Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Hoe ek my geloof in die DA verloor het

Ondanks negatiewe mediaberigte en binnegevegte het hy aan die DA bly glo – totdat hy ’n paar verwelkte stingels pleks van ’n beloofde bos blomme by dié party gekry het, skryf Koos Kombuis.

Antie Poppie Skets: Koos Kombuis

Dana Snyman het op ’n keer in een van sy rubrieke geskryf dat hy nie ’n datum het nie. Dit het hom vreeslik gepla, het hy gesê, want blykbaar moet ’n mens ’n datum hê.

Die dominees in die ou tyd het mos altyd gesê ons moet almal só iets voor in ons Bybels kan skryf: “Die datum van my oorgawe is . . . ”

Die enigste datum wat ek het, waarvan ek seker is, is die datum toe ek my geloof in die Demokratiese Alliansie (DA) verloor het.

Dis natuurlik glad nie ’n goeie ding nie. Op sy beste is dit ’n baie hartseer ding.

Ek kan nie meer vir die DA stem nie.

As jy jou geloof in die DA verloor, kan jy maar netsowel “hallo” sê vir ’n ewigheid in die hel.

Nou, Dana, dis my dilemma.

Ek kan nie meer vir die DA stem nie.

Oukei, dalk het ek gejok oor die datum. Al wat ek vir seker weet, is die tyd. Dit was verlede week, een dag so net ná sewe uur in die aand. Die vliegtuig was net mooi oor. Ek het daai vliegtuig nogal nodig gehad.

Tot net ná sewe op daai aand verlede week het ek presies geweet hoe werk alles. Ek het geloofsekerheid gehad. Ek het geglo ek weet wat verkeerd is met Suid-Afrika en wat ons moet doen om dinge reg te ruk.

Mmusi Maimane en Patricia de Lille, twee DA-leiers wat nie meer aan dié party behoort nie. Foto: Gallo Images

My geloof in die DA het nog nooit voorheen gewankel nie. My geloof in die DA was soos my geloof as kind in die Kinderbybel.

Die DA maak slaggate reg. Die DA se munisipaliteite kry skoon oudits. Vandat ek daardie eerste jaar – was dit 2011? – die poster gesien het van die drie Demokratiese tannies het ek onwrikbaar geglo dat hulle eendag bestem is om oor te vat by die ANC en alles reg te ruk.

Toe verkas Lindiwe Mazibuko. ’n Paar jaar later auntie Pat. Helen Zille is nog daar, maar sy raak deesdae net al meer grillerig, kom ons wees nou eerlik.

O, daar loop al lank gerugte rond dat alles nie wel is in my party nie.

Daar was baie dinge wat my die laaste ruk oor die DA laat wonder het, maar elke keer as gedagtes van twyfel my wou pak, het ek dit probeer ignoreer, want dis mos ’n sonde om te twyfel en ek wou nie na die buitenste duisternis toe gaan saam met Mmusi Maimane en Herman Mashaba en al die ander wat die afgelope ruk onder ’n wolk van onbewese beskuldigings en media-karaktermoord weg is nie.

O, daar loop al lank gerugte rond dat alles nie wel is in my party nie. Dat hierdie gestryery en karaktermoorde in die media die simptoom is van ’n probleem wat veel dieper lê.

En toe kom daar die onverstaanbare boggherop met die Covid-19-geld.

Geld vir ’n legende

Koos Kombuis

Vroeg in die staat van inperking, in Mei 2020, toe ’n swetterjoel van my konserte landwyd skielik gekanselleer is en ek enigiets sou doen om my gesin te help om kop te hou bo water, het ek gesien dat die Wes-Kaapse owerhede op hul webtuiste “humanitêre verligting” aan uitvoerende kunstenaars beloof.

Ek het dadelik aansoek gedoen!

Daar was duisende vorms om in te vul, maar eindelik was ek verheug toe hulle my aansoek goedkeur onder die afdeling “Legendes”. Die “Legendes”-fonds was vir die veterane in die musiekbedryf.

Dis mos ekke! Dis blykbaar wat ek was. ’n Legende!

Die bedrag wat aan my belowe is, was ’n fraksie van die geld wat ek verloor het as gevolg van die pandemie, maar nou ja, enigiets was in daardie stadium welkom.

Sedertdien het ek al soort van vergeet dat die Wes-Kaapse regering my nog geld skuld. Dinge gaan finansieel al lankal beter met ons gesin. Ek sing weer op verhoë en boonop het ons intussen ander planne gemaak, ander kreatiewe uitinge ondersoek, thank you but no thank you.

Maar toe, ná my aansoek goedgekeur is, kom die gewag. Die weke het gekom en gegaan. Dit is nou maande later, en die staat van inperking is feitlik verby en daar is nog niks nie.

