Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Deur ’n spieël in ’n raaisel

Die bekroonde dokumentêre rolprent My Octopus Teacher het sy oë oopgemaak vir die verskuilde wêreld wat ons omring, skryf Koos Kombuis.

1 Korinthiërs 13: ‘Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.’ Collage: Koos Kombuis

Dis soos om die eerste tree op ’n ongerepte leë strand te gee.

Binne die bestek van ’n paar weke het albei ons kinders die huis verlaat en nou bevind ek en my vrou ons skielik in daardie gevreesde niemandsland wat die Engelse “the empty nest syndrome” noem.

Dis so stil dat al wat ek kan hoor, ’n ligte gesuis in my ore is.

Wetenskaplikes dink hierdie ligte gesuis is die oorblywende agtergrondgeluid van die “Big Bang”.

Ek weet beter. Dis die stilte wat ’n mens ervaar wanneer niemand meer fight oor wie al die peanutbotter opgeëet het nie. Wanneer niemand meer gil omdat hulle nie hulle foon-chargers kan kry nie. Wanneer niemand meer twaalfuur die nag ’n lift nodig het terug van die een of ander partytjie op ’n nabygeleë dorp nie. Wanneer niemand . . .

Ek kan nie nog voorbeelde noem nie. Dit maak my te moeg.

Ewenwel. Ons is nou daar.

Iewers in die niemandsland tussen ouerskap en die ewige hiernamaals.

Wat doen ’n mens?

Een aand, ná die soveelste gewyde en plegtige aandete, kyk my vrou moedeloos na my en sê oplaas: “Kom ons gaan fliek.”

Fliek?

Ek is al so gatvol dat almal nou al weke daarvan praat. Oor hoe hulle nooit weer calamari gaan eet nie. En hoe amazing dit is dat ’n seekat eintlik ’n soort slak is, en niemand het geweet slakke is slim nie, en so aan, en so aan, en so aan – tot vervelens toe . . .

Doen mense nog sulke goed?

Natuurlik het sy bedoel Netflix. Wat ’n verligting. Ons kan sommer in ons eie huis gaan fliek. Dis toe after all nie nodig vir my om my ou stukkende sweetpakbroek en pantoffels te verruil vir een van my nuwere sweetpakbroeke en my fênsie Crocs nie.

Kort voor lank sit ons in die donker voor die TV-skerm, net ek en sy en die hond, elkeen (behalwe die hond) met ’n glasie wyn en ons betree die wonderwêreld van die seelewe onder Valsbaai se branders.

Want dis die fliek wat sy vir ons uitgesoek het: My Octopus Teacher.

Nou eers.

Ál my vriende het dit al gesien.

Ek is al so gatvol dat almal nou al weke daarvan praat. Oor hoe hulle nooit weer calamari gaan eet nie. En hoe amazing dit is dat ’n seekat eintlik ’n soort slak is, en niemand het geweet slakke is slim nie, en so aan, en so aan, en so aan – tot vervelens toe . . .

In kort: ek wou dit nie aan my vrou erken nie, maar ek was rêrig nie vreeslik baie lus vir ’n movie oor ’n seekat nie.

Maar nou ja, vanaf die eerste oomblik was die natuurtonele onder die see nogal mooi. Ek het ons glase weer volgemaak en ek het ingesettle vir ’n dokkie oor seewiere en visse. Disovery Channel, hier kom ons.

Maar toe, ’n paar minute nadat die movie begin het, sê Craig Foster meteens iets wat my laat regop sit.

“I started going every day.”

Net dit. Net hierdie kort weggooi-oneliner.

“I started going every day.”

Toe weet ek: hier kom iets meer as ’n Discovery Channel-dokkie.

Hier kom ’n journey . . .

Tyd om diep te raak

’n Skermgreep uit die bekroonde dokumentêre rolprent ‘My Octopus Teacher’. Foto: Netflix

Nou gaan ek begin diep raak.

Laat ek dit nou maar erken: ek het vriende wat mediteer. Nie baie nie, maar ’n hele paar.

