Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: As ’n volk skeur

Ons “volk” het geskeur. Die gebeure met die Ghoema-boikot het die verdelingslyn laat kraak en niks kan ooit weer dieselfde wees nie, skryf Koos Kombuis.

Skets: Koos Kombuis

Dit is besig om met die ANC te gebeur.

Dit het reeds in die DA gebeur.

Dit het nou ook met Afrikanerdom gebeur.

Natuurlik dreig dit al lankal. Maar dis nou hier. Dit het ’n werklikheid geword.

Ons “volk” het geskeur. Die gebeure van verlede week met die Ghoema-boikot het die verdelingslyn laat kraak en niks kan ooit weer dieselfde wees nie.

Die skeuring in die volk kan nie langer toegesmeer word nie. Dis nou so wyd en groot en diep dat jy dit met die blote oog uit die ruimte kan sien.

Vir my en my vriende is Afrikaanse mense tog almal wat Afrikaans, in enige van sy dialekte, as eerste taal besig.

Maar kom ons kyk eers na definisies. Wie en wat is die Afrikanervolk?

Selfs oor die definisie kan die twee groepe nie saamstem nie – veral nie definisie nie.

Vir my en my vriende is dit voor die hand liggend: Afrikaanse mense is tog almal wat Afrikaans, in enige van sy dialekte, as eerste taal besig.

Ons groep het nog nie ’n naam of etiket of een herkenbare ideologie of selfs kulturele tuiste nie. Dis nie vir ons baie belangrik om in gelid saam te marsjeer nie. Ons woon vir alle praktiese doeleindes in ’n post-Steve heelal. Dis in baie opsigte ’n ietwat chaotiese plek om in te wees. Hier is min sekerhede en, ja, ons is nie almal engeltjies nie.

As ons ’n eindbestemming het (ek dink dit was Tim du Plessis wat hierdie een ’n naam gegee het) is dit ’n post-ANC Suid-Afrika.

Ek het vriende anderkant die draad. Vir ’n ou soos Bok van Blerk sal ek altyd die grootste respek hê.

Ek kan nie namens die ander groep praat nie. Al wat ek vir seker van hulle weet, is dat hulle hunker na ’n pre-ANC Suid-Afrika.

Gegee die gemors wat die ANC van ons land gemaak het en steeds maak, is dit onmoontlik om nie ’n bietjie simpatie met so ’n sentiment te hê nie.

As die ou vlag met sy reguit blokke en Union Jack nie so esteties onbevredigend was nie en as Steve nie Langenhoven se pragtige ou volkslied vir alle tyd en ewigheid vir ons opgef*k het nie, sou ons dalk ook so gevoel het.

Dit maak die skeuring meer pynlik, in baie opsigte traumaties.

Ek het vriende anderkant die draad. Vir ’n ou soos Bok van Blerk sal ek altyd die grootste respek hê. Wat die Van Jaarsvelds betref: Ek is altyd bly om hulle by kunstefeeste raak te loop, en ja, hul kinders het al op my skoot gesit, en ag Here, ek wil so graag hê dat dit met daardie gesinnetjie moet goed gaan.

Dank die hemel, die skeuring in Afrikanerdom is nog nie so erg dat ons mekaar wil uitmoor nie. Ons wil mekaar nie eens bydam met krieketkolwe of sannas nie.

Waaroor gaan dit regtig?

Koos Kombuis

Om terug te kom by verlede week se post-Ghoema-debat. Gaan dit regtig net oor ’n musiekvideo?

Reeds op 5 Oktober het ek in hierdie einste rubriek geskryf wat ’n puik musiekvideo en –lied “Ons land” is.

“Ek wil . . . sulke mooi liedjies probeer skryf soos Steve-hulle se nuutste.

“Die komposisie is goed, die stemme uitmuntend, die beeldmateriaal treffend.

Hoewel die lirieke na “my vlag” verwys, word die oranje-blanje-blou nêrens vertoon nie, en dis nie duidelik na watter vlag verwys word nie. Daar is selfs ’n paar swart mense in die video te sien.

“ ’n Hartroerende liedjie wat ’n mens vervul met passie vir jou land en wat ’n mens laat lus voel om op jou knieë te gaan en vir die toekoms van ons en ons kinders te bid . . . ”

Tog.

Nou het daardie lied glo ’n “protes-lied” geword. En dis nie ’n protes waarvan ons kan deel wees nie.

Daardie pragtige lied hoort nou by die ouens aan die ander kant van die kloof.

’n Mens gaan niks uitrig nie deur saam met Steve-hulle op ’n wit perdjie te klim en soos ’n wafferse held die verlede in te jaag.

Ek kan nie saam met hulle baklei vir hul ideale nie, want vanuit my perspektief, vanuit ons perspektief, is die huidige stryd in Suid-Afrika nie ’n stryd tussen wit en swart nie, maar tussen ideologie en pragmatisme.

Waarom ras insleep by die gesprekke? Zuma-hulle het dit genoeg gedoen. Die ANC pleeg al jare lank rassisme. ’n Mens gaan niks uitrig nie deur saam met Steve-hulle op ’n wit perdjie te klim en soos ’n wafferse held die verlede in te jaag.

Ons moet vorentoe kyk. Dalk kom daar ’n stadium dat ons die luukse het om Afrikaanse mense as volk behoorlik te herdefinieer. Ons het nog nie daardie luukse nie. Die gevare wat ons in die gesig staar, is te erg en te onmiddellik. Ons fisieke oorlewing is letterlik op die spel.

Daar wag nog moeilike tye op ons. ’n Eskom-nag kom waarskynlik kort ná die verkiesing, dalk selfs nog voor die verkiesing. Daar is die gevaar dat dele van Suid-Afrika op korttermyn onregeerbaar kan word. En ek praat nie net van die chaos in die middel van Johannesburg of Alexandra nie. Ek praat van ghrênd woonbuurte.

Ons is op die ou end almal ewe diep in die k*k.

Welkom in die post-Steve heelal. Dis nie ’n plek vir sissies nie.

Die hemel weet om nou nog te baklei vir of teen die Ghoemas is ’n bietjie soos om te kibbel oor die kleur van die tafeldoeke in die Titanic se restaurant.

Dinge word dalk nog baie erger voor dit beter word.

Dis miskien die grootste dilemma.

Ek weet dat Steve-hulle se taktiek nie gaan werk nie. Maar ek kan ook nie belowe dat ons taktiek gaan werk nie.

Ek weet nie eens of ons ’n taktiek het nie.

Welkom in die post-Steve heelal. Dis dalk net so ’n donker plek as Steve se heelal. Dis dalk selfs meer ongeorden en deurmekaar as sy heelal. Dis nie ’n plek vir sissies nie.

Maar dis my heelal. Dis waar ek van nou af woon, en werk, en hoop, en bid, en sing, en my alles gee.

In die woorde van Adam Small:

“nou vrinne

die Here het gabring

aan my sy wonnerwerke oek so

hy het gevra wat’s in my hand

en vrinne

in my hand as my kitaar

kô, laat ons sing . . . ”

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Bok Van Blerk  |  Steve Hofmeyr  |  Afrikaans  |  Ghoemas  |  Ras  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.