Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Hoekom glo mense fopnuus?

Hy weet nie of fopnuus en samesweringsteorieë verbied moet word nie, want deur sulke inligting te probeer wegsteek en stil te maak, verleen jy baie meer geloofwaardigheid daaraan as wat dit andersins sou gehad het, skryf Koos Kombuis.

En wie sal dit glo? Foto-manipulasie: Koos Kombuis

Ek kry al hoe meer e-posse van vriende wat vreemde attachments aanstuur.

Dan is dit gewoonlik die een of ander obskure YouTube-video, of ’n video van ’n ander webtuiste, wat allerhande vreemde feite en teorieë voorhou as die waarheid.

As skrywer vind ek die meeste samesweringsteorieë nogal opwindend. Dit prikkel my verbeelding en gee my allerhande idees vir wetenskapfiksie-stories.

Ek het egter lankal geleer om sulke idees met ’n moerse knippie sout te neem.

Dit is bes moontlik nie waar dat Britney Spears ’n alien is nie. Ek twyfel baie sterk daaraan of koningin Elizabeth werklik ’n vermomde reptiel is.

En ek byt bra moeilik aan die gedagte, pun intended, dat Bill en Hillary Clinton vampiere is wat mensebloed drink vir ontbyt.

Die idee dat daar ’n bekende pizzaplek in New York is waar al die beroemde mense van die jet-set dikwels vergader om seksuele dade met kinders te pleeg, klink vir my darem te siek om waar te wees.

En ek byt bra moeilik aan die gedagte, pun intended, dat Bill en Hillary Clinton vampiere is wat mensebloed drink vir ontbyt.

Dis maklik om amper al die mees bisar teorieë te herken as doodgewone fopnuus.

Amper almal. Hier en daar is daar iets wat vassteek en waaroor ek nie kan help om te wonder nie.

Die teorie dat die piramides gebou is deur wesens uit die buitenste ruimte is vir my tog te oulik. Ek wens dis waar, want dit maak soveel sense!

Sirkels in landerye in Long Wood, Hampshire. Foto: Getty Images

Ek is gefassineer, meer as gefassineer, deur sogenaamde crop circles.

En daardie gedagte, die een wat nou al ’n paar dekades lank geopper word, selfs onder gerespekteerde wetenskaplikes, dat daar iets bestaan soos ‘n “Planeet X”, tans onsigbaar in die buitenste ruim, wat elke drieduisend jaar op ’n elliptiese baan naby die aarde verbykom?

Fopnuus is selde ’n direkte leuen. Werklik oortuigende fopnuus bevat altyd elemente van die waarheid.

En dat die gode van die ou tyd, soos Zeus en almal, eintlik van daar af kom, en net ’n paar duisend jaar hier rondgehang het tot hulle verveeld geraak het met ons en teruggegaan het?

Wow. Love it. Dis selfs beter as science fiction.

Ek dink dat dit juis is waar die vangplek, en met ander woorde die gevare, van fopnuus skuil.

Fopnuus is selde ’n direkte leuen. Werklik oortuigende fopnuus bevat altyd elemente van die waarheid.

’n Mens lees fopnuus en jy sê dadelik vir jouself: “Watter onsin is dit nie!” maar iewers in jou agterkop is daar so ’n klein stemmetjie wat vra: “Wat as . . . ?”

Beplan hulle alles? Die kenteken van die Illuminati in Beiere. Foto: Getty Images

Kyk, vat nou maar die teorie van die Illuminati. Dit is nie absoluut buite die grense van logiese moontlikhede dat die wêreld beheer word deur ’n magtige groepie superrykes nie. Dis eintlik so half te verwagte, want ons weet mos almal watse etters party van die superrykes is!

Vat nou maar die lawwe gedagte dat daar, in die hoë kringe waar politici en rolprentsterre beweeg, ’n geheime netwerk hoogs gevaarlike professionele en gevaarlike pedofiele aan die werk is.

