Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Het almal in Amerika gelyk mal geraak?

Donald Trump se waansin het sulke bisarre afmetings aangeneem dat hy nie sal omgee as sy tirades en sy wandade lei tot ’n Derde Wêreldoorlog nie. Die Amerikaanse droom het ontaard in 'n nagmerrie, skryf Koos Kombuis. 

Een van die dinge op my bucket list is om ’n aand saam met Dawie Roodt deur te bring sodat hy vir my kan verduidelik hoe werk die ekonomie.

Daar is dinge wat ek weet net hy sal vir my kan verduidelik. Soos byvoorbeeld die verskil tussen die sogenaamde “vryemarkstelsel” en “kapitalisme”.

Die een klink na ’n goeie ding. Die woord “vryemarkstelsel” laat my dink aan daardie goue oomblik in die wêreld se geskiedenis toe ’n klompie baie slim manne in Amerika in die jaar 1776 koppe bymekaar gesit het en vir mekaar gesê het: “We hold these truths to be self-evident . . .”

Dit was die begin van ’n ideologiese eksperiment wat die aangesig van ons planeet sou verander. Dit was die era van manne soos Thomas Jefferson, John Adams, Robert Livingstone en Benjamin Franklin.

Donald Trump is een van die gewildste presidente in die geskiedenis van Amerika. Hy is ook een van die mees gehate mense op die planeet.

Ek wonder wat hierdie groot geeste sou dink van wat deesdae in die Verenigde State gebeur. Ek wonder hoe hulle sou voel oor Donald Trump.

Donald Trump is een van die gewildste presidente in die geskiedenis van Amerika. Hy is ook een van die mees gehate mense op die planeet.

Thomas Jefferson-hulle het die fondamente gelê van ’n Amerikaanse droom wat destyds berus het op selfrespek, gesonde mededinging, eerlike, harde werk, individualisme en pragmatiese (nie fanatiese) geloof.

Dit is die grondbeginsels van die vryemarkstelsel soos ek dit verstaan. Dit is die redes hoekom ek sosialisme haat. Ek vermoed dat ek en Dawie Roodt tot op hierdie punt sal saamstem.

Amerikaanse Droom word Amerikaanse Nagmerrie

Dis asof Donald Trump so verstrengel geraak het in sy eie magspel in die wandelgange van Washington dat hy nie werklik die gevolge van sy besluite vir die res van die wêreld besef nie.Foto: Foto24

Dit is egter betreklik voor die hand liggend dat Amerika tussen die agtiende eeu en vandag liederlik ontspoor het. Presies hoekom, weet ek nie.

Wanneer presies die Amerikaanse Droom in ’n Amerikaanse Nagmerrie verander het, weet ek nie vir seker nie. Was dit toe die Yanks opium uitgevoer het China toe? Was dit met die sluipmoord op John F. Kennedy? Was dit daai aaklige oorlog in Viëtnam? Was dit toe Bob Dylan die eerste keer ’n elektriese kitaar opgetel het? Was dit met Bill Clinton se manewales met Monica Lewinsky?

En wanneer het die vryemarkstelsel ontwikkel vanaf ’n werkende stelsel met sy eie inherente logika tot ’n groteske, gevaarlike, oordadige en raserige ideologie wat die omgewing bedreig, die massas manipuleer om produkte te koop wat hulle nie regtig nodig het nie, en die ontwikkelende wêreld links en regs boelie?

’n Barbaarse vuilbek vent

Trump het vir Koos Kombuis bang gemaak, maar veel erger, in sy oë, was die gedagte van nog vier of agt jare met die Clintons in die Withuis.Foto: Foto24

Ek wil julle ’n geheim vertel. Ek was in die begin nie so gekant teen die verkiesing van Donald Trump soos byna almal wat ek geken het in daardie stadium nie. Die gedagte dat hierdie barbaarse, vuilbek vent met die aaklige hare op die punt was om die magtigste mens in die vrye wêreld te word was nogal erg, ja.

