SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Al wat ek vra is 'n normale land

Wat is normaal? Is daar nog iets soos ’n normale lewe, veral in ons abnormale samelewing? vra Koos Kombuis.

Koos Kombuis

Nou die middag, so naby sonsondergang, ry ek huis toe ná ’n lang besige dag.

By die huis het nog deadlines gewag. My rekenaar was ongeduldig om my te sien.

Maar toe vang iets anders my oog.

Langs die straat staan ’n fotograaf. Hy het een van daardie outydse kameras, die goed met die lang lense, en dis gebalanseer op ’n driepoot.

Ek het probeer kyk in watter rigting sy lens wys.

En toe, vir die eerste keer, let ek dit ook op.

Die berge op die horison, pienk en manjifiek in die lig van die son wat stadig ondergaan.

Ek sou dit nie opgelet het as dit nie vir hom was nie.

Hoeveel keer het ek al daar verby gery en nooit na die berge gekyk nie?

Ek het my pas verlangsaam en stadig, stadig verder gery, met een oog op die verbysterende panorama in die verte.

Toe ek by die huis kom, het ek besluit: ‘Bogger my deadlines, dit kan wag tot môreoggend”, en ek het vir my en my vrou elkeen ’n glasie wyn geskink, ’n vuurtjie aan die brand gekry en voor die kaggel gaan sit.

Ek het probeer onthou wanneer laas ek nie gejaagd of gestres gevoel het nie. By die see? In die kleuterskool?

Dit was soos in die ou tyd.

Watter ou tyd?

Wanneer het alles verander?

Ek het probeer onthou wanneer laas ek nie gejaagd of gestres gevoel het nie. By die see? In die kleuterskool? Of was dit tydens daardie vakansie in Nieu-Bethesda, jare gelede, toe ons ’n week lank net gebraai en na die windpompe gestaar het van ons huurhuis se agterstoep af?

Hoe lank al is ons die heel tyd besig met krisisbestuur?

Die volgende oggend het ek wakker geword en gedink:

Hoeveel keer hierdie jaar het ek al die sonsondergang raakgesien? Werklik ráákgesien?

En hoeveel soortgelyke dinge het ek misgeloop, dinge wat belangrik is, dinge wat die kwaliteit van die lewe sou kon verbeter?

Is daar iets soos ’n normale lewe?

Die dag kan ek nie aan die werk kom nie. Eindelik besef ek waarheen ek wil gaan. Biblioteek toe! Wanneer laas het ek my biblioteekkaartjie gebruik? Kort daarna, talmend en besluiteloos tussen die rakke in ons dorpsbiblioteek, sien ek toevallig ’n boek met die titel, in groot pienk letters, pienk soos wat die berge was in die lig van die sakkende son: SLOW

Die volledige titel van die boek is In praise of SLOW – How a Worldwide Movement is Challenging the Cult of Speed, deur Carl Honoré.

Ek vat die boek huis toe. Die aand krul ek weer op voor die kaggel, met die “SLOW”-boek en ook ’n paar ander boeke uit my studeerkamer wat ek lanklaas gelees het: Gregg Braden se klassieke werk Deep Truth, Maryna Blomerus se Meer as ’n Metafoor, en ’n hele paar ou slapbandboeke deur my gunsteling mistieke skryfster, Caroline Myss.

Honoré se boek lees lekker. Dis glad nie ingewikkeld nie, dis eintlik plein kommin sens.

Hy skryf:

“After a long, bruising day at work, our reflex is to throw a ready-made meal in the microwave or call out for Thai food. But sometimes that reflex is just that: a reflex. It can be overcome; we can find the time and energy to do a little chopping, frying and boiling . . . The payoff is more than just gastronomic. As the crushed garlic slides into the pan of hot oil and starts to sizzle, I can feel the stresses of the day melting away.”

Ná ’n aand van lees en reflekteer klim ek in die bed en ek vra myself af: “Wat is normaal? Is daar nog iets soos ’n normale lewe?”

Dis heerlik om ’n aand lank net te lees. Geen aktuele debatte te volg op die nuuskanale nie. Geen geskinder op Facebook op my selfoon te scroll nie. Sommer net te sit, en arbitrêre stukkies te lees uit bekende en ou bekende boeke.

Ná ’n aand van lees en reflekteer klim ek in die bed en ek vra myself af: “Wat is normaal? Is daar nog iets soos ’n normale lewe?”

Gevra: ’n normale land

Die afgelope 70 jaar al lewe ons in ’n abnormale samelewing. Ons stresvlakke is hemelhoog. Dis nou nie asof dinge voor 1948 perfek en idillies was nie, ek weet, maar vir die afgelope 70 jaar lank al is Suid-Afrika in die greep van verskillende vorms van nasionalisme.

Hoe lei ’n mens ’n normale lewe onder sulke omstandighede? Is daar iets soos ’n normale samelewing?

Gaan ons dit ooit regkry om ’n normale samelewing te word? Daar is nou vir die eerste keer die hoop dat dit eindelik kan gebeur. Wat as die hoop weer beskaam?

Sal ons ooit die soort land kan wees waar mense tyd sal hê om aan ander dinge te dink as rassisme, politiek, geweld, misdaad, haat en polarisasie?

Dalk gebeur dit nie in ons leeftyd nie.

Ek hoop van harte dit gebeur ten minste in ons kinders of kleinkinders se leeftyd.

Hulle verdien gemoedsrus. Hulle verdien die voorreg om te fokus op hul eie lewe sonder om meegevoer te word, soos wat ons geslag was en nog steeds is, deur golwe van onvergenoegdheid, protes en onrus.

Dit is my grootste wens. Dit is my enigste wens. Nie dat ons land ’n utopie sal word nie. Geen land is ’n utopie nie.

Al wat ek vra, is ’n min of meer ’n normale land. ’n Land waar misdaad nie heeltemal buite beheer is nie. ’n Land waar korrupsie gestraf word, waar die polisie opdaag as jy hulle bel, waar die slaggate in die paaie binne ’n redelike tyd reggemaak word.

’n Land waar daar nie tien miljoen werklose mense is nie.

’n Land waar mense tyd sal hê om sommer net sonder enige rede langs die pad stil te hou en foto’s te neem van die sonsondergang.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Suid-Afrika  |  Politiek  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.