Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Dis langnaweek!

Paasnaweek is amper soos Kersfees, skryf Koos Kombuis. Jy wil stil word en vir ’n oomblik vergeet van die dinge waarmee die lewe jou die afgelope ruk gebombardeer het.

Koos Kombuis

Alle ander dinge vervaag tot onbelangrik in vergelyking met hierdie oordonderende lewenswaarheid.

Om die waarheid te sê, dis nie sommer enige langnaweek nie.

Dis Paasnaweek.

Paasnaweek beteken verskillende goed vir verskillende mense. Vir Christene is dit ’n naweek om die kruisdood en opstanding te herdenk. Vir die Jode het dit ’n ander, ewe diep betekenis.

Hoe jy ook al daarna kyk – selfs as jy net belangstel in hot cross buns en sjokolade-paashasies – het hierdie langnaweek ’n spesiale geurtjie, ’n intimiteit wat grens aan die intimiteit van Kersfees.

Jy wil by jou gesin wees. Jy wil die boude ontspan. Jy wil stil word en vir ’n oomblik vergeet van die dinge waarmee die lewe jou die afgelope ruk gebombardeer het.

Oorstimulasie. Die siekte van ons tyd. Te veel inligting. Te veel belangrike inligting, en te min niksseggende, onbelangrike, bloot plesierige inligting.

‘Wie is Pout Joemen?’

My naweke was die afgelope tyd nie my eie nie. Anders as mense wat deur die week hard werk en naweke braai, is ek die ou wat elke naweek op ’n vliegtuig klim en na verafgeleë dele van die land reis om daar my kitaar te gaan swaai.

Wanneer laas kon ek gereeld elke Saterdag net rugby kyk?

So ’n paar naweke gelede, toe ek onverwags ’n paar dae by die huis was, het ek probeer om juis dít te doen (rugby te kyk). Dit was soos om in te haal op jou gunsteling sepie wat jy maande laas gesien het. Niks maak sin nie. Daar is ander ouens in komas. Die liefdesdriehoeke is nog daar, maar met ander name.

Ek sit toe so voor die TV en ek hoor Siya Kolisi is op “verpligte verlof”.

“Hoekom sou hy op verpligte verlof wees?” vra ek my vrou.

“Dis seker oor die storie met die boude,” sê sy. “Hy en sy vrou het baie dinge om te bespreek.”

“Boude?”

Dis toe die eerste keer dat ek hoor van die storie met die boude.

Skets: Koos Kombuis

Ek sit die afstandbeheer neer, tel ’n koerant op, en blaai na die sportafdeling. Dis toevallig ’n Engelse koerant. “Wie is Pout Joemen?” vra ek.

Sy loer oor my skouer. “Mens spreek dit uit Pote Human,” sê sy.

“O ja, natuurlik.”

Iewers in die loop van die dag lees hulle die name van twee provinsiale spanne wat mekaar nou gaan takel.

“Goeie hemel, ek kan dit nie glo nie!” roep ek verstom uit. “Kobus Wiese is terug! Het hy nie al dekades gelede afgetree nie?”

“Dis Cobus met ’n C,” korrigeer sy my. “Dis nie dieselfde ou nie.”

“O. Nou gaan jy seker vir my sê dis ’n ander Shumacher ook wat deesdae met karre jaag.”

“Om die waarheid te sê, dit is,” lag sy. “Die enigste ou wat nog dieselfde is, is Tiger Woods!”

“Bly om dit te hoor,” sug ek verlig. In ’n wêreld met so min sekerhede is ’n bietjie kontinuïteit en standvastigheid altyd ’n goeie ding.

‘Saterdagaand tuis’

’n Hele langnaweek tuis. Daar is ouens wat dit regkry. Hoe voel dit?

Toe ek klein was, was daar in die middelblaaie van Die Huisgenoot ’n rubriek met die naam Saterdagaand Tuis. Dit was geskryf deur ene Kas van den Bergh. Dit was ’n pragtige, rustige rubriek, vol gemeenplase, outydse humor en nostalgie. Plaaslike realisme op sy beste.

Die naam van daardie rubriek fassineer my nog altyd. Nou meer as ooit.

In baie mense, veral jonger mense, se verwysingsveld is die idee van ’n Saterdagaand tuis ’n ietwat vervelige gedagte. Wie wil nou op ’n Saterdagaand by die huis sit as jy iewers kan gaan paartie hou, by vriende kan kuier, die kroeg om die hoek op horings neem?

Ek hoop daar is darem van julle wat ten minste hierdie Paasnaweek gaan gebruik om Saterdagaand tuis te bly. Dis daardie soort naweek. Oor Paasnaweek wil ’n mens mos nie raas en fuif nie?

Jesus was in die graf. Die groot herrie van die kruisiging was verby. Die belofte van die opstanding was nog nie vervul nie.

Vir sy dissipels was dit ’n tyd van wegkruip, stil wees, gebed en dalk ’n bietjie hoop. En ook nie eens baie hoop nie.

Dis dalk ’n goeie tyd om introspeksie te doen.

Daar is dalk ook nie baie hoop vir Suid-Afrika oor hierdie Paasnaweek nie.

Soos met daardie eerste Paasnaweek het ons niks minder as ’n wonderwerk nodig om ons uit hierdie kollektiewe graf van uitsiglose verval en moedeloosheid op te lig.

Dis dalk ’n goeie tyd om introspeksie te doen. ’n Mens kan dit doen terwyl jy rugby kyk (dis nou as daar nie beurtkrag is nie). Of braai (dit kan jy doen al is daar beurtkrag). Of net suig aan ’n sjokolade-hasie se oor (met of sonder beurtkrag).

Ook ’n tyd om dankbaar te wees vir wat jy nog het. Daar is baie gesinne wat nie sjokolade-hasies kan bekostig nie.

Daar is baie mense wat nie eens ’n TV het nie en wat dus nie weet mens spel Kobus Wiese deesdae met ’n C nie.

Wie weet, teen volgende week kom die son dalk op oor ’n beter Suid-Afrika.

Ek wil graag oor hierdie Paasnaweek saam met julle almal stil word. Terugklim in my eie siel.

Dalk iewers gaan kampeer. Dalk ’n bietjie fietsry. Dalk baie ver met my hond gaan stap.

Wie weet, teen volgende week kom die son dalk op oor ’n beter Suid-Afrika.

Of dalk nie.

Maar ten minste sal ons almal dan weer uitgerus wees, en gereed vir al die protesteer en wroeg en werk en geraas maak van ’n nuwe week vol nuwe uitdagings, nuwe probleme, die uitdink van nuwe maniere om, op die een of ander manier, hierdie waansinnige land, hierdie waansinnige wêreld net weer in die oë te kyk . . .

Sela.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Pote Human  |  Cobus Wiese  |  Inligting  |  Paasnaweek  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.