Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Konflik dreig, maar niemand weet hoekom

Die oplaai van die spanning tussen Amerika en Iran is een van die mees ondeursigtige prosesse waarmee ek as internasionale politieke ontleder nog ooit te make gekry het.

Die eskalasie het bekend geword toe pres. Donald Trump se veiligheidsraadgewer, John Bolton, aangekondig het dat ’n vliegdekskip en B-52-bomwerpers na die Persiese Golf gestuur word. Die rede is nooit werklik verduidelik nie – daar was slegs vae verwysings na “ontstellende” en “gevaarlike” Iranse voornemens.

Sedertdien is gegis dat Iran aanvalle op Amerikaanse bondgenote in Irak beplan. Die Trump-gesinde Washington Times berig dat Sjiïtiese vegters in Irak – bondgenote van Iran – vuurpyle bring na plekke van waar aanvalle op Amerikaanse troepe gedoen kan word. Die Amerikaanse stappe is om verskeie redes eienaardig (waarmee nie te kenne gegee word dat hulle daarom ongeldig is nie).

Ten eerste is dit nie deur die normale kanale – die Withuis of die Pentagon – bekend gemaak nie, maar deur Bolton, wat formeel buite die bevels­hiërargie staan. (Van Bolton is al sarkasties gesê dat hy nog nooit ’n oorlog teengekom het waarvan hy nié gehou het nie.)

’n Tweede rede is dat Trump self blykbaar effens wegstaan van die aksie. TheWashington Post berig dat Trump “gefrustreerd” is omdat hy bang is Bolton stuur af op ’n militêre konfrontasie met Iran.

Van Trump is bekend dat hy maar min ooghare het vir Amerikaanse militêre betrokkenheid by buitelandse oorloë. Ontleders gis dat Trump Bolton voorlopig nog sy gang laat gaan, maar dat hy nie baie gelukkig daarmee is nie.

Wat só ’n gevolgtrekking versterk, is die snelheid waarmee die Withuis ’n berig in The New York Times ontken het dat die Pentagon oorweeg om 120 000 soldate na die Persiese Golf te stuur.

Van John Bolton word gesê dat hy nog nooit ’n oorlog teen-gekom het waarvan hy nié gehou het nie.

In die derde plek het die Britse genl.maj. Christopher Ghika, onderbevelvoerder van die gesamentlike militêre mag wat teen die Islamitiese Staat veg, ontken dat daar ’n verhoogde risiko van Sjiïtiese vegters in Irak is.

Die Amerikaanse weermag se Sentrale Kommandement, verantwoordelik vir die Midde-Ooste, het Ghika egter vinnig gerepudieer.

Intussen bly dit onduidelik presies wat aan die gang is. Selfs Amerikaanse Republikeinse senatore – onder wie sen. Lindsey Graham, een van Trump se ondersteuners – kla dat die Withuis hulle in die duister hou en nie eens agter die skerms inlig nie.

Met ’n ernstige tekort aan harde inligting en ’n oormaat aan rookskerms is dit onmoontlik om van ver af ’n oordeel oor die saak te vel.

Wat talle ontleders intussen vrees, is dat die huidige eskalasie in ’n oorlog kan ingly, sonder dat enigeen van die deelnemers dit wil hê.

Dat ’n oorlogsugtige soos Bolton sy hande op die stuur het, is ewenwel nie gerusstellend nie.

Meer oor:  Amerika  |  Iran  |  Spanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.