif word en daardie funksies verloor.

Dis een van die redes wat ’n taal veld laat verloor – wanneer dit uit sekere domeine geskuif word en daardie funksies verloor.

’n Ander rede is wanneer verskillende generasies se sprekers ál minder word en die taal al hoe minder suksesvol na volgende generasies oorgedra word.

‘Ernstig bedreig’

Daar is om en by 7 000 “herkende” tale in die wêreld, aldus die geloofwaardige Ethnologue (Languages of the world) se 21ste uitgawe in Februarie vanjaar.

Sowat ’n derde daarvan word “ernstig bedreig” en het minder as 1 000 sprekers oor. Altesame 22% van alle tale word as “in gevaar” geklassifiseer, wat beteken ouers kan dit nog praat en die taal kan dus nog oorleef. Maar 13% van alle tale is “sterwend”, wat beteken dit kan nie meer suksesvol aan kinders oorgedra word nie.

Nog nooit het so baie tale so vinnig uitgesterf nie – drie tot vier per jaar, en dié syfer tel spoed op.

Nog nooit het so baie tale so vinnig uitgesterf nie – drie tot vier per jaar, en dié syfer tel spoed op.

Suid-Afrika het by die 30 lewende tale (“immigrantetale” soos Shona, Mandaryns en Duits uitgesluit), waarvan 11 amptelike status geniet en redelik goed gehandhaaf word.

Knap oor die 7 miljoen mense (uit sowat 56 miljoen) in Suid-Afrika is Afrikaanssprekend, met sowat 10 miljoen wêreldwyd wat dit as tweede taal praat.

Uit ’n wêreldperspektief is dit glad nie sleg nie, want slegs 93 tale (1,3%) in die wêreld het meer as 10 miljoen sprekers.

Taalregte

Afrikaans lyk dus relatief lewenskragtig en die taal is ondanks die taalverskuiwing wat wel in veral sekere stedelike gebiede plaasvind, nie noodwendig op moedverloor se vlakte nie.

“Ek is versigtig om aan te voer dat die verlies van sekere funksies noodwendig die einde van ’n taal op langer termyn beteken. Ek vermoed dat samelewings in ’n globaliserende wêreld moontlik ander funksievereistes aan tale gaan begin stel,” sê Beukes.

Sy wil dus nié die doodsklok vir Afrikaans begin lui nie en glo die taalgemeenskap gaan meer dinamies word soos wat nuwe eise gestel word.

My hart is egter seer oor die verlies van Afrikaans as universiteitstaal.

“My hart is egter seer oor die verlies van Afrikaans as universiteitstaal. Ek wil mense aanmoedig om pogings om ’n vaste plek vir Afrikaans aan universiteite te verseker met raad en daad en met rand en sent te ondersteun.”

“Sommige taalorganisasies fokus op taalregte en probeer om kwessies soos Afrikaans as universiteitstaal deur die howe te bestendig.

“Dis ’n aanslag wat noodwendig konflik verdiep, maar, soos in die geval van Gelyke Kanse se saak teen die Universiteit Stellenbosch, ook tot belangrike uitsprake kan lei,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Waardevolle hulpbron

Organisasies soos die ATR, die ATKV en ander fokus weer meer op die bemarking van Afrikaans as ’n waardevolle hulpbron.

Steenkamp sê baie werk is nodig om die ekonomiese en kulturele waarde van taal by ouers, studente en kinders tuis te bring.

“Dit vind plaas deur seminare, werksessies en taalvoorligting aan ouers en ander rolspelers soos skoolhoofde, onderwysers, leraars en sielkundiges. Sonder hierdie insigte stuur ouers nie hul kinders na Afrikaanse skole nie en maak jong mense nie aanspraak op Afrikaans as onderrigtaal nie.”

Hy is daarvan oortuig dat die samewerking tussen taal- en kultuurorganisasies reeds ’n beduidende verskil gemaak het.

“Samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes het verbeter en mense wat voorheen afsydig teenoor die taal gestaan het, maak toenemend aanspraak op mede-eienaarskap daarvan.

Mense se gedeelde belang in die behoud van moedertaalonderwys, veral op skoolvlak, is dalk die sterkste samebindende faktor.

“Die boodskap dat Afrikaans ook die taal van bevryding is en aan almal behoort wat dit praat, is besig om deur te dring.”

Taalgeskiedenis

Prof. Hein Willemse, tot onlangs hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria en die eerste be­kleër van die Leerstoel Zuid-Afrika aan die Universiteit van Gent in België, sê in ’n onlangse onderhoud dat Afrikaanssprekendes opnuut na hul literêre geskiedskrywing en taalgeskiedenis moet kyk.

“Die toeëiening van Afrikaans deur generasies Afrikanernasionaliste en apartheid het oneindige skade aangerig. Ons moet ’n nuwe verbintenis met mede-Suid-Afrikaners beding – een wat duidelik sê: Daar is ’n ánder geskiedenis.

“Dit is ’n geskiedenis wat verbind kan word met teenkolonialisasie, met bemagtiging, met anti-apartheidsaktivisme, met inklusiwiteit, met die opbou van menswaardigheid vir alle Suid-Afrikaners,” sê Willemse.

Ons moet aanhou om samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes te verbeter.

“Ons moet aanhou om samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes te verbeter en die verrykende variëteite van die taal te vier,” sê Steenkamp.

“Diegene wat vir ander probeer voorskryf hoe om te praat, dryf wigte tussen mense in en ondermyn die taal. Samewerking met die sprekers van die ander inheemse tale is ewe belangrik.

“Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie en ons het mekaar nodig.”

Beukes stem saam: “Ons het voortgesette bewussynsprojekte oor en in Afrikaans nodig.

“Ons moet die swartgalligheid oor Afrikaans wat knorpotte en bitterbekke versprei, en waaraan die Afrikaanse media gans te veel blootstelling gee, doodpraat met realistiese, geldige en konstruktiewe gesprekke. En dit kos helaas geld, tyd en toewyding.”

  • Burger is ’n kommunikasiespesialis.
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.