Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Konserwatiewes is maar eiesinnig
Johannes Froneman

Dr. Corné Mulder se skerp kritiek op Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, het ’n wesenlike aksentverskil in die wit konserwatiewe politiek herbevestig.

Vir die res van die land lyk dit dalk na ’n onbenullige onderonsie onder ’n klein minderheidsgroep – een of twee persent van die kieserskorps – maar vir Afrikaanse lesers (en kiesers) is dit tog van belang.

Tans verdeel Afrikaners hul stem hoofsaaklik tussen die DA en die VF Plus. Daar is wel diegene wat vir die kleiner ACDP, IVP en selfs Cope sal stem, maar die stryd om die wit Afrikaanse stem word hoofsaaklik tussen die DA en die VF Plus geveg. Met dié dat die DA allerlei binnegevegte beleef het en boonop dalk té hard na die swart middelklasstem vry (ten koste van sy konserwatiewer wit kiesers), kan die vraag gevra word of die VF Plus nou uiteindelik vordering gaan toon.

Die VF Plus was vinnig uit die blokke met sy groen plakkate. Sy boodskap is “Slaan terug”, ’n effense aanpassing van Tony Leon se omstrede “Veg terug” van hoeveel verkiesings gelede. Daardie hardekwas-benadering was destyds glo die rede waarom ’n groot klomp Afrikaanse stemme na die DA gelok is.

Die vraag is of daardie kiesers teruggelok gaan word. Was dit maar so maklik. Want die VF Plus het sy eie probleme. Soos die aanwys van die altyd omstrede Peter Marais as premierskan-didaat in die Wes-Kaap. En toe kom ’n senior parlementslid soos Mulder en sit Roets op sy plek in ’n onderhoud met Rapport. Is die VF Plus en AfriForum dan nie geesgenote nie?

Duidelik deel Mulder talle mense se gevoel dat Roets sy saak skade doen deur te kras te wees.

Duidelik deel Mulder talle mense se gevoel dat Roets sy saak skade doen deur te kras te wees. Maar, word aan my gesê, hoe meer Roets so kaalkop praat, hoe meer steun kry AfriForum. Of dit so is, kan ek nie waarborg nie, maar ek wonder wat sê iemand soos Willie Spies, eertydse VF Plus-parlementslid en nou reeds lank AfriForum en Solidariteit se prokureur. Hy het na my oordeel ’n veel sagter aanslag.

Maar dan weer is dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van die Solidariteit-beweging, die moederliggaam waarvan AfriForum deel is, nie een om die ander wang te draai nie. Dit is juis die “ons sal prosedeer”-styl wat grootliks bydra tot Solidariteit en AfriForum se sukses.

Dit is egter een ding om in Centu­rion, omring deur eendersdenkendes, ’n aggressiewe stryd om Afrikaans en Afrikanerbelange in die algemeen te veg; dit is ’n ander storie om in die parlement as lid van ’n viermanparty doeltreffend te wees. Jy leer daar om sagter met jou opponente om te gaan, saam te werk en nie onnodig aanstoot te gee nie.

Dit verklaar waarskynlik die botsing tussen Roets en Mulder (al het Mulder Rapport van verdraaiing beskuldig). Maar die saak gaan veel verder as hierdie botsing in styl, Mulder se ontkennings en regse verdagsaaiery oor die “onbetroubare, liberale” media wat glo aspris ’n wig tussen Roets en Mulder wil indryf.

Punt is dat wit konserwatiewe kiesers nog nooit ’n homogene groep was nie. Die hardekwas-plakkate pla hulle waarskynlik min. Vir sommige is die VF Plus juis te sag en pragmaties. Kyk maar na die kommentaar oor die Mulder-onderhoud.

Waarheen sal sulke kiesers hulle dan tog wend? Hoeveel konserwatiewe kiesers oorweeg dit om glad nie te stem nie?

En sal die eks-DA’s wat nou VF Plus gaan stem meer as vergoed vir hierdie potensiële verlies?

Ons sal moet wag en sien. Konserwatiewe kiesers kan maar ’n eiesinnige klomp wees en sal nie noodwendig VF Plus stem nie.

Froneman is ’n medianavorser en kommentator oor sake van aktuele belang.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Ernst Roets  |  Vf Plus  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.