Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Danksy ANC bly ons almal dalk op Mars

Daar is iets omtrent Mars wat hom bang maak, skryf Koos Kombuis. Want as hy lank genoeg in Suid-Afrika bly, is daar ’n goeie kans dat die rooi planeet hiernatoe sal kom.

Perserverance op die verlate, dorre en – waarskynlik – lewelose Mars. Foto: Reuters

’n Week gelede het die wêreld asem opgehou toe Nasa se Perserverance op Mars geland het.

Wanneer ’n mens kyk na die foto’s wat die verkenningstuig van Mars af stuur, kom jy onder die indruk van die kolossale leegheid, die byna onaardse stilte wat waarskynlik oor die lengte en breedte van hierdie verlate, dorre en – waarskynlik – lewelose planeet heers.

Daar is iets omtrent Mars wat my bang maak.

Ek kon nie my vinger daarop lê totdat ek nie nou die dag ene @annakilian se twiet op Twitter raakgesien het nie.

’n Foto van die uitgestrekte leë landskap. Rooi sand en klippe so ver soos die oog kan sien. Met die tong-in-die-kies onderskrif:

“Experts say that vast deserts and the absence of life may indicate that Mars was once run by the ANC.”

Die enigste verskil tussen Mars op die oomblik en ’n moontlike toekomstige Suid-Afrika onder die heerskappy van die ANC is waarskynlik die feit dat die klein bietjie water op Mars nie met menslike riool besmet is nie . . .

Nou weet ek hoekom ek nog nie aansoek gedoen het om saam met Elon Musk-hulle na die rooi planeet te reis nie.

As ek lank genoeg in Suid-Afrika bly, is daar ’n goeie kans dat die rooi planeet na my toe sal kom.

Die enigste verskil tussen Mars op die oomblik en ’n moontlike toekomstige Suid-Afrika onder die heerskappy van die ANC is waarskynlik die feit dat die klein bietjie water op Mars nie met menslike riool besmet is nie . . .

Alle grappies op ’n stokkie. Ek weet ek oordryf. Ek weet daar is tekens van lewe, tekens dat daar in die ANC self, asook in die burgerlike samelewing, groepe mense is wat die pas van die verval probeer stuit.

Ek is die laaste ou wat wil beweer dat die glas halfleeg is as hy dalk halfvol is. Maar hel. Ek wil nie Mars toe gaan nie.

Tekens van agteruitgang

So in die middel van Desember, voordat die werklikheid van die tweede vlaag infeksies werklik tot ons deurgedring het, het ek en my vrou vir ’n wandeling deur die strate van ons ou tuisdorp, Stellenbosch, gegaan.

Ons het onder in Pleinstraat begin en begin rondkyk vir ’n kroeg waar ons ietsie kon sit en drink.

Toe deure. Foto: Koos Kombuis

Orals was tekens van agteruitgang. Winkels en restaurante wat toe staan, besighede wat hul gatte in die staat van inperking gesien het.

Foto: Koos Kombuis

Ou bourommel op die sypaadjies. Skynbaar hawelose mense wat doelloos orals rondsit, te moedeloos om eens hul hande uit te steek om te bedel.

Onooglike bourommel op ’n sypaadjie. Foto: Koos Kombuis

Dit, aan die een kant van die straat. Aan die ander kant, voor die dorpsbiblioteek (wat, terloops, nou al maande lank om onverklaarbare redes toe is) die groot afbeelding van Nelson Mandela se gesig.

Skielik kon ek nie na Mandela se gesig kyk en trots voel nie. Ek het dit eerder ervaar as ’n soort satire oor wat ek oral om my sien.

Foto: Koos Kombuis

Nou, oukei, fair is fair. Ons was gister weer in Stellenbosch. Ek moet erken dat die middedorp nou, ’n maand of wat later, nie heeltemal so troosteloos daar uitsien nie. Hier en daar het nuwe plekkies oopgemaak.

Ons gunsteling-hamburger-takeaway het om die draai na ’n groter perseel geskuif. Restourasie aan die ou poskantoor is byna klaar. Dit wil amper begin lyk of die vrot onder beheer is.

Maar ek wil graag hierdie reeks eenvoudige selfoonkiekies insluit by hierdie rubriek as beeld van wat Suid-Afrika byna geword het, wat Suid-Afrika dalk nog steeds kan word as ons nie wakker genoeg is om die verwaarlosing te keer nie.

Doen dit maar self

Koos Kombuis

Laat ons eerlik wees, dis nie net Stellenbosch wat so byna-byna in ’n munisipale ashoop verander het nie. Dinge gaan nou beter daar, en dis nie noodwendig die ANC wat die eer moet kry nie. Stellenbosch is een van ’n hele klompie dorpie in ons land waar mense besig is om self skouer aan die wiel te sit.

Die doen-dit-self-beweging het landwyd vlamgevat.

Ons kan nie langer wag vir Eskom en die regering om ons ligte aan te hou, ons water te suiwer en die slaggate in ons paaie reg te maak nie.

Wat ’n vreugde was dit nie om te sien hoe Solidariteit en AfriForum uiteindelik hul obsessie met Die Stem en die ou vlag opsygeskuif het en al meer sinvolle projekte van stapel stuur nie. Hofgedinge wat werklik ’n verskil maak. En sowaar, ’n nuwe tegniese kollege, oop vir Afrikaanssprekendes van alle rasse!

