Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Harry, wil jy nie na Malmesbury trek nie?

Wil prins Harry nie maar na ’n dorpie in Suid-Afrika trek om te leer hoe leef gewone mense met gewone probleme en alledaagse lewens nie? Koos Kombuis het vir hom ’n brief geskryf.

Harry en Meghan. Illustrasie: Koos Kombuis

Ek is baie bly ek is nie ’n lid van Brittanje se Royal Family nie.

As ek was, sou ek lankal weggeloop het. Soos prins Harry. Ek sou nog verder weggeloop het as Harry, om eerlik te wees.

Ek sou iewers op ’n verlate strand in die Weskus gaan sit het met ’n visstok in my hand, ’n koelboks vol bier, en ’n breërandhoed laag oor my oë getrek.

Eintlik is daar een of twee dinge wat ek graag persoonlik vir Harry sou wou vra.

Ek voel baie jammer vir Harry en sy oulike vroutjie. Ek dink baie aan hulle.

Maar daar’s dinge wat ek nie so lekker verstaan nie. Eintlik is daar een of twee dinge wat ek graag persoonlik vir Harry sou wou vra.

Dalk moet ek vir hom ’n briefie skryf. In Engels, natuurlik.

Die briefie sal min of meer só lui (ek oefen nou eers in Afrikaans om my gedagtes agtermekaar te kry):

Koos se brief aan Harry

Faf de Klerk in sy reënboog-onderbroek. Illustrasie: Koos Kombuis

Hallo, ou Harry (of moet ek jou “prins Harry” noem?)

Jy is definitief die coolste lid van die Royal Family van wie ek weet.

Ek bedoel, wow. Jy’t al die moeite gedoen om Japan toe te travel om vir Faf de Klerk te ontmoet in sy reënboog-onderbroek.

Jy’t nog altyd vir my gelyk na ’n nice ou. ’n Down to earth, plat-op-die-aarde-mannetjie wat weet wat hy in die lewe wil hê en wat nie skrik vir goeters wat vir ander ouens scary is nie.

Jy kan helikopters bestuur! Hoe cool is dít?

Hoe dit ook al sy, Charles het darem nie mooi gemaak met jou ma nie, Harry.

Jy’s definitief meer hands-on as jou pa, prins Charles. Ek hoor hy het nog nooit in sy lewe sy eie komkommer-toebroodjie gemaak vir teetyd nie (dis mos wat julle Engelse doen, julle eet komkommer-toebroodjies, of “cucumber sandwiches”, soos Oscar Wilde dit noem) met julle tee. Julle is weird verby! Terloops, ís Charles ooit jou pa?

Hoe dit ook al sy, Charles het darem nie mooi gemaak met jou ma nie, Harry. Daardie moerse groot troue, in daardie moerse kerk, al daai geld wat hulle daarop uitgegee het, al die publicity, en toe gaan staan en verneuk hy sy pragtige bruid met ’n ander ou se vrou. Skande op skande!

En dan is daar nog die str*nt met prins Andrew ook! Wat het hom besiel om sulke aaklige goed te doen en tjommies te maak met “disreputable characters” soos daai Epstein-ou? En nou moet ons hoor dat slimeballs soos Bill Gates ook daar rondgehang het? Besef die Royals nie hulle is veronderstel om hulle te gedra in die openbare oog nie?

Dit lyk darem asof jou ouboet William oukei uitgedraai het, dankie tog.

Wat soek jy tussen die rykgatte van Amerika?

Prins Harry is beslis nie sku vir die kollig nie. Hier is hy tydens Global Citizen se Vax Live-konsert, waar sterre hulle beywer het vir die verspreiding van entstowwe wêreldwyd sodat almal kan toegang kry daartoe. Die konsert het plaasgevind by die SoFi Stadium in Los Angeles. Foto: Getty Images

En ja, 'n mens moet seker simpatie hê met die Royal Family ook, want dis baie hartseer van oupa Philip wat nou dood is. Die koningin is seker baie hartseer noudat sy niemand het om saam met haar puzzles te bou saans terwyl sy haar tee drink en haar cucumber sandwiches eet nie.

Anyway, Harry, ek is rêrig bly jy’t ’n goeie vrou gekry. En julle kinders kan hulle sterre dank dat hulle nie tussen daai klomp stiff upper lips hoef groot te word nie. Hulle sal nooit op ’n Sondagmiddag op hulle perde hoef te klim en te gaan jakkalse jag in die countryside nie! Nooit hoef hulle croquet te speel nie! Of Corgi’s te teel nie!

Nee wat, wie wil so lewe? Sit net vir klein Archie in ’n gewone agterplaas, en gee hom net ’n krieket-bat en ’n foksterriër en ’n fiets, en hy sal oukei wees.

Ek weet darem nie, Harry, Kanada sou dalk lekkerder gewees het. En het jy nie in ’n stadium oorweeg om Kaapstad toe te trek nie?

Maar oukei Harry, dit bring my by die goed wat ek eintlik vir jou wou vra. Jy moet my maar verskoon as ek my neus insteek in sake wat niks met my te doen het nie, maar hier’s die ding: Dink jy nie jy kan nou ’n slag ophou moan oor die Royal Family nie? Jy het mos klaar jou sê gesê in die Oprah-onderhoud.

Almal weet jy’s pissed off en almal weet daai soort lewe was nie reg vir jou nie.

Maar hel, Harry, vir iemand wat gatvol is vir ’n lewe in die limelight, iemand wat gatvol is vir die paparazzi, wil jy nie maar liewer ’n skoon breuk maak en bietjie wegkom uit die spotlight nie?

Hel, Harry, wat soek jy tussen die glitterati en die phonies en die rykgatte van Amerika?

Jy’t self gehoor wat Rob Lowe gesê het toe hy gehoor het julle gaan langs hom intrek! Hy’t gesê “there goes the neighbourhood!” Wil julle sulke bure hê, Harry?

Ek weet darem nie, Harry, Kanada sou dalk lekkerder gewees het. En het jy nie in ’n stadium oorweeg om Kaapstad toe te trek nie?

Kom ’n slag aarde toe

Koos Kombuis

Jy het nou jou sê gesê oor die Royals, Harry, almal weet hoe jy gesuffer het en ja, dis waar, jy stel ’n wonderlike voorbeeld vir almal wat sukkel om die guts bymekaar te skraap om hulself te bevry van hul toksiese verlede. (Ongeveer die helfte van die mense wat ek ken, het sulke issues, ek self ook, en jy was tot nou toe vir ons ’n inspirasie, maar genoeg is genoeg!)

Maar Harry, hier is my aanbod: Hier is baie klein dorpies in Suid-Afrika waar julle kan kom wegkruip as julle wil, jy en jou gesinnetjie. En niemand sal ooit weet wat van julle geword het nie.

Hier is lekker plekkies soos Wellington of Paternoster. Wat van Malmesbury?

Ek het pelle daar, Harry, ek kan maklik iets reël vir julle.

Kom weer ’n slag aarde toe, Harry. Soos toe jy nog helikopters rondgevlieg het met jou pelle.

Kom leer hoe leef gewone mense met gewone probleme en alledaagse lewens, Harry. Jy sal dit geniet.

En glo my, niemand hier eet ooit komkommer-toebroodjies nie.

Groete van huis tot huis,

Koos

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Prins Andrew  |  Koos Kombuis  |  Bill Gates  |  Faf De Klerk  |  Prins Harry En Meghan  |  Kanada  |  Paternoster  |  Malmesbury  |  Wellington  |  Amerika  |  Brittanje  |  Kaapstad  |  Paparazzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.