Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Die grense van doen en weet

Ons kort nuwe idees, nuwe planne, nuwe maniere van kyk na die wêreld terwyl ons sekerhede weggekalwe word, skryf Koos Kombuis.

Die afgelope paar maande is dit asof dit erger word.

Oopkop Suid-Afrikaners – dié wat graag wil glo dat reg en geregtigheid sal seëvier en dat ons land op die herstelpad sal beland – voel toenemend soos gelowiges wie se gebede eenvoudig nie verhoor word nie.

Ons wil glo dat die ANC onder pres. Cyril Ramaphosa die spreekwoordelike bul by die horings gaan pak en al die dinge sal doen, die eintlik vanselfsprekende dinge, om die beste uit ons groeipotensiaal te kry en uit die malaise van die afgelope dekade te ontsnap.

Die meeste van die tyd lyk dit asof die hoop beskaam. Ons is vasgevang agter ’n toe deur. Ons kan die blou lug daarbuite sien deur die venster, maar die deur is dig gesluit en niemand het die sleutel nie.

Skets: Koos Kombuis

As die voorgenome nuwe gesondheidswetgewing ons iets geleer het, is dit onteenseglik die volgende: Die probleem met die ANC is nie slegs korrupsie nie. Die probleem is hul hopeloos gedateerde, onpraktiese, sosialistiese ingesteldheid.

Jy kan dit nie uit hulle bliksem met ’n besemstok nie. Dis hul default mode. Dis waarin hulle glo. Dit gaan nie verander nie. En solank dit nie verander nie, stuur ons af op die een dooiepunt op die ander.

Ek moet hierdie standpunt dalk kwalifiseer. Dit klink nou asof ek self ’n volslae kapitalis is. Dis nie so eenvoudig soos dit nie.

Ja, ek glo in die vryemarkstelsel, in entrepreneurskap, want ek weet sosialisme is uitgedien. Myns insiens is sosialisme meesal die ideologie van dom of oneerlike mense.

Die hemel weet wat ons in die plek daarvan gaan stel die dag as kapitalisme tot ’n val kom.

In ’n onlangse onderhoud met Carla Lewis het Mcebisi Jonas egter iets gesê wat my laat dink het. Hy het gesê: “Maklike oplossings soos sosialisme of kapitalisme gaan ons nêrens bring nie.”

Dis interessant dat hy kapitalisme en sosialisme saam noem, asof dit ewe sleg is. En dis iets waaroor sekere ekonome en denkers nou al lank gesels: die feit dat kapitalisme soos ons dit leer ken het, vir die eerste keer in die geskiedenis nie meer ’n volhoubare opsie vir alle tyd en ewigheid in die toekoms is nie.

Die hemel weet wat ons in die plek daarvan gaan stel die dag as kapitalisme tot ’n val kom. Die dag wanneer omstandighede, die klimaat, maatskaplike ongelykhede, outomatisering en onbestrede groot monopolieë so erg word dat nie eens die getroue ou “onsigbare hand” meer sy werk kan doen nie.

Sekerhede word wêreldwyd weggekalwe

In vele opsigte lyk dit asof die wêreld op die rand van ’n afgrond steier. Ja, dis nie net Suid-Afrika nie. Ons is almal in die k*k.

Die menslike spesie is in die k*k.

Dit strek verder as slegs die ekonomie.

Koos Kombuis

Ons wetenskap, ons geloof, ons maatskaplike kohesie, ons heersende narratiewe, die bakermat van alles waarop ons kollektiewe identiteit in die sogenaamde beskaafde Westerse wêreld gegrond het, word skielik alles op een slag onder ons voete weggekalwe.

Soos die ysblokke van die Noordpool al vinniger in die see stort, so verloor ons die een sekerheid ná die ander.

Dit is aaklig om jou sekerhede te verloor. Dit is ontwrigtend om eensklaps te besef die dinge waarop jy nog altyd staatgemaak het, werk nie meer nie.

In soveel vakgebiede het ons onsself nou al teen geslote deure vasgeloop.

Ons wetenskap en navorsing het ons gebring tot by ’n breuksekonde van die Oerknal af. Ons sal egter nooit weet wat die Oerknal veroorsaak het of voorafgegaan het nie.

Ons sterkste antibiotika kan nie meer ou bekende siektes beheer nie, want die kieme en virusse is blykbaar slimmer as ons.

Ons het die atoom gesplit tot by die kleinste kwantum-eenheid moontlik, net om te besef: Ons het geen begrip van wat dit is of hoe die reëls werk wat dit beheer nie.

Dis asof, met die verlies van ons sekerhede, die gom wat die res van ons samelewing aanmekaar bind ook besig is om mee te gee.

As die planeet vergaan, sal daar nog iewers ’n huisie by die see wees?

Hoe het die ou Romeinse beskawing ten gronde gegaan? Hulle is deur hordes vreemdelinge oorval wat eenvoudig oor hul grense gestroom het. Rome het nie die wil gehad om hulle te keer of sinvol te integreer in hul stelsel nie.

Is dit nie wat nou met Europa gebeur nie?

Partykeer lag ek my dood – ja, ’n mens kan seker nog lag ook, al is dit lag met ’n traan – oor Donald Trump se planne om ’n muur te bou tussen die Verenigde State en Mexiko.

Dan kyk ek na ons gunsteling-program op DStv, House Hunters International. Dit gaan oor welgestelde Amerikaners wat ’n heenkome wil soek in ander lande. Die helfte van hulle wil net Mexiko toe vlug. Hulle soek ’n huisie by die see weg van al die stres en geraas.

Sal die muur vir hulle ook werk? Of gaan dit ’n eenrigting-muur wees?

As die planeet vergaan, sal daar nog iewers ’n huisie by die see wees?

“Hulle soek ’n huisie by die see . . . ” Skets: Koos Kombuis

Ons sal nuut moet begin dink

Ons kort nuwe idees, nuwe planne, nuwe maniere van kyk na die wêreld. Die oplossings van die 20ste eeu gaan nie meer werk in die 21ste eeu nie.

Maar waar is die skrywers en profete en die denkers wat vir ons moet sê wat ons te doen staan? Hoe kan ons die regte ding doen as niemand weet wat om te doen nie?

As daar een skrale troos is tussen al hierdie treurmares deur, is dit die verfrissende en ietwat skokkende besef: Suid-Afrika is nie die enigste land wat voor ’n stel skynbaar onoorkombare probleme sit nie. Dis nie net ons deur na ’n goeie toekoms wat gesluit is sonder ’n sleutel nie.

Al hierdie manewales, al hierdie geswoeg en geraas en lawaai is maar net simptome van ’n uitsiglose wêreld.

In die jaar 2019 het die hele wêreld homself in ’n hoek vasgeverf sonder uitkoms.

G’n wonder die mense gaan berserk in die strate van Hongkong nie. G’n wonder ’n wêreldoorlog dreig alweer tussen Oos en Wes nie.

Al hierdie manewales, al hierdie geswoeg en geraas en lawaai is maar net simptome van ’n uitsiglose wêreld.

Ons het klaar die planeet in sy peetjie gestuur. Die enigste vyand wat oorbly is onsself.

Is dit waardeur ons in die gesig gestaar word: die Internasionale Selfmoord van die Menslike Spesie?

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Donald Trump  |  Cyril Ramaphosa  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Mexiko  |  Sosialisme  |  Kapitalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.