Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Hier wil ek bly

Nadat hy onlangs vir die eerste keer in ’n lang ruk weer televisie gekyk het, het Koos Kombuis besef die wêreld is onderstebo en dat hy net hier in Suid-Afrika gaan bly.

Skets: Koos Kombuis

Jare gelede, toe ek nog dagga gerook het, het ek en ’n vriend een middag langs die rivier in Stellenbosch gesit en ’n bietjie gemymer.

“Verbeel jou die aardbol was onderstebo,” het my vriend gesê. “Verbeel jou Europa daar onder was so woes en wild soos Afrika.”

“Wie’t gesê Afrika is wild en woes?” moes ek seker geantwoord het, maar my mond kon nie so ’n lang sin formuleer nie en al wat ek kon antwoord, was twee woorde.

“Suid-Afrika bo.”

Dis al wat ek later van daardie ellelange monoloog deur my vriend onthou het. My slotsom van twee woorde. “Suid-Afrika bo.”

Dit het die leuse van my lewe geword.

Maar is ons regtig bo?

Die dinge wat ons daagliks om ons sien, die dinge wat ons deesdae elke dag in die nuus lees, weerspreek ongelukkig alte dikwels hierdie positiewe sentiment.

Soms kan ’n voorval, net ’n klein voorval, ’n mens weer in wanhoop laat versink.

’n Boek oor Mao

Koos Kombuis

Sowat twee maande gelede vra my vrou my: “Gaan kyk of jy iewers ’n boek oor die lewe van Mao Zedong kan kry. Jou dogter het dit nodig vir ’n skooltaak.”

So gesê, so gedaan. Ek is immers lid van ons dorpsbiblioteek, so ek het gedink dit sal maklik wees.

Toe ek by die biblioteek kom, is die tannie wat gewoonlik daar werk nie beskikbaar nie en ek beland in ’n kort tou by ’n nuwe biblioteek-assistent wat ek nog nie gesien het nie. Ek let op dat hy Engels besig met die kliënte.

Dit pla my nie. Toe ek voor in die ry kom, vra ek hom toe: “Do you have any books about Mao Zedong?”

Hy kyk na my, en ewe beleefd vra hy: “Can you spell that?”

“Mao Zedong,” herhaal ek, met ongeloof in my stem. “You know . . .”

Toe dit vir my duidelik word dat hy nog nooit die naam gehoor het nie, begin ek spel: “M . . . A . . . O . . .”

Hy tik dit in op die terminaal voor hom.

Uiteindelik antwoord hy: “We had a book about him, but we lost it.”

Ek kan net nie glo dat iemand wat agter ’n toonbank in ’n biblioteek werk, nie weet wie Mao Tse Tung was nie. Of hoe die Dewey-stelsel werk nie. Dit maak my so depressed! Wat gaan aan in ons land?

Sjoe. Oukei. Fine.

Ek draai om om na iemand anders te soek wat my kan help. Miskien moet ek net soek na iets oor die Chinese geskiedenis?

Ek vra een van die ander nuwe assistente: “Do you have an index of topics?”

“A what?”

“ ’n Lys van onderwerpe,” sê ek. “An index of subjects.”

Sy sê “I’ll find out,” draai om en hardloop verskrik weg.

En sy kom nie terug nie.

Ek kyk om my rond. Op ’n groot plakkaat vlak langs my, in vet letters, vind ek ’n volledige opsomming van die hele Dewey-stelsel. O ja, Dewey, nou onthou ek hoe dit werk! Dit neem my ’n paar sekondes om uit te vind dat ek dalk boeke oor Mao Zedong, as hulle so iets het, sal kry by nommer 950.

Die eerste assistent was reg. Daar is toe op die ou end niks oor Mao nie.

Ek kom uiters terneergedruk, en met leë hande, terug by die huis aan.

“Dis oukei,” sê my vrou, jy kan môre in die universiteitsbiblioteek gaan soek.”

“Dis nie wat my pla nie,” sê ek. “Ek kan net nie glo dat iemand wat agter ’n toonbank in ’n biblioteek werk, nie weet wie Mao Zedong was nie. Of hoe die Dewey-stelsel werk nie. Dit maak my so depressed! Wat gaan aan in ons land?”

’n Wêreld sonder televisie

’n Onderstebo, deurmekaar wêreld. Foto: Koos Kombuis

Weke lank het ek rondgeloop onder ’n wolk. Orals was tekens van swak dienslewering, orals kon ek bewyse sien van die feit dat onopgeleide en onbekwame mense in beheer van sake staan. Al die werklose mense langs die strate, daar gelaat deur die ekonomiese agteruitgang onder die huidige regering. Ek hoor van die chaos waarin die Staatsteater deesdae is. Dit maak my hartseer.

Ek dink dit was omtrent daardie tyd – so twee maande gelede – dat ek ophou TV kyk het.

So het ek die meeste groot wêreldgebeure gemis. Die laaste ding wat ek kon onthou, was prins Harry wat nie meer ’n prins wil wees nie. Al die ander nuus het by my verbygegaan. Die enigste TV-programme wat ek soms nog gekyk het, was ou episodes van Judge Judy.

Verlede naweek is ek op ’n road trip Jeffreysbaai toe met my kitaar in die kattebak. Ek moet gaan speel op die Bike Fest.

