Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Hier kom die perfekte storm!

Wag daar ’n afgryslike toekoms op Suid-Afrika met die derde vlaag van die Covid-19-pandemie en al ons ander probleme wat erger word? wonder Koos Kombuis.

Skets: Koos Kombuis

Goeiste.

Toe Cyril Ramaphosa in die vroeë herfs van 2020 die reëls vir die eerste staat van inperking aangekondig het, het hy aanvanklik gesê dit sal slegs vir drie weke wees.

Onthou julle dit nog?

Dit voel nou soos baie lank gelede.

Die eerste vlaag stygende infeksies het baie maande geduur. Toe lyk dit of daar uiteindelik lig aan die einde van die tonnel is. Musikante kon laat in 2020 weer begin konsert hou. Ek het weer die highways opgesoek, eers net ’n naweek in Wellington, en toe met my familie op verder teen die Weskus, Velddrift se rigting.

Ons kon weer asemhaal. Ons het gedink alles is oor.

Nou sien ons alweer die daaglikse getalle styg. Ons hoor van hospitale wat vol is.

Die tweede vlaag infeksies was meteens op ons. Ons kon sien hoe die getalle daagliks styg. Kort voor lank was die hospitale weer vol, die drankwinkels weer gesluit, al die paniek en kloustrofobie van inperking weer met ons.

April se kant het dinge beter gelyk. Ons is weer Weskus toe. Ná ’n heerlike paar dae in Paternoster het ek gevoel daar is hoop vir ons land.

By ’n intieme konsertjie in Jacobsbaai het ek ’n nuwe tradisie begin: om die volkslied ná elke show te sing. Nie net die stukkie wat Steve altyd gesing het nie, die hele volkslied.

Positiewe denke.

’n Tyd van vrees en gebrek . . .

Koos Kombuis

Nou sien ons alweer die daaglikse getalle styg. Ons hoor van hospitale wat vol is. Mense word darem ingeënt, so daar is hoop, maar die prosesse vorder stadig en daar is vele glitches en probleme.

En nou dreig die winter van 2021 om dalk erger as die winter van 2020 te word.

Ek hoop regtig nie so nie. Ek hoop my voorgevoelens is verkeerd. Maar ek kan nie help om vir myself te sê daar wag ’n perfekte storm op ons horison nie. ’n Tyd van vrees en kerslig en gebrek. ’n Tyd van chaos en paranoia.

Terwyl nog meer verskriklike dinge in Gasa gebeur, is ons tydelik uit die kalklig van die wêreld. Ons is letterlik in die donker, want beurtkrag is weer terug. En dit lyk nie asof dit ooit gaan beter word nie.

Alles gebeur meteens tegelyk: die ANC skeur, die munisipaliteite stort in duie, werkloosheidsyfers skiet deur die plafon, en die snerpende koue maak die lewe hel vir die haweloses.

Iets sê vir my dat ons in die moeilikheid is.

Dalk is ek verkeerd. Dalk ry ons weer een van die dae Weskus toe. Hoe lanklaas was ek by my gunsteling-optree-plekke in die ou Transvaal?

Ek mis die Blou Hond. Ek mis die Atterbury-teater. Ek mis Café Barcelona. Maar ek wil nie op ’n vliegtuig klim voordat die derde vlaag se woede uitgewoed is nie. Of ek ten minste ’n inenting agter die blad het nie.

Ek weet nie vir hoe lank ons land nog die onsekerheid van die terugkerende siklusse van hierdie pandemie sal kan oorleef nie. Ek is bang ons kom by ’n punt waar alles meteens in duie stort.

Ek is bang ons bereik een mooi dag die finale afsnypunt wanneer die skrikwekkende besef ons onherroeplik tref dat ons ’n mislukte staat is. Nie meer ’n land wat sukkel om op sy voete te kom ná jare van korrupsie nie, maar ’n land wat pens en pootjies onherroeplik moer toe is. Oor die afgrond.

Dit is moontlik. Dit is dalk selfs waarskynlik.

Ons was al soveel keer naby aan die afgrond. Ons luck gaan nie vir altyd hou nie.

Eintlik is dit amper vreemd dat daardie oomblik nog nie aangebreek het nie. Ons was al soveel keer naby aan die afgrond. Ons luck gaan nie vir altyd hou nie.

Dis dalk tyd om daardie sitplekgordels vas te maak en gereed te maak vir ’n baie rowwe rit.

Dinge kan dalk beter word. Dalk bring die lente weer hoop en sonskyn en nuwe voornemens en ’n burgerlike samelewing wat saamstaan en ’n bolwerk kan vorm teen die storms. Maar dit gaan waarskynlik erger raak voordat dit beter word.

Hoe het Eugène Marais nou weer in sy gedig “Winternag” geskryf?

O koud is die windjie en skraal

En blink in die doflig en kaal . . .

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Eugène Marais  |  Koos Kombuis  |  Cyril Ramaphosa  |  Gasa  |  Weskus  |  Staat Van Inperking  |  Covid-19-Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.