Hulle beweer hulle doen dit elke dag.

Hulle beweer dat, wanneer hulle mediteer, hulle voel asof hulle ’n ander wêreld binnegaan. Party van hulle sê dit voel of hulle gewigloos word.

Ek persoonlik hou daarvan om te lê en dagdroom, veral vroeg in die oggend met ’n koppie koffie in die bed, maar ek het nog nooit die geduld gehad om formeel te sit en te mediteer nie.

Dis in elk geval nogal moeilik om my bene te kruis in ’n lotus-posisie. My maag is in die pad. En ek kry elke keer die vreeslikste krampe in my kuite.

Maar toe ek sien hoe Craig Foster so onder die water rond float, gewigloos en al tjorrelend met sy snorkel, toe weet ek: hy het kortpad gekies na Nirvana.

Hy is in sy eie hemel!

Want dit is mos meditasie par excellence.

Daar is ’n wonderwêreld vol aliens om te ontdek net onder die water van Valsbaai se kus!

En ja, daar ís ’n ander wêreld om te ontdek. Rudolf Steiner was reg. Dis net anderkant die wêreld van ons alledaagse sintuie. Dis slegs ’n paar tree weg. Dis onder die branders.

En as dit daar is, kan dit enige plek wees. Jy moet net jou oë oopmaak en kyk. Of jou chakras. Whatever. Jy moet iets oopmaak. En jy moet kyk. Rêrig kyk.

Hoekom wil mense in elk geval gaan soek na lewe op ander planete?

Daar is ’n wonderwêreld vol aliens om te ontdek net onder die water van Valsbaai se kus!

As Craig Foster kon optjommie met ’n seekat, is die mensdom mos gereed vir ontmoetings met wesens uit die buitenste ruim! Wat is die verskil?

Dis regtig tyd die wetenskaplikes gaan sit en snags waghou om te kyk wie maak die crop circles . . .

Dít was vir my die grootste les van My Octopus Teacher: die werklikheid is nié vervelig nie.

Nie eens al is jou kinders uit die huis uit is nie. Nie eens as jy heeldag rondloop in jou ou sweetpakbroek terwyl jou ore suis nie.

Verskuilde wêreld

Koos Kombuis

Ek verstaan nou op my oudag al hoe meer waaroor mense soos Eckhard Tolle en Greg Braden al so lankal aangaan. Hulle sê dit almal in verskillende woorde, maar hulle is dit almal eens: Daar is ’n verskuilde wêreld net agter die oogklappe van ons sintuie.

Dis nie ’n geestelike wêreld nie. Dis die regte wêreld. Ons is die geestelike wêreld, want ons lewe in ’n droom. Ons kan net nie sien wat rêrig daar is nie. Want ons kyk teen ons eie ooglede vas.

Soos Paulus tereg sê: ons kyk “deur ’n spieël in ’n raaisel”.

Ons dink ons is so moerse slim. Ons dink ons weet presies hoe alles werk en inmekaarsteek. Ons dink ons weet hoekom die rand daal en hoekom die petrolprys styg en wat die prys van ruolie is en ons weet daar gaan f*k*l aan op Mars.

Maar eintlik is ons blind.

Ons is nie meer bewus van die magiese deel van werklikheid, die klein wonderwerke wat ons omring nie. Ons hoor nie meer die eerste reëndruppels op die sinkdak nie. Ons is nie meer verstom oor die patrone in ’n herfsblaar nie.

Ons foeter blindelings voort sonder om onsself toe te laat om verwonderd te staan voor die skepping en al sy sigbare en versteekte grootsheid.

Maar nou het die vervaardigers van My Octopus Teacher vir ons ’n visuele beeld gegee om ons daaraan te herinner. ’n Metafoor wat ons kan help om daardie dieper werklikheid te verbeel, en daarin te glo.

Veels geluk, mnr. Foster en mev. Seekat!

Ek hoop julle word nog baie meer famous en ek hoop hierdie wonderlike movie van julle wen nog sommer tonne en tonne pryse . . .

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Craig Foster  |  My Octopus Teacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.