Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Die liberale teleurstelling

Hy voel vandag jammer vir die liberales in ons midde, skryf Koos Kombuis. Hulle het nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd, hul oorheersing ingeboet.

Koos Kombuis

Tot relatief onlangs was liberalisme die heersende en aanvaarde narratief waaraan sogenaamde oopkop mense, veral in die Weste, geglo het.

Dis maklik om te verstaan. Op papier maak die waardes en moraliteit van liberalisme perfekte sin. Soveel so dat mense wat hierdie ideologie aanhang, gewoonlik geen idee het hoekom enigiemand daarteen gekant kan wees nie.

David A. Bell, in sy onlangse essay “The Many Lives of Liberalism”, beskryf dit so:

“While the collapse of communism did not bring history to an end, it did, briefly, seem to establish a worldwide consensus of sorts. Had one particular social and political system, by dint of hard experience, proven superior to all its rivals? Apparently yes. That system was what could be called the liberal ideal, constructed around representative democracy, human rights, and free-market capitalism complemented by a strong social safety net. If this system did not turn out to be the inevitable, placid, posthistorical future of all mankind, as predicted in Francis Fukuyama’s notorious 1989 essay, it nonetheless stood as a goal toward which all humanity was now going to strive.”

Wapens eerder as kos

Die situasie lyk nou anders.

Ek dink die eerste groot terugslag vir liberalisme as ’n vanselfsprekende lewensuitkyk was die mislukking, in die middel 80’s, van Bob Geldof se pogings om hongersnood in Afrika met fondsinsamelings deur musiekkonserte en opnames te verlig.

Met sy Band Aid-veldtog het hy miljoene ingesamel – net om te sien hoe die meeste van sy geldskenkings deur korrupte Afrika-diktators gebruik word om gewere en wapens te koop om burgeroorloë mee te voer.

Ek kan verstaan hoe Geldof se kop gewerk het. Hy het aangeneem dat die ouens in Ethiopië sou sê: “Jolly good, thank you, Bob, old chap, this will really help our hungry children! Everybody, stand in line for your free cheeseburgers!”

Regse sentiment verdring liberalisme

Is hy regs of nie? Dis moeilik om ’n etiket om pres. Donald Trump van die VSA se nek te hang. Foto: AP

Die totale misverstand tussen Geldof en Afrika-leiers was een van die eerste groot “liberale teleurstellings” van ons eeu. Dit was nie die laaste een nie.

Hieroor skryf Bell in dieselfde essay as volg:

“That consensus seemed to hold even after the bloody disintegration of Yugoslavia and the September 11 attacks. Now, however, it is fracturing. Around the world, populist politicians on the right are winning elections by warning demagogically that representative democracy and human rights policies are too weak to protect hardworking, native-born families against threats from beyond their national borders—especially terrorists and migrant hordes.”

Inderdaad is ’n nuwe vlaag van regse sentiment besig om die heerskappy van die liberale denkwyse te onttroon.

Ek gebruik die woord “regse sentiment” by gebrek aan ’n beter term, want die saak is nie so eenvoudig nie.

Is Donald Trump byvoorbeeld ’n suiwer regse politikus? Dis moeilik om ’n etiket aan sy waansin te gee.

Trump kon ’n krisis hanteer waaraan die liberales van die wêreld niks kon doen nie.

En as ek duiwelsadvokaat mag speel: Sou Trump so maklik aan bewind gekom het as gewone mense – nie noodwendig dom of rassistiese Amerikaners nie – nie ook gatvol begin raak het vir die airy-fairy-praatjies en meerderwaardige baasspelerigheid van die arrogante liberale establishment nie?

Barack Obama was jou tipiese liberaal. (Die liberales het natuurlik ekstra baie van hom gehou omdat hy swart was.) Obama het die hand van vriendskap uitgesteek na lande soos Iran terwyl hy met sy ander hand hommeltuie wêreldwyd uitgestuur het om politieke moorde te pleeg. Tog word hy vandag nog beskou as ’n nice ou. Hy het immers die Nobelprys vir Vrede gekry.

Ek wil een positiewe ding oor Trump sê, en ek weet vandag se lefties gaan my kruisig hieroor, maar sou ’n sogenaamde nice en beskaafde ou soos Obama geweet het hoe om Kim Jong-oen te hanteer?

Kim sou Obama uitgelag het. Maar hy het geluister na Trump. Een boelie het die taal van ’n ander boelie verstaan – en so is ’n Derde Wêreldoorlog afgeweer.

Dit was Trump se grootste oomblik. Dalk sy enigste groot oomblik. Daar was selfs kortstondige sprake dat hy die Nobelprys vir Vrede moet kry.

Hy kon ’n krisis hanteer waaraan die liberales van die wêreld niks kon doen nie. Want Kim en die liberales praat eenvoudig nie dieselfde taal nie en hulle kan mekaar nie hoor nie.

Linkses in SA krap liberales om

Liberale handdruk. Skets: Koos Kombuis

Dieselfde probleem van groepe mense wat mekaar nie kan hoor of verstaan nie, kry ons vandag in Suid-Afrika. Hier is dit egter die massas sogenaamde linkses, eerder as die splintergroepies regses, wat liberales die harnas injaag.

Bell stel dit so:

“At the same time, a resurgent socialist left is gaining support by warning that liberal social democracy is too fragile to protect ordinary people from the ever more disruptive forces of global capitalism.”

Die ouens wat in die middel 90’s ons nuwe Grondwet neergepen het, het dit gedoen in die gees van idealistiese liberalisme. En die dokument wat hulle daargestel het, word allerweë beskou as ’n meesterstuk van die genre. Een van die beste liberale grondwette wat ooit neergepen is.

Net jammer die meeste mense van Suid-Afrika het geen benul wat liberalisme, nie eens die goeie outydse soort liberalisme, beteken of probeer bereik het nie.

Die wêreld word vandag gedryf deur primitiewe magte en niemand speel meer volgens die reëls nie.

Toe FW de Klerk, Roelf Meyer en die eertydse maghebbers rondom 1994 die mag aan die meerderheid kiesers oorgegee het, het hulle waarskynlik gehoop dat daar vinnig ’n konsensus onder alle Suid-Afrikaners sal ontstaan wat die mark ondersteun, welvaart skep en beleggings asook vrye onderneming aanmoedig sodat die kloof tussen wit en swart oorbrug kan word.

Ons weet vandag dat dit nie die visie van die ANC was nie. Die ANC het daardie onderhandelinge beskou as net nog ’n stap in hul eie teenkapitalistiese revolusie. Gelyke geleenthede en broederskap was, ondanks Mandela se mooi woorde, toe nie so hoog op hul agenda soos wat almal gedink het nie.

Om hierdie rede voel ek vandag jammer vir die liberales in ons midde. Hulle het nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd, hul oorheersing ingeboet. They have lost the cutting edge.

Watter nuwe idee moet ons aanhang wat die opmars van die onnadenkende, selfsugtige massawaansin sal stuit?

Die wêreld word vandag gedryf deur primitiewe magte en niemand speel meer volgens die reëls nie. Dit plaas die sogenaamde “goeie mense” in ’n unieke dilemma.

Want as die liberale etos nie meer dit verpersoonlik waarvoor ’n oopkop lewensingesteldheid staan nie, wat sal dan werk?

Watter taal moet ons praat, watter nuwe idee, geloof of plan moet ons aanhang wat die opmars van die onnadenkende, selfsugtige massawaansin van ons moderne samelewing in sy spore kan stuit?

Ek wens ek het geweet . . .

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Barrack Obama  |  Koos Kombuis  |  Donald Trump  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.