Maar veel erger, in my oë, was die gedagte van nog vier of agt jare met die Clintons in die Withuis. Nee, o gonna, net nie dit nie . . .

Trump het my bang gemaak, maar ook tot ’n mate geamuseer. Sou dit dalk die eerste president van Amerika wees wat waarlik die sogenaamde “elite” sou vasvat, die eerste ou wat sterk genoeg sou wees om regtig te doen wat hy wil doen sonder dat stemme van agter die skerms hom probeer voorsê?

Om iets goeds te durf sê van Donald Trump, sou beteken dat die helfte van my leftie-pelle my op Facebook sou blokkeer.

Ek was heimlik ’n geheime ondersteuner van Donald Trump vir baie lank. Ek was dol oor die manier hoe hy Kim Jong-oen geneutraliseer het. Dis nie iets wat Obama ooit sou kon regkry nie. Obama sou politiek-politiek wou speel, maar Trump het die soort taal gepraat wat Noord-Korea kon verstaan.

Die hele petalje was meer soos ’n vuisgeveg in die hoek van die speelgrond as ’n diplomatieke oorwinning. En die grootste, vuilste boelie – Trump – het gewen.

Altans, so het dit toe gelyk.

Ek gril my dood vir Trump

Tot in daardie stadium moes ek my woorde tel in geselskap. Om iets goeds te durf sê van Donald Trump, sou beteken dat die helfte van my leftie-pelle my op Facebook sou blokkeer.

Maar, helaas, die wittebrood het nie gehou nie. Vandag vervul die mens Donald Trump my met afsku. Ek gril my behoorlik dood oor sy ongevraagde slegte houding teenoor alles en almal, sy grootheidswaan, sy paranoia en sy grenslose egoïsme.

Koos Kombuis

Ek dink hy moet dringend laat kyk na sy bloeddruk.

Dit gaan nie meer oor “make America great again” nie. Dit het dalk nooit werklik daaroor gegaan nie. Dit gaan alles net oor Donald Trump. Ek, ek, ek.

Donald Trump, wie se waansin nou sulke bisarre afmetings aangeneem het dat hy nie sal omgee as sy tirades en sy wandade lei tot ’n Derde Wêreldoorlog nie.

Hy kan dit eenvoudig nie sien nie. Dis asof hy so verstrengel geraak het in sy eie magspel in die wandelgange van Washington dat hy nie werklik die gevolge van sy besluite vir die res van die wêreld besef nie.

Die mense met wie Trump hom omring, is in party opsigte selfs erger as hy. En hulle praat nie eens almal uit dieselfde mond nie. Terwyl Trump pro-Israel is, is van sy beste vriende streng-anti-Joods. Dieselfde dag toe Trump deelgeneem het aan ’n veldtog teen aborsie, het een van die lede van sy binnekring, die tele-evangelis Paula White, ’n onverstaanbare en psigoties fanatieke toespraak gelewer waarin sy sogenaamde “satanistiese swangerskappe” veroordeel.

Dit was weird verby. Dit was eenvoudig plein onverstaanbaar.

Gepraat van Paula White. Kyk, ons het gedink Helen Zille is erg. Hel, ek hou van sterk vroue, maar hier is een tannie wat ek beslis nie vir ’n skoonma wil hê nie.

(Wat sê jy, Dawie?)

Amerika het ontspoor. Presies hoe en waar dit gebeur het, weet ons nie. Of dit ooit gaan regkom, weet niemand nie. Dis asof almal in die hele land gelyk mal geraak het.

Ons hier aan die suidpunt van Afrika hoor maar net die geraas op ’n afstand, en ons kan maar net ons koppe skud en sê: “Ons het nou wel ons ou probleempies, maar ten minste is ons nog nie heeltemal van ons trollie af nie . . .”

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Donald Trump  |  Barack Obama  |  Kim Jong-Oen  |  Bill Clinton  |  John F Kennedy  |  Amerika  |  Sosialisme  |  Kapitalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.