Bloemfontein, Middelburg, Cradock, Delareyville, Ottosdal, Sannieshof, Alicedale, Hartswater, Loeriesfontein, Bela Bela, Modimolle, Pongola, Parys, Mogale, Mookgophong, Piet Retief, Kimberley, Makhanda, Sasolburg, Rosendal, Riebeeckstad, Bethlehem, Paul Roux, Kuruman, en bes moontlik talle ander ...

Die afgelope weke fynkam ek sosiale media en die koerante vir soortgelyke stories. Dis nie net Flip Buys-hulle wat deesdae hul moue oprol nie!

Op SowetanLIVE lees ek dat groepe oud-gevangenes hande gevat om mislukte munisipale brouwerk in Sebokeng reg te maak.

Ons weet teen hierdie tyd ook almal wat in Koster gebeur het.

Die lys dorpe waar dinge nog wanhopig lyk, waar die wa nog nie deur die drif getrek is nie, is byna eindeloos (gaan kyk gerus na die kommentare op Niel van Deventer se Facebook-bladsy).

Bloemfontein, Middelburg, Cradock, Delareyville, Ottosdal, Sannieshof, Alicedale, Hartswater, Loeriesfontein, Bela Bela, Modimolle, Pongola, Parys, Mogale, Mookgophong, Piet Retief, Kimberley, Makhanda, Sasolburg, Rosendal, Riebeeckstad, Bethlehem, Paul Roux, Kuruman, en bes moontlik talle ander (ek het die lys net so afgeskryf, daar was eenvoudig nie tyd om feite te tjek nie, maar die verrotting strek tien teen een dalk selfs verder as hierdie klompie dorpe).

Die afgelope ruk het daar in die getuienis voor die Zondo-kommissie ’n baie ontstellende prentjie begin vorm van presies waar ons onder die huidige regering met betrekking tot onbekwaamheid, korrupsie en die algehele aftakeling van ons infrastruktuur en instansies staan.

Natuurlik weet ons lankal dat korrupsie op groot skaal plaasgevind het en steeds plaasvind, maar dis asof die ware omvang daarvan ons nou ten volle tussen die oë tref.

Die enkele sukkelende ondernemings in Stellenbosch se middedorp is niks in vergeleke met wat die afgelope kwarteeu – ’n tydperk byna so lank as die jare wat Madiba in die tronk was – aan die gebeur was.

Mars moet nie hiernatoe kom nie

Baie van ons het nog altyd gedink dat die ANC eintlik die regte ding probeer doen, maar gekniehalter word deur ’n gebrek aan ondervinding en blote onbekwaamheid en, toegegee, ’n sosialistiese ingesteldheid wat dinge natuurlik belemmer.

Waarom moes dit ’n lid van die opkomende groep nuwe stemme in die DA, Leon Schreiber, verg om, sy vinger te plaas op ons ergste vrese: Die verstommende moontlikheid dat die vernietiging van Suid-Afrika as ’n demokrasie dalk nie ’n toevallige newe-effek van ANC-beleid is nie, maar hul beleid self?

Dat hulle doen wat hulle doen, nie omdat hulle sukkel om korrupsie te beheer nie, maar omdat die korrupsie self die onuitgesproke (of selfs uitgesproke) doelwit is?

Die Zondo-kommissie vorder eenvoudig te stadig. Een man alleen kan nie alles doen nie. Ons kan nie so langsaam voortbeur in hierdie stryd nie. Dis soos om ’n tsoenami met ’n teelepel te probeer keer.

Die uitsprake van Ace Magashule, Jacob Zuma en die talle kaders en ministers in hul faksie maak dit tog duidelik dat hulle nie korrupsie sien as korrupsie nie, maar as ’n eiesoortige “regstellende aksie” of vergelding teen die stelsel, om nie te praat van ’n minagting van die Grondwet nie.

Dit dring nou eers tot ons deur dat hierdie mense regtig nie omgee hoeveel miljoene Suid-Afrikaners, selfs ANC-gesinde Suid-Afrikaners, deur hulle verarm word nie.

Ek wil dit nie glo nie. Ek wil graag glo dat die reg sy gang sal gaan en dat al die oortreders eersdaags binnekort in oranje truie sal rondloop (en ek praat nie nou van Cheetah-truie nie).

Maar teen die pas van die huidige proses sal ons dalk tot die jaar 2121 moet wag.

Die Zondo-kommissie vorder eenvoudig te stadig. Een man alleen kan nie alles doen nie. Ons kan nie so langsaam voortbeur in hierdie stryd nie. Dis soos om ’n tsoenami met ’n teelepel te probeer keer.

Intussen verlaat opgeleide mense die land teen ’n skrikwekkende spoed en duur die plundery blykbaar ongestoord voort.

Ek wil rêrig nie na Mars toe gaan nie. Ek wil ook nie hê dat Mars hiernatoe kom nie.

Maar sal ons die proses betyds kan keer? Of gaan hulle eendag ’n rover na suidelike Afrika toe moet stuur om te kyk of hier ooit tekens van lewe was?

Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Afriforum  |  Anc  |  Jacob Zuma  |  Ace Magashule  |  Koos Kombuis  |  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Mars  |  Stellenbosch  |  Wanbestuur  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.