Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Dis heerlike lente . . . of is dit?

Warmer weer is op pad vier Suid-Afrikaners. Maar wat is ons voorland: die matige sonskyn van wedersydse meelewing, of die hitte van ’n vlammende en afgryslike burgeroorlog? vra Koos Kombuis.

Dis seker nou al te vroeg om ’n rubriek te skryf oor die komende lente. Volgens die weerprofete kan die strawwe winter van 2019 nog ’n hele paar weke, of langer voortduur.

Nie dat die winter my pla nie. Veral hier in die Kaap was ons uiters gelukkig om in die afgelope paar maande gereelde milde reën te ontvang. Ons damme is weer heerlik vol en die herinnering van daardie barre droogte van 2018 is vir eers getroef.

Vir hoe lank, weet ons nie, maar nou is ons snoesig en tevrede voor ons kaggels in die wete dat die hersenskim van Dag Zero dalk nie gou weer op ons horison gaan verskyn nie.

Ek was in elk geval nog nooit ’n groot fên van die lente nie. O, ek weet, ek weet, ek het in my prille jeug my hand gewaag aan ’n klomp rymelary wat eindelik, om redes wat ek nou nog nie begryp nie, die Afrikaanse trefferliedjie “Lente in die Boland” geword het.

Illustrasie: Koos Kombuis

Ek is ’n tipiese Kaapse wintermens. So het ek grootgeword, dis in my gene. Ek het nog altyd die nat winderigheid van ons wintermaande verkies bo die malle bloeisels en goedkoop propaganda wat Moeder Natuur elke September op ons loslaat.

Lente is nou eenmaal “over the top”. Dis amper kitsch, so kleurvol is dit. Lente is vir my ’n idee soos die woord “reënboognasie”; oorwerk, onprakties, en vol valse beloftes.

Of is dit?

Ons huiwer op die rand van ’n afgrond

Dalk is dit Max du Preez se artikel in ’n onlangse weeklikse publikasie wat my opnuut laat wonder het oor die lente. Volgens Max staar ons hier in Suid-Afrika nou die wesenlike moontlikheid in die gesig van ’n “Arabiese lente” (ek vermoed die metafoor wat hy gesoek het, was eerder “ ’n Praagse lente”; met ander woorde, ’n onvolhoubare lente, ’n lente wat teleurstel).

Daar is tekens van hoop, so sê Max (ek parafraseer sy woorde nou), maar ons is nou by die punt waar ons hoop liederlik beskaam kan word. In baie opsigte lyk dit asof Suid-Afrika huiwer op die rand van ’n verskriklike afgrond.

Soos alle regdenkende Suid-Afrikaners probeer ek fokus op die hoopvolle tekens.

En sou ons oor daardie afgrond stort – en dit kan dalk vinniger gebeur as wat ons verwag het – is alle gedagtes aan ’n heerlike lente in sy peetjie. So ook die illusie – is dit werklik ’n illusie? – van ons veelgeroemde, veelbesproke “reënboognasie”.

Natuurlik wil niemand dit hê nie. Soos alle regdenkende Suid-Afrikaners probeer ek fokus op die hoopvolle tekens. En hoopvolle tekens is wel orals as jy die moeite doen om daarna te soek en jou oë oop te hou. Dis soos eerste grasgroen babablaartjies wat al begin bot aan die punte van Stellenbosch se eikebome nog lank voor die winter werklik verby is.

Vanjaar verlang ek vir die eerste keer na ’n regte lente. Ek sien daarna uit soos selde of ooit tevore. Ek geniet die wintermaande wat ons nog omarm, maar ek wil graag hê dat, wanneer die warmer weer eindelik terugkeer, die son sal opkom oor ’n landskap vol kleur en lewe en geluk eerder as oor strate van chaos en afgetakelde plakkerskampe vol geweld en desperaatheid.

Is dit realisties om nog te hoop? Ja, ek glo dit is.

Ons kán ontsnap

Koos Kombuis

Maar so ’n lente, as dit op die ou end gebeur, sal kom teen ’n prys. Ons sal almal moet saamwerk vir so ’n lente.

En dis juis waar die knoop lê.

Ons kan nie alle Suid-Afrikaners dwing om vooruitstrewend en ywerig die toekoms in te gaan met ’n positiewe gesindheid nie. Die kultuur van blaam en passiewe aggressie is bitterlik diep gewortel, onder sowel swart as wit mense.

Soos baie Afrikaners nou nog kwaad is oor die Anglo-Boereoorlog (meer as ’n honderd jaar gelede!), is baie swart mense vasgevang in woede oor apartheid (’n kwarteeu gelede).

En die onbeholpenheid en ideologiese gestremdheid van die ANC-regering, wat deur hul laksheid en patetiese swak bestuur bygedra het dat die ongelykheidsvlakke sedert 1994 vergroot het eerder as krimp, dra by tot die gevoel van hopelose uitsigloosheid en gevaarlike polarisasie wat dreig om alle positiewe tendense tot groei en samewerking te versmoor.

Warmer weer is op pad. Maar wat is ons voorland: die matige sonskyn van wedersydse meelewing, of die hitte van ’n vlammende en afgryslike burgeroorlog?

Gaan ons ons pad vind uit hierdie doldrums van onvergenoegdheid en verlies om uiteindelik te kan hande vat as mede-landgenote van ’n vooruitstrewende Mzansi?

Ons kán ontsnap uit hierdie donker winterjare om ’n goeie toekoms te skep.

Die potensiaal is daar. Ons kán ontsnap uit hierdie donker winterjare om ’n goeie toekoms te skep.

Suid-Afrika het alles wat ons nodig het om dit moontlik te maak –natuurlike hulpbronne, kundigheid, tegnologie en mense.

Maar word die hulpbronne reg ontgin? Word die kundigheid gebruik? Word die tegnologie reg aangewend? Kan die mensemateriaal tot hul reg kom?

Die keuse is ons s’n of hierdie komende lente ’n ware “lente in die Boland” gaan wees of net ’n doodgebore Praagse lente.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is huleie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Ongelykheid  |  Anglo-Boereoorlog  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.