Gelukkig het ek darem hier by Juliemaand rond ’n hupstootjie gekry uit ’n heel ander oord. Iemand het namens ons by die nasionale regering – nie die Wes-Kaapse een nie – aansoek gedoen om vergoeding as gevolg daarvan dat ons vertoning op die KKNK afgestel is.

Die transaksie was eenvoudig. Daar was nie honderde bladsye papierwerk nie. Die geld was binne ses dae in my rekening. En dit was twee keer meer as wat die Kapenaars belowe het.

Sedertdien het ek al soort van vergeet dat die Wes-Kaapse regering my nog geld skuld. Dinge gaan finansieel al lankal beter met ons gesin. Ek sing weer op verhoë en boonop het ons intussen ander planne gemaak, ander kreatiewe uitinge ondersoek, thank you but no thank you.

Dis hoekom die e-pos wat ek ’n paar dae gelede van die Wes-Kaapse regering gekry het so ’n klap in die gesig was.

Die befondsing wat ek sou gekry het, is gekanselleer, het hulle geskryf. Want hulle het intussen hul databank nagegaan en tot hul skok gesien ek het reeds ook geld van die nasionale regering ontvang.

Is dit ’n sonde om geld van die ANC te kry? Moes ek eers vir Zondo gevra het of dit oukei is?

Dit was die toon van die e-pos wat vir my veel erger was as die verlies aan die geld wat hulle belowe het.

In plaas van om te sê, “O, ons is vreeslik jammer dat ons ses maande lank gesloer het om die beloofde geld aan jou te stuur, en ons is vreeslik jammer dat jy as gevolg van ons onverklaarbare gesloer op die ou end by die ANC-regering moes aanklop om hulp, ons is bitterlik verleë dat die ANC se fonds blykbaar beter bestuur is as ons s’n, en daarom het ons besluit om vir jou nou die volle bedrag wat aan jou belowe is toe te ken plus ses maande se rente, of jy dit nog nodig het of nie, want die manier hoe ons jou behandel het, was heeltemal onaanvaarbaar. Finish en klaar.”

So ’n brief sou nice gewees het.

Maar nou ja.

Bring vir my blomme

Kaapstad se geskiedkundige blommemark. Foto: Jaco Marais

Selfs ná hierdie brief het ek nog aan my laaste bietjie geloof in die DA vasgeklou.

Maar toe, net ná sewe een aand, skakel ek die TV aan en sien ’n nuusberig.

’n Nuusberig wat alles sou verander.

Dit was die storie oor die tragiese lot van Adderleystraat se blommeverkopers.

Dié groep wat al sedert die jare toet ’n bekende gesig in die hartjie van die Moederstad is – ek onthou hulle van my kinderjare af! Hul oorlewing is nou in die weegskaal. Dis verskriklik!

Volgens hulle het die plaaslike owerhede hulle lelik in die steek gelaat.

’n Kaapse middestad sonder sy blommemark in Adderleystraat is byna ondenkbaar. Maar hul besigheid is nou ná die lang staat van inperking feitlik op sy knieë.

Ek het my geloof in die DA verloor, want toe hulle vir my ’n bos blomme belowe het, het ek net ’n paar verwelkte stingels gekry.

Dit was eintlik ekstra lank vir hulle, want hulle is verbied om soos ander ondernemings weer te begin werk nadat hulle maande by die huis gesit het.

Die perseel was nog nie gereed vir hulle om terug te keer na die mark toe nie, is gesê. Daar moes kwansuis eers aan die krane gewerk word. En daar was blykbaar ook ’n stukkende openbare toilet wat herstel moes word.

Hoe lank kan dit vat om ’n paar krane en ’n openbare toilet reg te maak?

Die Wes-Kaapse regering het weke gevat.

Wat gaan nou van die blommeverkopers word? Hulle is eindelik terug, maar hul besigheid is feitlik tot niet.

Op hul Facebook-site het ek gelees van die legendariese antie Poppie, jare lange matriarg van die blommeverkopers, wat in September dood is.

Ek het besluit om dit my datum te maak. Die datum waarop ek die DA verlaat het. Al is dit terugwerkend. Want, soos ek sê, kan ek nie onthou op presies watter dag ek daardie nuusberig gesien het op SATV nie.

My datum is nou amptelik 10 September. Dis die datum van antie Poppie se dood.

Ek het my geloof in die DA verloor, want toe hulle vir my ’n bos blomme belowe het, het ek net ’n paar verwelkte stingels gekry.

En, dit, Dana, is my eintlike probleem:

Ek het nou nie ’n clue vir wie om te stem in die volgende verkiesing nie.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.