Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Die Revolusie is in ’n doodloopstraat

Suid-Afrika se revolusionêres het hulself in die voet geskiet. Want rykdom kan nie herverdeel word as daar nie meer rykdom is om te verdeel nie, skryf Koos Kombuis.

Koos Kombuis

Daar was vanaf die begin – sedert die koms van demokrasie, en reeds vroeër – twee denkrigtings in die ANC en die struggle as geheel oor wat presies die oogmerke van die bevrydingsbeweging was.

Met watter verwagtinge het hulle na die onderhandelingstafel toe gekom? Hoe het hulle die toekoms van Suid-Afrika gesien?

Te midde van die euforie van die middel-90’s was dit nie uit die staanspoor duidelik in hoe ’n mate hierdie twee ideologiese uitgangspunte van mekaar verskil het nie. Die kloof tussen die twee perspektiewe het egter gaandeweg al groter gegroei.

Vandag sit ons met ’n regering wat tegelyk op albei stoele probeer sit – met rampspoedige gevolge.

Ek dink ek kan met redelike sekerheid sê dat die kanse op versoening in die ANC feitlik nul is. Die faksies sal mekaar nooit vind nie. Die enigste werkbare opsie, uit die ANC se oogpunt, is dat een faksie die knie voor die ander een buig.

Die stryd in die ANC is ’n stryd tussen die pragmatiste en die revolusionêres. Dis so eenvoudig soos dit.

Nelson Mandela was ’n pragmatis. Hy was dit dalk nie in die begin van sy loopbaan as vryheidsvegter nie, maar dure ervaring in die leerskool van politiek het sy denke geslyp tot wat dit uiteindelik geword het. Hy het hom beywer vir die vreedsame naasbestaan van alle Suid-Afrikaners, sonder die oorheersing van wit oor swart of andersom.

Aartsbiskop Desmond Tutu en baie ander het hierdie sienswyse in die breë gedeel. Dit was ’n sienswyse wat aanklank gevind het ook by wit mense wat gretig was vir verandering, by ons wat graag van die rigiede politiek van apartheid wou ontsnap en bereid was om ’n kans te waag op ’n oop samelewing gegrond op wedersydse respek en samewerking.

Revolusionêres had ’n ander agenda

Die revolusionêres was van die begin af deel van die ANC. Omdat hulle voor die koms van demokrasie almal teen dieselfde vyand geveg het – die Nasionale Party – het die verdelingslyne aanvanklik nie gewys nie. Dis nou egter glashelder dat hulle uit die staanspoor ’n ander agenda gehad het.

Waar die pragmatiste op soek was na die gelyke grond van gedeelde ideale by alle Suid-Afrikaners, het die revolusionêres die toekoms gesien as ’n omverwerping van letterlik alles waarvoor die ou Suid-Afrika gestaan het. Hulle wou die baba met die badwater uitgooi en heeltemal oor begin. Hulle was en is gekant teen die vrye mark, teen gelyke geleenthede op grond van meriete en selfs teen individuele inisiatief en entrepreneurskap.

In die plek van die individu het hulle die groep gestel en die groep was homogeen. So homogeen en so ondifferensieerbaar dat hulle eerder gepraat het van “die massas” as van “mense”. Daar was geen geduld met enigiemand wat nie hul revolusie steun nie. Onsamehoriges is uitgekryt as “kontrarevolusionêres”.

Thabo Mbeki was die laaste ANC-staatshoof wat nog soms die liggie van pragmatisme brandend probeer hou het, weliswaar met gemengde sukses. Die dag toe hy verwyder is, het die revolusionêres oorgeneem.

As die hele land donker is, kan niemand die betogers en stakers se pragtige rooi T-hemde en hul baniere raaksien nie.

