Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Bome gaan dood om jou

Ná die dood van Piet Botha, Jacques de Coning en sy geliefde tannie, meen Koos Kombuis ons moet die dooies se herinnering eer, met blydskap en ’n positiewe ingesteldheid – terwyl ons nog kan.

Koos Kombuis

Die titel van hierdie rubriek is nie my eie nie. Dis ontleen van die digter Johan van Wyk se digbundel met dieselfde naam wat in 1981 by Human & Rousseau verskyn het.

Min mense onthou vandag nog daardie bundel, maar vir my het dit die kroon gespan op Johan se dig-loopbaan. 

Hoekom spook daardie digbundel weer deesdae by my? Hoekom onthou ek skielik weer frases uit daardie boek asof ek dit gister gelees het?

“ek steek my oë weg agter my hande.

ek trek my kop toe met my komberse.

ek switch net af.”

’n Ander digter, N.P. van Wyk Louw, het die gedig ‘Vroegherfs’ gepubliseer in die meer bekende bundel Die Halwe Kring (1937), waarin hy onder meer sê:

“O Heer, laat hierdie dae heilig word:

Laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en ver was van die pyn . . . ”

Skielik is almal 60 jaar oud. Wanneer het dit gebeur? Ek onthou ’n tyd toe almal ses jaar oud was. Maar dit was lank gelede.

Ek en my vriende is in die herfs van ons lewe. Dit sien ek in die tekens van die tye. Dit ruik ek in die lug.

Dis nie eens meer vroegherfs nie. Ons staan nie meer aan die begin van my middeljare nie. Dis proper herfs.

Dis gelukkig darem nog nie winter nie.

Maar alreeds sien ons die winter op die einder aankom met sy geniepsige kouefronte en sy grypende kaal takke, en ons weet:

Winter, en die dood, is ons almal se voorland.

Piet se bekfluitjie

Verlede week is ’n Suitcase vol winter verskeep na die ander kant.

Piet Botha is nie die enigste Afrikaanse sanger wat skielik nie meer met ons is nie. 

Enkele dae later moes ek ’n geliefde tante afstaan aan die dood.

Inderdaad: bome gaan dood om ons.

Ek en Piet Botha was weliswaar nie close nie. Dalk moes ek ’n paar maande gelede daardie uitnodiging van hom aanvaar het om te gaan krieket speel op die strand.

Jacques de Coning

Vir Jacques het ek glad nie geken nie, maar ’n mens voel sulke dinge aan jou lyf, want dis ook ’n verlies vir plaaslike musiek.

Tannie Ethie het ek eers die afgelope paar jaar ordentlik leer ken, want ek is nie ’n baie getroue familie-mens nie.

Gelukkig het ek die kans gehad om van tannie Ethie afskeid te neem. Ek was alleen langs haar sterfbed verlede week, in ’n kort uurtjie, en ek was bly om haar aan te tref in ’n goeie bui, en met ’n verstand wat vir oomblikke helder deurbreek met humor en vriendelikheid.

Ek sal haar onthou as ’n vrolike mens. Sy het in haar lewe baie gereis. Sy het dekades gelede, lank voor dit sosiaal aanvaarbaar was, al gay vriende gehad. Sy was oopkop en vol grappies in ’n tyd toe die meeste Afrikaners nogal streng gereformeerd en ernstig was.

Koos Kombuis en sy tannie Ethie.

Dis dalk hoekom ek nou nog nie graag begrafnisse doen nie. Kerkdienste bring my nie nader aan God nie, dit bring verwydering en nog meer hartseer.

’n Mens moet die dooies onthou asof hulle nog lewe. Dis hoe hulle dit sou wou hê.

Die beste ding wat ek van Piet Botha onthou is die bekfluitjie-solo wat hy vir my gedoen het op die liedjie “Prayer for Port St Johns” op die album Elke Boemelaar se Droom (in 1994 vervaardig deur Anton Goosen).

Om sy herinnering te eer, gaan ek myself leer bekfluitjie speel. Al kan ek dit ook nooit so goed soos hy doen nie. Ek het klaar my bekfluitjie gaan koop. (Ek kan al die eerste reël van “Nkosi Sikeleli” speel.)

Ons moet hul herinnering eer, met blydskap en ’n positiewe ingesteldheid, terwyl ons nog kan.

Om tannie Ethie se herinnering te eer, gaan ek nooit weer die liedjie ‘Ek Haat Sommige ou Tannies’ sing nie. Dis ’n besluit wat ek reeds finaal geneem het toe ek ’n paar jaar gelede langs tannie Ethie se bed in die Mediclinic gesit het (sy het van daardie terugslag herstel en teruggetrek na haar huisie en haar kat, waar sy verlede week, in gerieflike omstandighede, en tussen geliefdes, finaal die tydelike met die ewige verwissel het.)

Die nuwe liedjie is reeds geskryf: “Ek Love Alle Ou Tannies”

Bome gaan dood om ’n mens, want bome lewe nie vir altyd nie.

Ons moet hul herinnering eer, met blydskap en ’n positiewe ingesteldheid, terwyl ons nog kan, terwyl ons nog in staat is om te lag en samesyn te geniet en te skerts, terwyl dit, altans vir ons, nog nie proper winter is nie . . .

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of dar lewe op ander planete is.

Meer oor:  Piet Botha  |  Jacques De Coning  |  Johan Van Wyk  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.