Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Afrikaners sukkel met 'nuwe normaal'

Suid-Afrika is tans skrikwekkend en bloederig, maar ons sal dit dalk oorleef as ons oor ons vrese, afsku en vooroordeel kan kom, skryf Koos Kombuis.

Koos Kombuis

Ek het ’n paar weke gelede die eerste keer die term spatial intelligence gehoor. By die opera.

In Afrikaans is dit “ruimtelike intelligensie”. Ja, ek het dit ge-Google.

Dis anders as verbale intelligensie of emosionele intelligensie. Dit is die intelligensie wat ’n mens help om jouself in terme van jou onmiddellike omgewing te oriënteer.

Ruimtelike intelligensie stel jou in staat om genoeg ruimte te laat in die verkeer tussen jou motor en die motor voor jou.

Dit is die soort intelligensie wat Elton Jantjies soms openbaar (en soms nie) wanneer hy vir die kantlyn moet skop.

Mense met ’n gebrek aan ruimtelike intelligensie kom as lomp, potsierlik voor, en is geneig om agteruit teen mense vas te loop wat met ’n koppie koffie in die hand agter hulle staan. Soos ek by die opera.

Verstaan my mooi, ek is dol oor die opera. Dis ’n nuwe stokperdjie. Dis een van die nuwe dinge wat my kinders my uitgedaag het om te probeer.

Die probleem is, opera is ’n kultuur, met sekere ongeskrewe “moets” en “moenies”, en ek is nog ’n groentjie in hierdie kultuur. En hel, jy kan dit sien!

Vir ’n aand by die opera trek ek onvanpaste klere aan. Ek sukkel om my kar in die Kunstekaap se ondergrondse parkeergarage te parkeer. En pouse is ek geneig om agteruit teen mense vas te loop omdat ek nie seker is waar die tou vir die verversings begin en eindig nie. Ek sukkel om te verstaan hoekom, as ek op die balkon sit, ek nie my skoene mag uittrek en my kaal voete op die rug van die sitplek voor my mag sit nie. Omdat ek nie weet hoe om my te gedra nie, ontstel ek ander operagangers.

Illustrasie: Koos Kombuis

Toe ek nou die aand gedurende die pouse vir die soveelste maal amper ’n tannie se koppie koffie uit haar hande stamp, merk my seun Simon op: “Pappa moet werk aan Pappa se spatial intelligence.”

Nou goed dan. Hy is reg. Ek is bereid om te leer. Dit gaan ’n rukkie neem. Ek sal na nog baie operas moet gaan voordat ek alles onder die knie het. Die opera is anders as ’n rock show. ’n Mens kan nie jouself daar gedra soos by Oppikoppi nie. When in Rome, do as the Romans do.

Suid-Afrika, soos dit vandag daar uitsien, is ’n bietjie soos ’n opera. ’n Erge opera. Ten minste soos iets met die regie deur Marthinus Basson. Dis skrikwekkend en bloederig en vreesaanjaend, maar ons sal dit dalk oorleef as ons oor ons vrese, afsku en vooroordeel kan kom. En as ons ons gedra.

Suid-Afrika is vandag ’n ander land as die een voor ons ’n demokrasie gekry het. Baie voel ontuis hier.

’n Mens kan hierdie gevoel ’n naam gee. Nou die dag hoor ek ’n professor in ’n RSG-onderhoud oor klimaatsverandering van “’n nuwe normaal” praat.

“Die feit dat die Kaap nie water het nie en die feit dat orkane in Amerika nou soveel groter en sterker is, is die nuwe normaal. Ons moet daarby aanpas en gewoond raak daaraan.”

Slim! Maar hoe werk dit in die praktyk?

Suid-Afrika is vandag vir almal wat hier woon “’n nuwe normaal”. Jy voel soms jy wil dit eerder “’n nuwe abnormaal” noem. Die feit is, hoe jy ook al daarna kyk, of jy die nuwe bestel verwelkom of nie, jy moet jou daarby aanpas. Jy het nie ’n keuse nie. Dié wat nie inpas nie, sal baie gou ten gronde gaan.

Om aan te pas by die nuwe reëls van “’n nuwe normaal”, het ’n mens ’n gesonde dosis ruimtelike intelligensie nodig. Hoekom?

Jy kan die gebrek aan ruimtelike intelligensie in die talle voorvalle van onbeheerste padwoede en sosiale konflikte waarneem. Al meer mense raak toenemend aggressief en verward, want gedrag wat voorheen die norm sou wees, is skielik onvanpas.

Suid-Afrika vandag is vir die ANC-regering ook ’n “nuwe normaal” omdat hy geweldig sukkel om die aanpassing van sy rol as bevrydingsbeweging na administratiewe en politieke bevelvoerder te maak.

Die taxibestuurders in Johannesburg sukkel om by die “nuwe normaal” van Uber aan te pas.

En ’n feit soos ’n koei: My Afrikaanssprekende vriende sukkel om gewoond te raak aan die gedagte dat hulle nie alleen in Suid-Afrika is nie. Dat hulle omring word deur mense wat vroeër vir hulle vreemdelinge was.

Die rykes wil fietsrybane hê. Die armes soek brood en huise.

Ons moet almal daagliks skouers skuur met mense van wie ons vroeër deur doringdrade, heinings en wette geskei was. Dit verg aanpassings aan alle kante.

Dis nie slegs outydse mense of sogenaamde rassiste wat ontuis voel nie. Die winde van verandering tref ook diegene wat hulself nog altyd as liberals beskou het.

Dit was vir Helen Zille – en niemand trek haar goeie bedoelings in twyfel nie – ’n geweldige skok en verleentheid om te besef dat haar wêreldsiening letterlik oornag obsoleet geraak het.

Die DA sukkel om te begryp waarom sy verhouding met sy alliansievennote skielik die een ná die ander skipbreuk ly.

Verskillende groepe het verskillende verwagtinge, verskillende perspektiewe, verskillende prioriteite. Die rykes wil fietsrybane hê. Die armes soek brood en huise.

As ons Suid-Afrikaners nie aanpas nie, gaan ons mekaar binne die volgende paar jaar heeltemal mal maak.

Ons het ’n wonderlike land by ons voorvaders geërf. Maar dis ’n land wat ons van voor af moet ontdek.

Daar is ’n wonderlike klomp mense in hierdie land. Maar ons moet mekaar van voor af leer ken.

Ons kort nuwe sienings van onsself en ander, nuwe etikette, nuwe maniere van doen. Dit gaan nie maklik wees nie.

Maar ons het eenvoudig nie ’n keuse nie. Ons moet ophou om ons soos takhare by ’n opera te gedra.

* Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Rasseverhoudings  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.