Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Komorbiditeite: Dit is tyd vir ’n nuwe benadering
Michael le Cordeur

Ek was skaars 21 toe ek my eerste onderwyspos aanvaar het. Ek is by die diepkant ingegooi: Afrikaans vir gr. 10 en 11. Die volgende jaar is die matrieks aan my toevertrou – van hulle was ouer as ek!

Van die skole tóé het so baie jongmanne in hul personeel gehad dat ons elkeen ’n rugbyspan in die veld kon stoot vir die jaarlikse derby. Maar dit was toe.

Deesdae is jong onderwysers so dun gesaai soos politici sonder ’n tenderkontrak. Noudat alle leerlinge teruggekeer het skool toe, ervaar ons ’n ernstige tekort aan onderwysers omdat nie almal weens onderliggende siektes kan terugkeer nie. Landwyd het sowat 22 000 onderwysers en in die Wes-Kaap sowat 2 700 onderwysers van die huis af gewerk.

Die algemene gevoel van die publiek oor opvoeders met komorbiditeite was onsimpatiek. Van die kommentare op sosiale media was “Leerkragte wat by die huis bly, moet nie salaris kry nie”, “Vervang onderwysers met komorbiditeite met mense wat regtig wil skoolhou”, en “Waarom kan onderwysers by die huis sit en elke maand ’n salaris ontvang, maar verpleegsters moet elke dag werk?” Daar was waarskynlik vele ander sulke soort uitsprake.

Die meeste aanmerkings getuig van onkunde en stereotipering. Ná 40 jaar waartydens ek onderwys van alle kante ervaar het (as onderwyser, adjunkhoof, skoolhoof, kringbestuurder en nou dosent), weet ek dat die oorgrote meerderheid onderwysers hul daaglikse brood met harde, eerlike werk verdien.

Covid-19 het ons oë oopgemaak vir die gebreke in ons skole. Een daarvan is dat onderwysers se gemiddelde ouderdom 47 is. In 2004 was dit 42.
Foto:

Ja, daar sal altyd diegene wees wat die stelsel uitbuit. Reeds hoor ons van onderwysers wat te siek is om skool te hou, maar aansoek doen om matriekvraestelle na te sien; wat meen skole is gevaarlike plekke terwyl hulle rondhang in besige winkelsentrums. Maar hulle is die uitsondering en sal hopelik, wel . . . ontmasker word.

Desondanks het ons ’n verantwoordelikheid om die tekortkominge in die onderwysstelsel aan te spreek. Dit is nou al verskeie kere gesê dat Covid-19 ons oë oopgemaak het vir die gebreke in ons skole. Een daarvan is dat onderwysers se gemiddelde ouderdom 47 is. In 2004 was dit 42.

Ons is dus ’n ouerwordende onderwyserskorps. Tot dusver kon ons dit hanteer, maar met baie onderwysers wat dalk uit vrees vir Covid-19 gaan uittree, moet die rooi ligte vir beheerliggame, onderwysdepartemente en onderwysvakbonde begin flikker.

Ek teken jaarliks talle visums van jong onderwysers wat oorsee ’n heenkome moet soek omdat hulle nie hier geholpe kan raak nie. Die gewildste bestemmings is China, Suid-Korea en Nieu-Seeland. Een van my oudstudente hou selfs skool in Madagaskar. Tog was jongmense goed genoeg om tot ons redding te kom toe talle onderwysers nie kon terugkeer nie.

Daar is nou geleentheid vir ’n nuwe benadering met die aanstelling van onderwysers. Beter loopbaanbeplanning is nodig sodat ervare onderwysers hul opvolgers kan oplei vir wanneer hulle die dag aftree. Die ideale personeel is een waar die ervaring van gesoute onderwysers gekomplementeer word met die vaardighede van die jonger geslag. Daar ís plek vir albei.

Dis ’n vermorsing van staatshulpbronne om onderwysers op te lei net om vir kinders in die Ooste te gaan Engels leer. Ons benodig hulle hier.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Aanstellings  |  Onderwys  |  Onderwysers  |  Ouderdom  |  Komorbiditeite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.