Dit is nou meer as tien jaar later. Die wiele van die revolusie het afgeval. Die sogenaamde proletariaat is in ’n doodloopstraat. As hulle gehoop het om die stelsel omver te werp, het hulle meer as dít reggekry: Hulle het die werkbare ou staatsmasjinerie en al die pilare van ons beskawing, ons opvoedingstelsel, ons intellektuele erfenis en daarmee saam ook die fisieke infrastruktuur feitlik tot op die grond afgebreek.

In die proses het hulle hulself in die voet geskiet. Want rykdom kan nie herverdeel word as daar nie meer rykdom is om te verdeel nie. Dit help nie grond verwissel van eienaar as daar niemand is om die grond te benut nie. En as die hele land donker is, kan niemand die betogers en stakers se pragtige rooi T-hemde en hul baniere raaksien nie.

Al wat hulle nog nie kon regkry nie, was om beheer van die media oor te neem. Dit sou hulle in elk geval niks help om beheer oor te neem van die media as daar binnekort nie meer ’n werkbare SAUK is wat toesprake van hul leiers op televisie kan uitsaai nie.

Ons moet seker oor sekere dinge dankbaar wees. Saam met die media is die regbank ook nog so half en half vry. Verkiesings word nog gehou. En, o ja, in hierdie stadium sou die situasie selfs nog veel, veel erger gewees het as Jacob Zuma daardie kernverdrag met pres. Wladimir Poetin van Rusland onderteken het.

Revolusionêres het nie meer beweegruimte

Die Revolusie het in ’n doodloopstraat beland. Skets: Koos Kombuis

Soos dinge nou staan, het die revolusie tot stilstand geknars. Hulle het twee opsies: Pak die skuld vir alles op die wit mense en op die “verraaiers” in hul midde en dompel ons in ’n burgeroorlog (Amerika en die Weste sal waarskynlik anderpad kyk, want enige oorlog is net nog ’n wonderlike geleentheid om wapens te verkoop).

Of hulle kan halt roep, prioriteite verander en die land in ’n nuwe rigting stuur – terug na orde en weg van hierdie nuttelose revolusie.

Pres. Cyril Ramaphosa is slim genoeg om te weet daar is nie meer beweegruimte vir die revolusionêres nie. Of hy opreg is met sy sogenaamde vernuwing, weet ons nie, maar eintlik het hy nie ’n keuse nie. Soos FW de Klerk destyds, is hy ten minste intelligent genoeg om te besef dat hy, sy party en sy beweging in ’n doodloopstraat beland het.

En natuurlik help dit dat hy, soos FW destyds, propvol charisma en finesse is. Sy tydsberekening was tot dusver ook uitstekend – as hy nie op die laaste moontlike nippertjie die leisels by Zuma oorgeneem het nie, was ons nou al in ons peetjie.

Die groot vraag is: Is finesse en charisma en mooi voornemens genoeg? Is selfs politieke oplossings en verkiesings genoeg?

Die probleme van Suid-Afrika is dieper en ernstiger en meer omvangryk as wat selfs die sogenaamde 'goeie ouens' in die ANC ooit besef het.

Die wiele van die kar het afgeval. Wat ons nodig het, is meer as net nog idees en planne op papier en kommissies van ondersoek. Ons het kundiges nodig. Ons het ’n mekênniek nodig om die wielskroewe weer vas te draai. Baie mekênnieks.

Om nou nog te steun op ideologie en verkiesingsretoriek, is soos om te dink jy kan die krisis by Eskom regkry deur vir al die huise in Suid-Afrika nuwe gloeilampe te koop.

Gloeilampe kan nie brand as daar geen kragtoevoer is nie.

Die probleme van Suid-Afrika is dieper en ernstiger en meer omvangryk as wat selfs die sogenaamde “goeie ouens” in die ANC ooit besef het.

Almal in die ANC – insluitende Ramaphosa – kan op die ou end slegs hulself en hul eie party kwalik neem vir al die k*k wat nou oral in Suid-Afrika spat.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die mening van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Fw De Klerk  |  Thabo Mbeki  |  Nelson Mandela  |  Koos Kombuis  |  Desmond Tutu  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.