Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Die mooiste kleinhuisie in die land

Steve Hofmeyr en Julius Malema moet dalk meer dikwels platteland toe gaan, want daar kan jy alles vergewe en vergeet, skryf Koos Kombuis.

Koos Kombuis

Die afgelope paar jaar toer ek deur die land en sing my hart uit.

Veral op my toere in die platteland het ek deur die jare wonderlike vriende gemaak in plekke so ver en wyd soos Dullstroom, Secunda, Welkom, Graaff-Reinet, Parys, Kakamas, Williston, Nieu-Bethesda en vele ander.

Dis ’n wêreld wat in ’n mens se hart inkruip. Dis ’n wêreld wat die trendy lefties in die stede eenvoudig nie kan begryp nie. Dis ’n wêreld waarvan die DA-koukus of die ANC se topbestuur absoluut niks weet of voor omgee nie.

As hulle enigsins omgegee het, sou hulle lankal die koalisies laat werk het en die slaggate in die paaie reggemaak het. Om nie te praat van die st***t in die Vaalrivier nie.

Die platteland is ’n wêreld op sy eie. G’n wonder Fokofpolisiekar sê die hemel is iewers in die platteland nie.

Net in die Suid-Afrikaanse platteland sal jy soms, as jy vra vir ’n glas rooiwyn, ’n koeldrankglas en ’n boks soetwyn kry.

Net in die platteland sal jy buite ’n venue, waar jy die aand moet sing, ’n bordjie sien wat sê:

GEEN MANS IN TANK-TOPS

GEEN BAKLEIERY

Slegs in die platteland sal jy sulke aweregse en wilde kunswerke kry soos hierdie toilet op die foto wat ek verlede week in die gaste-chalet langs Dozi se heerlike nuwe Back to the Blues-musiekvenue geneem het.

Die mooiste kleinhuisie in die land. Foto: Koos Kombuis

En net in die platteland sal jy sien hoe die sosiale toneel oornag ná die dagga-hof-uitspraak verander: Opgeskote jong manne wat opdaag by ’n paartie van lewende musiek, nie met ’n coolbox vol bier nie, maar met ’n reusagtige allemintige Turkse pypgedoente met buise en kinkels en goeters, en dan vra: “Oom, kan ons hier binne rook, Oom?”

En dan antwoord die oom: “Nee, nefies, maar gaan maar daar om die hoek in die agterplaas waar julle niemand pla nie.”

Ongehoord.

Steve-hulle se nuutste

Volgens my huisdokter, Frikkie, sal ek nie vir altyd kan aanhou toer en musiek maak nie. Ek het glo artritis in my linkerhand (ja, dis die hand waarsonder ek nie my beroemde vyf akkoorde kan speel nie!).

Dit raak stadig erger, maar gelukkig het hy vir my pille gegee wat baie help.

Ek hoop my linkerhand hou nog ’n paar jaar. Ek wil nie ophou om die wondere van die platteland te beleef nie.

En ek wil ook nog, voor ek my kitaar finaal bêre, sulke mooi liedjies probeer skryf soos Steve-hulle se nuutste.

Die komposisie is goed, die stemme uitmuntend, die beeldmateriaal treffend. Hoewel die lirieke na “my vlag” verwys, word die ou oranje-blanje-blou nêrens vertoon nie, en dis nie duidelik na watter vlag verwys word nie. Daar is selfs ’n paar swart gesigte in die video te sien.

’n Hartroerende liedjie wat ’n mens vervul met passie vir jou land en wat ’n mens laat lus voel om op jou knieë te gaan en vir die toekoms van ons en ons kinders te bid.

Ek kan nie soggens vir myself in die spieël kyk sonder om trekke te sien van die persoon wat ek lank gelede was nie.

Dis ’n liedjie wat jy net regtig kan verstaan as jy al in die platteland was.

Natuurlik is daar ’n probleem. Nie met die liedjie self nie, maar met die konteks. Wat nou van al die vreeslike goed wat Steve al voorheen gesê het?

Dis alles goed en wel om ’n opregte passie vir jou land te hê, soos wat hy ongetwyfeld het, maar is passie en opregtheid die volle antwoord?

Die genie is uit die bottel. Die kwaad is gesaai. Bygesê: Ek is self hoegenaamd nie onskuldig aan soortgelyke paradokse nie.

Ek kan nie soggens vir myself in die spieël kyk sonder om trekke te sien van die persoon wat ek lank gelede was nie, die persoon wat ek probeer vergeet: die arrogante, gerookte, half benewelde protessanger met die stink onderbroeke en die dosyne wrokke teen medekunstenaars, ouers, en self.

Net so wonder ek hoe iemand soos Steve in die spieël kan kyk sonder om die paradoks te beleef van die uiterste rassepolarisasie waarin hy, gegrond op sy vorige uitsprake en optredes, blykbaar staan. ’n Mens word wat jy haat. Dit is wat ek bedoel met die woord “paradoks”.

Illustrasie: Koos Kombuis

As Steve en Julius dalk kan saamsing . . .

Soms is opregtheid nie genoeg nie. Julius Malema is net so passievol soos Steve, en hy glo net so opreg in sy saak soos Steve. Maar, soos met Steve, is die dinge wat hy gesê (en gesing) het (en steeds sê en sing) uiters skadelik en gevaarlik vir Suid-Afrika.

Dalk moet hulle meer dikwels platteland toe gaan. Dalk moet hulle die kennisgewingbord ter harte neem wat sê:

GEEN BAKLEIERY

Dis die een rede hoekom ek so lief is daarvoor om deur die platteland toe toer. Want daar kan jy alles vergeet en vergewe. Daar kan jy heling vind en weer begin glo in ’n toekoms vir jou en jou kinders. Daar kan jy ook met jouself vrede maak.

Eendag as ek my kitaar gebêre het, sal ek wil teruggaan na die platteland en iewers in die veld onder ’n oop lug staan en opkyk na die sterre en vir myself sê: Wat ’n amazing plek sal Suid-Afrika nie wees die dag as Steve en Julius sáám ’n liedjie opneem nie . . .

Suid-Afrika sal net so mooi soos daai k@khuis op Dozi se plaas wees.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Koos Kombuis  |  Julius Malema  |  Oos-Kaap Naweek  |  Platteland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.