“Nonsens!” sê my verstand.

Maar dan sê ek vir myself: “As iemand my lank gelede vertel het dat daar duisende priesters in die grootste Christelike kerkdenominasie is wat op ’n gereelde grondslag onbehoorlike dade met kinders pleeg, sou ek dit ernstig opgeneem het?”

Natuurlik nie.

Maar as niemand intussen uitgepraat het nie, het almal tot vandag toe gedink daardie gerugte is fopnuus.

Daar sal altyd dié wees wat enigiets glo

Koos Kombuis

Dis hierdie soort ding wat my laat wonder of dit regtig sal help as soialemediaplatforms soos Twitter of Facebook fopnuus probeer stopsit.

In die eerste plek: mense wat sulke snert wil opslurp soos die idee dat die mensdom beheer word deur reuseakkedisse, gaan daardie video’s eenvoudig elders op die internet vind as hulle dit soek. Want hulle wil dit kyk.

In ’n ideale wêreld sou dit natuurlik beter gewees het om fopnuus hoegenaamd nie te probeer beheer nie. Selfs werklik gevaarlike fopnuus, soos die kastige mediese dokters – ouens in wit jassies – wat vir jou probeer vertel dit help nie om jou hande te was nie en dat maskers nie regtig die koronavirus kan keer nie.

Ongelukkig – en dit is ’n feit waarvan ons nie kan wegkom nie – sal daar altyd mense wees wat alles vir soetkoek opvreet. Daar sal altyd mense wees wat te lui is om vir hulself te dink. Wat te stupid is om die koring van die kaf te probeer skei.

En om die koring van die kaf te skei, gaan in die toekoms al hoe moeiliker word, selfs al is ons nie almal so stupidnie, want die ouens wat fopnuus skep, word al hoe meer professioneel.

Net soos die ouens wat nuus skep om die fopnuus verkeerd te bewys, al hoe meer professioneel word.

Dit raak al moeiliker om die verskil te sien. Op die ou end is ons dalk in ’n wêreld – dalk is ons al reeds in so ’n wêreld – waar alle nuus in ’n mindere of meerdere mate fopnuus is. Slegs die graad verskil.

Kan Britney Spears ’n ‘alien’ wees? Foto: Getty Images

Die grootste gevaar wat ons in die gesig staar wanneer ons ten minste die ergste en gevaarlikste “fopnuus” probeer verbied, is egter dit: deur sulke inligting te probeer wegsteek en stil te maak, verleen jy baie meer geloofwaardigheid daaraan as wat dit andersins sou gehad het.

Wanneer daai gesiglose man met sy donker onheilspellende stem op die Q-video vir jou sê “This is what the mainstream media don’t want you to know about Donald Trump,” dan is dit maklik om tot die gevolgtrekking te kom: “Ja! Ek kan met my eie oë sien die hoofstroommedia haat Donald Trump! Hoekom anders moes ek na so ’n obskure hoekie van die internet toe sluip om die regte inligting oor die Orosmannetjie te kry?”

Gaan fopnuus op die ou end ons samelewing ondermyn en tot ons ondergang lei? Dis moontlik. En ons sal dalk grotendeels onsself moet blameer as so iets gebeur.

Maar wat as ons alle “fopnuus” onwettig te maak? Sal dit help? Skep ons daardeur nie dalk ’n totalitêre wêreldstaat wat juis die teorieë oor die Illimunati reg bewys nie?

Nog erger: wat as sulke drastiese wetgewing lei tot die verlies van alle verbeelding, alle satire, alle gewone common sense en humor, alle vrye debat, en daartoe lei dat almal eendag voor die voet ewe stupid word?

O genade. Nou’s ek skielik vrek bang . . .

* Hierdie was my laaste Netwerk24 –rubriek van die jaar. Ek wens hiermee al my lesers ’n wonderlike feestyd en ’n voorspoedige Nuwejaar toe. Mag ons 2021 oorleef.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.