Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Komplekse woorde bewaar taalrelikwieë
Jana Luther

Wat het die volgende woorde gemeen? “Ondeund.” “Onwrikbaar.” “Ontluik.”

Wel, ten eerste is al drie komplekse woorde: woorde wat uit meer as een woorddeel bestaan. Onder komplekse woorde tel afleidings en fleksievorme, samestellings, samestellende afleidings, samestellende samestellings en woordgroepsamestellings – basisvorme (ook “stamme” genoem), voorvoegsels en agtervoegsels, op verskillende maniere saamgevoeg.

Vergelyk “skoene” (’n fleksievorm met “skoen” as basis plus die agtervoegsel “-e”); “onaktief” (’n afleiding met ’n basisvorm en ’n voorvoegsel); “mosbeskuit” (’n samestelling met twee basisvorme), en so meer. “Onderbreking” en “seweweeksvaring” is onderskeidelik ’n samestellende afleiding en samestellende samestelling; “kruidjie-roer-my-nie” ’n woordgroepsamestelling.

Vir die vorming van sulke komplekse woorde is die belangrikste beginsel dat elke lid – basisvorm, voor- en/of agtervoegsel – tot die geheel ’n spesifieke betekenis moet bydra. ’n Skoen is “iets wat ’n mens aan jou voet dra”; ’n “-e” daarby beteken “meer as een”. As ’n mens aktief is, is jy “besig met iets”. “On-” beteken “nie” en dui die teenoorgestelde aan van dit wat daarop volg.

As ’n mens die dele verstaan, verstaan jy meestal ook die geheel. Geld dit ook “ondeund”, “onwrikbaar”, “ontluik”, dus?

Wat ons dan laat met iemand wat nie “deund” is nie, nie “wrikbaar” nie, en iets wat “luik”.

Hier is die voorvoegsels maklik genoeg: “on-” beteken “nie”; “ont-” om weg te neem (vergelyk “ontbeen”) of te begin (“ontvlam”). Die agtervoegsel “-baar” gee te kenne dat die voorafgaande ding die genoemde handeling kan ondergaan (dink aan “plooibaar”).

Wat ons dan laat met iemand wat nie “deund” is nie, nie “wrikbaar” nie, en iets wat “luik”. Drie stamme wat so, op hulle eie, so te sê nooit meer in Afrikaans gehoor word nie en daarom ’n besoek aan die wonderlike Etymologiebank.nl regverdig. Dié plek waar enigiemand wat wil, die herkoms van Afrikaanse erfgoed kan naspeur.

Soos dat “ondeund” kom van “ondeugend”, om nie vir iets te deug nie. In die 17de eeu is dié Nederlandse woord vir dinge en vir diere gebruik. Van ’n mens gesê, het dit “onsedelik” beteken, destyds ’n growwe belediging. In Afrikaans het dié betekenis, saam met die weglating van die middelste “-ge-”, mettertyd versag. Wie ondeund is, sê die HAT vandag, is maar net ’n bietjie stout.

“Wrik” beteken om iets heen en weer te wikkel, soos ’n spyker of ’n paal, om dit uit die hout of grond te kry. Iets of iemand wat jy nie kan wrik nie, is onbeweegbaar, onwankelbaar.

’n Luik is ’n houtklap of deurtjie voor ’n venster, maar in Nederlands is dit ook ’n werkwoord: “om te sluit”. As iets ontluik word, word die luike ontgrendel, weggeneem, gaan dit oop.

Afrikaans het nog baie sulke voorbeelde: Verouderde, uitgediende woorde waarvan ons die oorspronklike betekenisse nie meer ken nie, maar wat nog versteen in komplekse woorde bewaar word. Ons sien dié verskynsel ook in vaste uitdrukkings.

Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.