Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Die fascistiese eksperiment

Die wêreld het al, ook in ons eie tyd, harde lesse uit fascistiese eksperimente geleer. Koos Kombuis wonder of daar nog êrens ’n middeweg is in die donker toekoms wat dikwels voorspel word.

Skets: Koos Kombuis

In 1967 het ’n geskiedenisonderwyser van ’n hoërskool in Kalifornië ’n klaskamer-eksperiment gedoen om te probeer verklaar hoekom die Duitse bevolking die optrede van die Nazi-regime tydens die Tweede Wêreldoorlog so maklik aanvaar het sonder kritiek of opstand.

Oor ’n tydperk van vyf dae het Ron Jones ’n politieke “revolusie” onder sy studente van stapel gestuur. Dit was grootliks blufspel. Hy het sy leerlinge oortuig dat die “organisasie” wat hy ondersteun het, die sogenaamde Derde Golf deel was van ’n landwye beweging en dat hulle binnekort hul eie presidensiële kandidaat op TV sou bekendstel.

Waarom is sulke 'eksperimente' soos populistiese bewegings so gewild, en dikwels op groot skaal suksesvol?

Die “Derde Golf” was geskoei op die lees van die Nazi-party, met fascistiese ondertone en ’n sterk klem op dissipline.

Jones se “eksperiment” het byna in sy gesig ontplof toe baie jong mense wou aansluit en dit gelyk het asof hulle dit ernstig opneem. Hy moes inderhaas die aftog blaas en het in die media openbaar dat “Die Derde Golf” inderdaad nie werklik bestaan nie, maar dat dit ’n foefie was.

Waarom is sulke “eksperimente” soos populistiese bewegings so gewild, en dikwels op groot skaal suksesvol?

As die laat 18de eeu die geboorte gesien het van nuwe tendense in Amerika en Frankryk soos demokrasie en die “sosiale kontrak”, was die 20ste eeu die tyd toe die mensdom hierdie belowende bewegings in die rigting van vryheid op verskillende maniere gekorrupteer en gemanipuleer het.

Koos Kombuis

Wat veronderstel was om die eeu van beskaafde konsensus te wees, het plek-plek verander in die eeu van fascisme soos despotiese leiers die een ná die ander die leisels oorgeneem het in Italië, Duitsland, Rusland en elders.

Ek sê “despoties”, maar wat vreemd is, is dat fascisme in die meeste gevalle nie afgedwing is op die bevolkings van daardie lande nie. Dit is ontwerp en geskep en voortgestu deur politici wat wettiglik verkies is en die idees wat hulle gepropageer het, is wyd aanvaar.

Dit was die romanskrywer Charles Dickens wat reeds in die loop van die 19de eeu, nog voor die geboorte van fascisme in Europa, in meer as een van sy boeke gewaarsku het teen die gevaar van groepsfanaticisme. Hy was gekant teen die opsweping van die massas, selfs opsweping vir ’n goeie doel soos die Franse Revolusie.

“A multitude of people,” het Dickens hierdie gewelddadige straattonele beskryf, “and yet a solitude.”

Hy was deeglik bewus van die gevaar dat slaafse navolging en groepsfanaticisme op die ou end sou kon lei tot die siniese uitsigloosheid van politieke diktatorskappe: “Repression is the only lasting philosophy. The dark deference of fear and slavery, my friend, will keep the dogs obedient to the whip, as long as this roof shuts out the sky.”

Latere romanskrywers in die 20ste eeu, soos George Orwell (Nineteen Eighty Four) en Arthur Koestler (Darkness at Noon), sou in hulle fiksie die logiese uiteinde van fascisme as ’n eksperiment nog meer grafies beskryf.

Was Trump net sleg?

Pres. Donald Trump van Amerika besig met ’n toespraak. Was daar enige positiewe aspekte tydens sy termyn as president? Foto: Reuters

Ons beleef deesdae nog steeds heelwat moderne politici wie se dade en optredes, hoewel altyd nie so verregaande soos dié van Adolf Hitler of Josef Stalin nie, gevaarlik oorhel in die rigting van fascisme.

Die nar van Brasilië, Jair Bolsonaro, is die sprekende voorbeeld van hierdie soort leier.

’n Mens dink ook aan sekere aspekte van die leierskap van mislukte en gehate staatshoofde soos ons eie Jacob Zuma, om nie van Amerika se Donald Trump te praat nie.

Ek moet seker versigtig wees om Donald Trump te sleg te sê. Vele ander rubriekskrywers doen dit beter as ek. Om eerlik te wees, kom ons noem, ter wille van balans, ’n paar van die positiewe gevolge van Trump se termyn as president.

’n Gewigtige taak wag op Joe Biden, Amerika se volgende president. Foto: Reuters

Een. Hy het bewys dat die Amerikaanse kiesstelsel werk. Dit is inderdaad so dat enigiemand, letterlik enigiemand, president van Amerika kan word. Ek wens soms so iets was moontlik hier by ons. (Of dalk moet ’n mens pasop waarvoor jy wens?)

