Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Komponiste se siele is broos en fyngeweb
Annelie Botes

My gunsteling-komponis is die Pool Frédéric Chopin. Dalk omdat sy werke vir mý ore so luisterbaar is. Of omdat dit van ’n verstommende moeilikheidsgraad is en meesterlike voordrag vereis.

Saam met sy genialiteit was hy ’n sieklike man. Skynbaar het hy aan epilepsie gely en soms gehallusineer dat doodsgedrogte uit die klavier verskyn terwyl hy optree. Op 39 is hy dood aan ’n longsiekte.

Dis voorbarig om van mense te verwag om mý gunsteling-musiek te luister. Vir al wat ek weet, verpes hulle klassieke musiek.

Maar daar is drie van sy komposisies wat ek kan aanbeveel (sommer op YouTube – daarom los ek die komposisiename in Engels). Dit is “The Little Dog Waltz”, “The Cat Waltz”en die“Raindrop Prelude”. As ek daarna luister, is dit asof ek kan sien wat sy oë gesien het.

Hy en sy metgesel, die Franse skrywer George Sand, en haar kinders het die winter van 1838/1839 deurgebring in ’n klooster teenaan die see op die eiland Majorka by Spanje.

Daardie ysige winter komponeer hy sy 24 preludes, waaronder die“Raindrop Prelude”. In dié komposisie is ’n herhalende noot wat eggo soos ’n vallende reëndruppel.

Maar in die sleurende musiek hoor ek die gemoedstoestand van ’n brose, hartseer man.

Ek wonder of hy koud gekry en eensaam gevoel het terwyl hy dit gekomponeer het, en ek wens ek kon vir hom ’n beker groentesop neem en my woltjalie om sy skouers hang. En dankie sê.

Sand het ’n hond gehad, by name Marquis. In die tuin by hulle huis het sy en Chopin op ’n dag gekyk hoe jaag Marquis sy eie stert.

Volgens vertelling het Sand gesê: “As ek jou talent gehad het, sou ek ’n musiekstuk komponeer vir dié hond.”

Chopin het summier na sy klavier gegaan en die Wals in D-mol majeur, op. 64, no. 1 gekomponeer. As ’n mens musikale kompleksiteit ter syde laat en jou oë toemaak, kan jy in die musiek ’n hardlopende, tollende, energieke hondjie hoor. Soos skilder met klawerklanke.

Chopin was nie ’n katliefhebber nie, maar Sand se kat, Valdeck, het graag oor die klavierklawers gehardloop. Ná een so ’n hardloopsessie het Chopin sy Wals in F majeur, op. 34, no. 3 gekomponeer. “The Cat Waltz.” ’n Ware juweeltjie.

Die voltooiing van Chopin se Klaviersonate in B mineur, op. 58, bekend as “The Funeral March”, is geïnspireer deur hulle geliefde Marquis-hond se dood.

Verreweg die aandoenlikste komposisie vir mý kom uit die Mozart-stal. Sy Klavierconcerto no. 21, alias “Elvira Madigan”. Huilmusiek. Droommusiek. Sielmusiek. Eendag as ek weggelê word, moet die gryse sorg dat “Elvira Madigan” speel, of Chopin se “Raindrop Prelude”, anders kom ek gruwelik by hom spook.

Komponiste het fyngewebde siele. Dít wat ons as die eindproduk beleef, is nie sonder worsteling en emosionele ontbering gebore nie. Hulle verdien ’n minuut eerbiedstilte.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.