Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: DA-probleme is manna uit hemel vir ANC

Hy wil graag weet vir wie om volgende te stem nou dat sy blou skoene dit waarskynlik nie gaan maak tot die volgende algemene verkiesing nie, skryf Koos Kombuis.

Ek is baie lief vir die kleur blou.

My gunsteling paar skoene is blou. Ek het hulle ongelukkig nou al so voos gedra dat hulle amper oor die muur is. Een van die dae gaan ek nog so loop, dan gaan hulle sommer disintegreer, en dan sal ek kaalvoet verder moet stap.

My blou skoene! Foto: Koos Kombuis

Daar is tye wanneer ek egter nie van die kleur blou hou nie.

Soos hierdie Maandagoggend, toe ek net wil begin werk aan my volgende rubriek vir Netwerk24 toe my computer vir my ’n blou screen gooi.

Daardie gevreesde blou screen.

Is ek gehack soos Joburg se munisipaliteit? wonder ek. Gaan iemand al my eBucks eis voordat ek my inligting kan terugkry?

Of is die blou screen deel van die DA se nuwe promosieveldtog?

Dalk het hulle vir almal op hul adreslys so ’n blou screen gestuur?

Ek weet die media maak deesdae vir Helen Zille uit as die duiwel, maar selfs sy sal nie so laag daal nie, daarvan is ek seker.

’n Baie ernstige fout

Koos Kombuis

Ek restart my computer.

“You have recovered from a serious error,” deel die screen my nou mee.

Ek begin glo dit is dalk rêrig ’n DA-advertensie.

Hulle beweer ook mos nou hulle is besig om te recover van ’n serious error.

Maar niemand is heeltemal seker wat die serious error is nie, en hoe hulle daarvan gaan recover nie, nie eens hulself nie.

“If you want details of this serious error, click here,” beveel my computer my.

Ja, natuurlik wil ek details hê.

Ek wil graag weet wat is fout met my computer.

En terwyl ons nou op die onderwerp van serious errors is, wil ek ook sommer weet wat is fout met my party.

Ek wil graag weet vir wie om volgende te stem nou dat my blou skoene dit waarskynlik nie gaan maak tot by die volgende algemene verkiesing nie.

Ek klik op die knoppie.

My computer sê:

xcz@#xsq28*?##!.()&%$X666?%%?”dzzz!Xx

Oukei. Nou weet ek. Dit was rêrig ’n baie serious error. Sjoe.

Net jammer ek verstaan nie kop of stert daarvan nie.

Net soos ek nie kop of stert kan verstaan van wat verlede week met die DA gebeur het nie.

En alles het begin toe Helen begin twiet het

Welcome to the club. Ek kan ook nie kop of stert uitmaak van wat deesdae met die EFF aangaan nie.

Hulle is klaarblyklik uitgevang dat hulle ’n slush fund het.

Nou as hulle uitgevang is, hoekom sit hulle nog daar in die parlement met hul rooi oorpakke? Hoekom het hulle nie stert-tussen-die-bene huis toe gegaan nie?

Wat het geword van hul beroemde slagspreuk “Pay Back the Money”?

Dit moet absoluut manna uit die hemel wees vir die ANC. Sonder om ’n vinger te lig, het hulle bereik waarvan hulle nog al die tyd gedroom het: ’n effektiewe diktatorskap.

Hel, ek sal self kan doen met so ’n slush fund. Die tipe slush fund wat almal van weet, maar daar is hoegenaamd geen reperkussies nie, jy kan nog steeds maak met die geld wat jy wil, niemand gaan tronk toe nie en jy het nog steeds jou job. Dit klink na ’n lekker lewe. Jy kan soveel soesji eet en sjampanje drink as wat jy wil terwyl jy (met ’n mond vol kos) mompel: “Sjym, en wat van die armes?”

Oukei. So die situasie is ernstig. My computer is dalk op pad bokveld toe. My skoene val uit mekaar uit. En Suid-Afrika sit skielik sonder ’n politieke opposisie.

Nou kan die ANC doen net wat hy wil.

Dit moet absoluut manna uit die hemel wees vir die ANC. Sonder om ’n vinger te lig, het hulle bereik waarvan hulle nog al die tyd gedroom het: ’n effektiewe diktatorskap.

En alles het begin toe Helen Zille begin twiet het.

Hoor my twiet . . . Skets: Koos Kombuis

Of het dit begin met Auntie Pat se afdanking?

Ek is nie so seker of dit ’n goeie ding is dat die ANC nou soort van die enigste noemenswaardige politieke party in ons land is nie (oukei, daar is die Dagga-paartie, maar hulle is nogal besig op die oomblik).

Dis alles regtig scary. Ek bedoel, ek hou baie van Ramaphosa en alles, maar as ek stem vir Ramaphosa stem ek ook vir ouens soos Ace Magashule – wat nou nog nie in die tronk is nie – om nie te praat van Baleka Mbete, wie se onlangs uitgesaaide onderhoud Suid-Afrikaners (en die res van die wêreld) se nekhare laat rys het.

Hel, o aarde, ’n mens kan sê wat jy wil van Helen Zille se getwiet, maar daardie onderhoud met Mbete vat die koek.

Leef ons in ’n wêreld waarin almal mal geword het?

Na Amerika kan ek nie vlug nie. Hulle het vir Donald Trump. Engeland toe sal nie werk nie. Hulle het daardie ander ou met die snaakse hare.

Wat gaan met ons gebeur wanneer ons nie meer leiers het nie?

Na Amerika kan ek nie vlug nie. Hulle het vir Donald Trump. Engeland toe sal nie werk nie. Hulle het daardie ander ou met die snaakse hare. Europa is bankrot, in die Midde-Ooste kap hulle mense se koppe af, in Suid-Amerika brand hulle die bosse af, die Noordpool smelt, in Japan is daar elke paar minute ’n aardbewing of ’n tifoon, Zimbabwe het nie kos nie, Botswana is ook blykbaar ook nie meer so lekker nie, in Australië peuter hulle met krieketballe, so waar gaan ons heen?

Het ons regtig by die punt gekom waar ’n sestienjarige meisie van Swede ons moet herinner dat die wêreld besig is om sy gat te sien?

Ek scroll deur die nuus op my foon. Die klimaat is in sy moer, maar dit is nie waaroor mense ontsteld is nie.

Mense is ontsteld omdat Faf die bôl wegskop.

Eina.

O wel, solank ons nog gratis Wi-Fi het.

En solank die DA net asseblief wil ophou om vir my hierdie blerrie blou screens te stuur, dit maak my bang.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Skrywers se menings is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Koos Kombuis  |  Donald Trump  |  Helen Zille  |  Baleka Mbete  |  Suid-Afrika  |  Zimbabwe  |  Amerika  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.