Twee. Hy het, sonder dat hy dit so bedoel het, die demokrasie versterk, want ’n geweldige hoë persentasie Amerikaners het gaan stem in die afgelope verkiesing. Dit bewys die mense glo nog in die stelsel ondanks fopnuus, samesweringsteorieë en kollektiewe sinisme.

Drie. Hy was die eerste president wat absoluut net gedoen het wat hy wil sonder inagneming van die gevolge. Dit klink na ’n slegte ding, maar feit is hy het man-alleen die liberale establishment tot in hul skynheilige en oorgeruste fondamente geskud. Ek dink die skok het hulle eindelik ’n bietjie wakker gemaak!

Ongelukkig was daar meer negatiewes as positiewes. Die blatante aanhitsing van rassisme, die verskrikking van sy eensydige en naïewe buitelandse beleid, om maar twee te noem.

Oor Zuma wil ek nie veel sê nie. Die aantygings teen hom is wyd bekend.

Hy het minstens twee slegte dinge gemeen met Trump: minagting vir reëls en regulasies, en die verbete vasklou aan mag en invloed lank nadat sy tydperk in die tuig al verby is.

Is daar ’n middeweg?

Geliefd? Adolf Hitler, leier van Nazi-Duitsland, tussen sy ondersteuners. Foto: Getty Images

Waarom eksperimenteer die mensdom nog met fascistiese politiek in hierdie nuwe eeu? Moes dit nie al uitgesterf het nie? Gaan ons nooit iets leer uit die lesse van die geskiedenis nie? Waarom terroriseer Isis die burgers van Mosambiek? Waarom wil Kim Jong-oen nog steeds missiele afvuur na lande met wie hy nie in ’n staat van oorlog verkeer nie?

Waarom bedryf Israel ’n moderne soort apartheid met inwoners van sy buurlande? Wat de hel gaan aan in Sirië? Wie is reg en wie is verkeerd?

Ek het die afgelope tyd baie oor hierdie dinge probeer uitvind deur webtuistes te besoek, webtuistes met amptelike beriggewing en menings sowel as dié van ouens wat fopnuus opdis.

Overgeset synde: ons is óf almal in ons peetjie in en dis die einde van die mens se heerskappy op Aarde, óf ons gaan almal vegetariërs word en die pragtigste T-hemde dra!

Iets wat my opval, en dit is eintlik al lankal so, is dat mense basies eintlik slegs twee verskillende toekomsvisies huldig oor waarheen ons planeet op pad is.

Daar is dié wat glo, saam met die fundamentalistiese Christene, party van die omgewingsaktiviste, en ander groeperinge, dat ons op pad is na ’n onafwendbare donker toekoms, en dat die mensdom binnekort oorheers gaan word deur ’n Antichris-figuur – die aartsfascis! – of verswelg gaan word deur weghol-natuurrampe, hongersnood en ekonomiese verval.

Dan is daar die positiewe mense. Dit sluit in beide die “hip” wetenskaplikes soos Elon Musk, wat ’n plan vir alles het, en die idealistiese New Agers wat glo dat ons as spesies besig is om wakker te word uit die slaap van die eeue, dat ons binnekort ’n “tipping point” van geestelike verligtheid sal bereik, en dat ons dan ’n utopie sal binnegaan waarin ons eindelik sal afreken met die goggas soos oorlog, hebsug, en totalitarisme.

Overgeset synde: ons is óf almal in ons peetjie in en dis die einde van die mens se heerskappy op Aarde, óf ons gaan almal vegetariërs word en die pragtigste T-hemde dra! In ieder geval het Jan Braai nie ’n kans nie!

Jeugdiges paradeer met ’n reusefoto van Josef Stalin, die Sowjet-diktator. Foto: Getty Images

Maar is daar dalk ’n middeweg? Is dit werklik moontlik dat Joe Biden ’n verskil kan maak en ons terugbring na ’n plek van tydelike normaliteit in hierdie waansinnige eeu van uiterstes?

En wat van Cyril Ramaphosa? Ons het ons twyfel, maar hy is immers ’n vars briesie ná Zuma.

Wie weet? Wat sê ons skrywers en denkers? Is daar werklik iets soos ’n “Derde Golf”, en is dit goed of sleg? Was Alvin Toffler reg? Of moet ons alles los en vir eers net fokus op klimaatsverandering, soos Greta Thunberg wil hê?

Wat ook al gebeur, ek hoop van harte dat die staatshoofde van die wêreld nou vir eers hul mal ideologieë kan opsy skuif en ophou met politieke eksperimente.

En ek wens, ja, ek bid en hoop en glo dat wat die toekoms ook al inhou, nuwe vorms van meelewendheid, nugtere denke en pragmatisme eindelik op hierdie blou sfeer, ons aarde, sal seëvier.

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jair Bolsonaro  |  Joe Biden  |  Koos Kombuis  |  Donald Trump  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Adolf Hitler  |  Amerika  |  Brasilië  |  Rusland  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.