Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Konferensie wys ANC in diep sop

Vandag is die laaste dag van die ANC se nasionale beleidskonferensie. Maar daar is min kans dat daar enigsins meer duidelikheid sal wees oor of die regerende party enigsins weet hoe om die land vorentoe te neem na ’n werkskeppende toekoms en uit die moeras van morele en maatskaplike agteruitgang en verval.

Pres. Jacob Zuma het verlede week in sy openingsrede nie vir die land of sy party enige leiding gebied nie. Hy het eerder net bevestig waarom hy beskou word as deel van die probleem en nie die oplossing nie. As daar enige onsekerheid daaroor was, weet ons dit nou: Die ANC is in dieper moeilikheid as wat hy bereid is om te erken.

Zuma se toespraak was een groot gaap, met nie ’n enkele oorspronklike idee nie. Hy het dit wys geag om die rol van die howe in die oplos van politieke probleme wat hy en die ANC skep, te kritiseer, wat net weer bewys hoe dun sy begrip is van hoe ’n grondwetlike demokrasie behoort te werk.

Die eerste dae van die konferensie het weinig betekenisvolle beleidsoplossings opgelewer, maar eerder gefokus op wat wyd beskou word as die ANC se eksistensiële stryd. Die fokus was oordadig op die verwagte mosie van wantroue in Zuma en wat die party se LP’s sal doen sou die speaker besluit om ’n geheime stemming daaroor toe te laat.

Die ANC vertrou duidelik nie sy eie LP’s nie en hulle is reeds aangesê om nie saam met opposisiepartye te stem nie. Die speaker, Baleka Mbete, se opmerkings oor die kwessie op televisie dui daarop dat sy nie ’n geheime stemming sal goedkeur nie.

Die party loop die risiko om sy volstrekte parlementêre meerderheid in 2019 prys te gee.

Die kwessie van staatskaping, waarin Zuma ook sentraal staan, was ook ’n besprekingspunt. Die ANC is in ’n hoek hieroor, maar blyk nie gereed te wees om Zuma oor sy vermeende aandeel te dissiplineer nie. Staatskaping bekommer almal geweldig, insluitend baie ANC-ondersteuners en -lede.

Dit is die één kwessie waaroor kiesers die ANC in 2019 se algemene verkiesing kan straf. En ANC-ringkoppe soos die sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, besef dit maar alte goed.

Die party loop die risiko om sy volstrekte parlementêre meerderheid in 2019 prys te gee.

Intussen is daar goeie nuus vir adj.pres. Cyril Ramaphosa in sy stryd om Zuma in Desember as ANC-leier op te volg. Ramaphosa se ondersteuners het bekend gemaak hoe hy in van die provinsies vaar.

In KwaZulu-Natal, die grootste ANC-provinsie op grond van getalle, word steun vir hom op 60% geraam. Dié provinsie word as ’n Zuma-vesting beskou.

In die Noord-Kaap word sy steun op 50% geraam en in die Vrystaat op 80% (ook ’n verrassing, gegewe die sterk invloed van premier Ace Magashule, ’n leidende figuur in die sogenaamde pro-Zuma-premierliga). Soos verwag, is Ramaphosa se geraamde steun in die Wes-Kaap 100% en 80% in Gauteng.

Dit is nie duidelik hoe die berekeninge gemaak is nie, maar Ramaphosa behoort hoop daaruit te put. Sy veldtog het ook ’n hupstoot by die beleidskonferensie gekry toe sy ondersteuners daarin geslaag het om Mantashe se omstrede diagnostiese verslag ter tafel gelê te kry te midde van sterk teenkanting van ondersteuners van sy hoof-opponent, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

Die 2017-beleidskonferensie sal nie onthou word vir die formulering van beleid nie, maar vir al die drama rondom Zuma en die opvolgstryd.

As die berekeninge van Ramaphosa se ondersteuners geglo moet word, en dit hou, dan is die opvolgstryd Rama­phosa s’n om te verloor.

Hy moet dit wat hom tot voordeel strek, konsolideer en tussen nou en Desember wys Zuma was ’n fout in 2007 wat in 2019 die ANC se houvas op mag kan breek.

Meer oor:  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.