Hulle gee my ’n kamer met ’n balkon wat op die see uitkyk. Heerlik!

Ek is die eerste aand alleen. Die vriendelike man wat my tas gedra het, verduidelik vir my hoe werk die TV-remote, en skakel sommer vir my die groot TV-skerm aan in die sonkamer wat oor die see uitkyk.

Groot fout.

Vir ’n paar uur sit ek in die donker en kyk na die skrikbeelde. Soldate wat marsjeer. Skares wat protesteer. Vuurpyle wat afgeskiet word. Nuuslesers wat gestres en paniekbevange lyk terwyl hul monde oop en toe gaan sonder geluid.

Die TV is ingestel op CNN.

Terwyl die son sak en dit donker word, drink ek ’n glasie wyn en kyk uit oor die see. Die TV ontstel my, maar ek is nie seker hoe om dit weer af te skakel nie. So ek draai net die klank af.

Dit word buite donker. Dis skielik net ek, my glas wyn, die geluidlose reuse-televisieskerm en die onderskrifte.

Ure lank sit ek daar, toenemend vasgenael voor die skrikwekkende tonele op die TV.

Groteske beelde vul die skerm. Orals in die Noordelike Halfrond, op elke vasteland, loop mense in die strate rond met gesigsmaskers.

Wat gaan aan? Is dit ’n nuwe godsdiens? Ek dog hulle het die boerka verban?

Daai korona-kiem is nie meer net in China nie, kom ek agter toe ek die onderskrifte lees. Dis ongelooflik aansteeklik! Dit het ontaard in ’n helse pandemie! Sportbyeenkomste word gekanselleer! Oral is reisbeperkings! Die wêreldwye dodetal neem toe by die dag!

Dis blykbaar nog nie te erg in Afrika nie – hulle is nie seker hoekom nie – maar veral die Noordelike Halfrond lyk soos ’n slagveld!

Wanneer die beeldmateriaal verander, wys dit ander goed wat nog erger is. Dit wys skrikwekkende tonele uit die Siriese oorlog.

Die allerverskriklikste goed. Asielsoekers wat verdrink. Die wêreldmarkte wat val. Kan dit wees dat die ekonomie daar selfs nog meer in sy moer is as hier by ons? 

En ek worry oor een girl wat nie weet wat’s die Dewey-stelsel nie?

Hier by ons sterf tientalle kinders. Dáár sterf duisende.

’n Paar uur sit ek in die donker en kyk na die skrikbeelde. Soldate wat marsjeer. Skares wat protesteer. Vuurpyle wat afgeskiet word. Nuuslesers wat gestres en paniekbevange lyk terwyl hul monde oop- en toegaan sonder geluid.

En word ek bewus van ’n planeet op die glybaan na verskrikking en self-uitwissing op ’n skaal wat ons laas met die Groot Depressie en Adolf Hitler gesien het.

Ek drink myself in ’n koma in en gaan kruip weg in die slaapkamer.

Geen rede om te waai nie

Die volgende aand staan ek op ’n verhoog met my kitaar. Ek het ’n effense kopseer, en ek weet hoekom.

Ek sing my liedjies, ek rym my Afrikaanse rymelary. ’n Uur lank is ek Koos Kombuis, en alles gaan jolly. Dis beter as TV kyk!

Toe ek klaar is, encore die motorfietsryers my soos een man.

“Sing die Fokkol-song!” kom die oproep. Toe ek nie dadelik wil nie, rev hulle hul bikes. Dis ’n magtige dreuning. Ek het nie ’n keuse nie.

Ek besluit om die nuwe weergawe van my 2008-treffer te sing. Die een met effens minder vloekwoorde. Die een wat ek later tot  “Die trots Suid-Afrikaanse fokkol-song” herdoop het.

“Daar’s geen rede om te fokkof, want . . . ons is die beste land!” sing ek.

Toe ek klaar gesing het, kyk ek oor die koppe van die skare voor my, en ek sien ek hoe die son sak oor Jeffreysbaai se see, en ek weet: Ek wil nêrens anders woon as in hierdie land nie.

Dit het die skare op hul voete. Duidelik voel hulle ook ons is die beste land.

En toe besef ek: My dagga-rokende vriend was dalk tog reg, jare gelede daar langs die Eersterivier in Stellenbosch.

Die wêreld is onderstebo.

Ons dink dit gaan hier sleg, want hier is misdaad en swak dienslewering en slaggate in die strate en rioolvuil in die riviere, en ja, dis waar, ons situasie is bitter ernstig.

Maar in die Noordelike Halfrond dreig pestilensie op ’n groot skaal. Die enorme probleme elders op die planeet verdwerg meteens die dinge wat ons hier pla.

Toe ek klaar gesing het, kyk ek oor die koppe van die skare voor my, en ek sien ek hoe die son sak oor Jeffreysbaai se see, en ek weet: Ek wil nêrens anders woon as in hierdie land nie.

Want eintlik is dit nog steeds “Suid-Afrika Bo” . . .

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Adolf Hitler  |  Sirië  |  China  |  Suid-Afrika  |  Jeffreysbaai  |  Korona-Virus  |  Oorlog  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.