Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Is dit begin van ’n Groot Trek in ‘reverse’?

Moet ons Kapenaars noodwendig bly saamveg vir ’n beter land, of moet ons kop in die sand steek en agter ons rooiwyn-gordyn wegkruip? Moet die Kaap afstig van die res van die land? vra Koos Kombuis.

“Ek het jou lief soos die Kaap.” Skets: Koos Kombuis

Ek is lief vir die Kaap. Ons is almal lief vir die Kaap.

Maar hóé lief?

Kan ’n mens die Kaap só liefhê dat jy niks anders liefhet nie? Moet die Kaap afstig van die res van Suid-Afrika?

Wie se mal plan was dit 'anyway?'

Rêrig? Hoekom?

Is dit moontlik? Is dit wenslik? Wie se mal plan was dit anyway? Waar kom dit vandaan? Was die Republiek van Houtbaai nie erg genoeg nie?

Hierdie, en ander vrae, is deesdae op al meer mense se lippe.

In Julie vanjaar het ’n groep wat hulleself “Gatvol Kapenaars” genoem het, gedreig om die stad met hul protes-aksies tot stilstand te ruk. Ek het gewonder of hulle dalk die radikale vleuel van die “Kaapse Party” kon wees.

Die groep Gatvol Capetonian wil onder meer onafhanklikheid hê vir die Kaap. Foto: Foto24

Die Kaap se afstigting word deur die algemene publiek as iets eksentrieks en koddigs gesien.

’n Onlangse artikel deur ene Phil Craig in die Thought leader-afdeling van die Mail & Guardian probeer egter hard om hierdie persepsie nek om te draai.

Volgens Craig is in ’n onlangse meningspeiling deur Victory Research bevind dat 47% van Kapenaars graag ’n referendum hieroor wil hê, en dat ’n verbasende 35,8% heeltemal ten gunste van afstigting is. Die meningspeiling is onder alle rasse gedoen.

Die meeste was egter heftig teen ’n Kaapse onafhanklikheid gekant.

Hierdie artikel, toe ek dit lees, het my soos ’n bom getref.

’n Paar dae daarna het ek die mening gevra van almal wat ek in die Kaap ken.

Daar was wel steun daarvoor. Weliswaar nie naby 30% nie, maar nou ja, dis moeilik om te sê, want nie almal wou met my praat nie en ’n paar wou anoniem bly.

Die meeste was egter heftig teen ’n Kaapse onafhanklikheid gekant.

’n Wolf in skaapsklere?

Koos Kombuis

Volgens Anton Goosen is die dit “ ’n chimera, ’n lugkasteel.” “Gaan dit beteken dat ek ’n paspoort sal moet gebruik om Bosveld toe te gaan?” het hy skertsend gevra.

Schalk Joubert was net so afwysend: “Die gesprek is ’n mors van tyd en energie. Ek sou dit nog in ’n mate kon verstaan, nie noodwendig daarmee saamstem nie, as daar gesprekke gevoer is oor verskillende provinsies se konstitusionele mag as gevolg van ekonomiese bydrae . . .

“Tensy die afstigting selektiewe mense soos die spul Gautengers wat oor die afgelope tien jaar hulle vals Toskaanse huise met kleipotte en watervalletjies orals in ons woonbuurte kom oprig en ontsier het ook sal terugpos, dan mag ek dalk die gedagte vir ’n oomblik oorweeg.”

Riku Lätti was filosofies daaroor: “My hart staan daarop dat ons grense moet afbreek, nie nuwes maak nie.”

Die sangeres Sima Mashazi se antwoord was kort en kragtig: “It sounds like a terrible idea.”

Lloyd Ross (filmmaker en platemaatskappy-eienaar wat deesdae deeltyds in die Kaap bly) het hierdie versugting uitgespreek: “I think South Africa has to sort out its myriad problems as a whole.”

Die rymkletser Churchil Naudé meen die gedagte van ’n Wes-Kaapse afstigting het ’n rasse-agenda.

Churchil Naudé, bekende kletsrymer en digter, het gevoel die afstigtingsplan het ’n rasse-agenda: “Ek kan nie die gevoel van ’n wolf in skaapklere afskud as dit kom by die gedagte aan ’n onafhanklike Wes-Kaap nie. Hulle sê dit het niks met kleur te doen nie, maar die realiteit is dat alles in Suid-Afrika oor kleur gaan. . . . As iemand vir jou sê dat ’n saak soos hierdie nie oor ras of politieke affiliasie gaan nie, behoort dit ’n red flag te wees.”

Die musikant Frazer Barry het dieselfde vrese uitgespreek.

“Ek sal verkies dat Wes-Kapenaars liewer eers probeer om die moeite te doen om mekaar se kulture en tale te probeer verstaan, as wat ons haastig is om te probeer wegbreek van Suid-Afrika . . . Die ongemaklike deel is dat ’n groot motivering vir hierdie wegbreek op die teenwoordigheid van ‘Oos-Kapenaars’ gegrond is. Op Facebook kan mens die openlike rassisme sien en dit maak my bekommerd.”

’n Nuwe Groot Trek?

Slegs ’n paar bekende figure het erken dat hulle pro-Capexit is, maar hulle wou almal anoniem bly.

Een van hulle het gesê: “Dis die nuwe Groot Trek. ’n Vlug van die owerhede.”

’n Ander een het die volgende kwytgeraak: “Ek is pro-Kaap. Dis ’n eenvoudige som om te maak. Ons het royalty soos Krotoa en lady Anne Barnard gehad, die Noorde het Patricia Lewis en f****n Bobby van Jaarsveld en sy suster. Ons het Nataniël geskep en die Noorde het Casper de Vries. Dan laastens en belangrikste, ons kan vokale reg uitspreek. ‘Ek’ is nie ‘Aek’ nie.”

Al hierdie antwoorde was, wel, baie insiggewend (om nie te praat van vermaaklik nie!) maar ek was steeds nie seker wat regtig hier aan die gang is nie.

Wat moet ’n mens doen as jy in die Kaap woon en nie deel wil wees van ’n land wat besig is om sy gat te sien nie?

Waarom is hierdie debat besig om veld te wen? Is dit dalk ’n natuurlike reaksie op die groeiende persepsie dat Suid-Afrika besig is om as staat te misluk?

Kom ons wees eerlik. Dit kán gebeur. Selfs onder pres. Cyril Ramaphosa.

Wat moet ’n mens doen as jy in die Kaap woon en nie deel wil wees van ’n land wat besig is om sy gat te sien nie?

Moet ons Kapenaars noodwendig bly saamveg vir ’n beter land, of moet ons kop in die sand steek en wegkruip agter ons rooiwyn-gordyn?

Sou só ’n keuse selfsugtig wees, of bloot gesonde eiebelang? Is dit elitisties of sou dit die logiese ding wees om te doen?

Kaalvoet oor die Hottentots-Holland-berge

Dawie Roodt: “Die ANC-regering is so ’n totale f**op dat enigiets beter sal wees (as om onder die nasionale regering te bly).” Foto: Foto24

Op die ou end het ek gaan kers opsteek by twee kundiges in hul gebied, die bedryfsosioloog prof. Andries Bezuidenhout (hy’s ook ’n sanger!) en die ekonoom Dawie Roodt.

Andries se reaksie was vinnig en skerp:

“Ai tog, provinsialisme was nog maar altyd ’n Wes-Kaapse siekte,” skryf hy. “Die berge is mooi, maar die probleem is dalk dat mense daar onder die indruk is dat hulle daai berge ontwerp het.”

Dawie het ’n langer antwoord gestuur. Ek haal aan:

“Indien mense om welke rede ook al besluit om hul eie potjie te krap dink ek nie enigiemand het die reg om hulle te keer nie, selfs al beteken dit die einde van Suid-Afrika soos ons dit ken en selfs al beteken dit dat die Kapenaars selfs ekonomies swakker daaraan toe kan wees.”

Hy gaan voort: “Ek dink dinge soos onderwys en gesondheid kan maklik ‘losgemaak’ word maar die finansiële markte ensovoorts sal moeilik wees.

“Maar, laastens, die ANC-regering is so ’n totale f**op dat enigiets beter sal wees.”

Staan ons werklik aan die begin van ’n Groot Trek in 'reverse?'

Dankie vir die laaste woord, Dawie!

Maar wat nou? Staan ons werklik aan die begin van ’n Groot Trek in reverse? Is dit ’n geval van “kaalvoet oor die Hottentots-Holland-berge”?

Goeie hemel.

*Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings in hierdie rubriek is syne, en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Anton Goosen  |  Churchil Naudé  |  Dawie Roodt  |  Phil Craig  |  Sima Mashazi  |  Wes-Kaap  |  Suid-Afrika  |  Afstigting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.