Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Is ons gereed vir ’n nuwe Kodesa

Daar was nog nooit ’n beter oomblik as nou om almal in Suid-Afrika om ’n spreekwoordelike ronde tafel te kry sodat ons as gelykes uitsluitsel kan kry oor al die dinge wat ons nie kon oplos in die eerste kwarteeu van demokrasie nie, skryf Koos Kombuis.

Die toneel van die Kodesa-onderhandelings wat in die vroeë 1990’s tot die ontstaan van die nuwe Suid-Afrika gelei het. Foto: Gallo Images

Ek moet erken dat dié ’n onderwerp is wat ek baie huiwerig is om aan te roer.

Die rede hoekom ek vra of ons gereed is vir ’n nuwe Kodesa, is nie omdat ek voel die Grondwet is verkeerd of dat die eerste Kodesa in alle opsigte ’n mislukking was nie.

Waarom het ons die eerste Kodesa gehou (of dan liewer, die eerste twee Kodesas, want dit was moeilike tye, en almal kon nie dadelik eenstemmigheid kry oor of sulke samesprekings hoegenaamd moontlik sou wees nie)?

Dit was die vroeë 1990’s. Suid-Afrika was, ná meer as 40 jaar van apartheid, by ’n kruispad. Dit was ons Groot Oomblik van Waarheid.

Cyril Ramaphosa, die ANC se hoofonderhandelaar, deel ’n gedagte met oudpres. Nelson Mandela tydens die Kodesa-onderhandelinge. Foto: Gallo Images

Ek dink nie enigiemand sal van my verskil dat ons vandag, nog meer as destyds, by ’n Oomblik van Waarheid opgedaag het nie.

Hierdie Oomblik van Waarheid is inderdaad nie beperk tot Suid-Afrika nie. Ons hele planeet, ons moderne beskawing, die mensdom as spesie, het juis nou te staan gekom voor ’n Oomblik van Waarheid wat feitlik nie sy gelyke het in die geskiedenis nie.

Die probleme wat ons in Suid-Afrika ervaar – ekonomiese chaos, skreiende ongelykhede en massa-ontevredenheid is eintlik, op ’n kleiner skaal, ’n metafoor van die probleme wat die hele wêreld ervaar.

Trump dwing VSA eiehandig op sy knieë

Dit is skrikwekkend om te sien hoe Amerika as sogenaamde “leier van die vrye Weste” (nie my woorde nie) in duie stort. Soos by ons, is die verval aangehelp deur ’n rits middelmatige en swak leiers. Hulle het lanklaas ’n Washington of ’n Kennedy gehad. Die Obama-administrasie wou beter as die Bush-administrasie wees, en hulle het begin met goeie bedoelings, maar hulle het die foutlyne en die skynheiligheid van die liberale establishment laat deurskyn.

Dié van ons wat verlig was oor Donald Trump se oorwinning – want enigiets was seker beter as nog ’n termyn vir die wanfunksionele Clinton-gesin in die Withuis! – het sedertdien wreed wakker geskrik. Donald Trump het feitlik eiehandig, deur sy eie grootheidswaan, hierdie eens magtige land hopeloos verdeel en tot op sy knieë gedwing.

Hy is nie die eerste politieke leier wat speel op mense se primitiewe oerinstinkte net om ten alle koste sy mag te behou nie.

Voëls van eenderse vere? Foto: Twitter

Die gebeure in Amerika lyk op die oog af erger as wat in Europa en elders gebeur. Maar dis oral besig om vrot te word.

Die vrot in die Europese Unie het al begin groei lank voor die Tyd van die Virus. Die migrante-krisis is gevolg deur nog meer politieke en ekonomiese onstabiliteit.

Wat ons vandag gadeslaan in die Noordelike Halfrond van ons planeet, is die geleidelike – nee, nie eens meer geleidelik nie, want alles gebeur nou teen ’n skrikwekkende snelheid – ineenstorting van ’n wêreldwye ryk. Ons het in die 20ste eeu gesien hoe die kommunisme tot ’n val kom. Nou gebeur die ondenkbare: ons is eerstehandse getuies van die val van kapitalisme soos ons dit ken.

Chaos bring meer chaos. Die olielekkasie in die Arktiese sirkel kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Al vind ons betyds ’n entstof teen die virus, kan ons nie teruggaan na die wêreld wat ons geken het nie.

Dit is tyd – en daar word reeds sulke geluide gemaak – vir die nasies van die aarde om bestek op te neem, om met mekaar te konfereer oor ’n nuwe pad vorentoe.

Waar is ons Mandelas?

Dit is hoekom ek dink so iets moet ook hier gebeur. Dit is hoekom ek vra: “Is die tyd reg vir ’n nuwe Kodesa?”

Dit is nóú die oomblik om die regte mense by mekaar te kry. Hierdie keer nie slegs politieke leiers nie, maar mense vanuit alle geledere en groepe in ons land. Thuli Madonsela moet kan plek inneem langs Ernst Roets en mekaar in die oë kyk en mekaar vra: “Wat is regtig vandag belangrik vir die mense van Suid-Afrika?”

Hoe mis ek die groot leiers van die verlede, die kulturele figure en denkers wat vandag leierskap sou kon bied. Ek mis mense soos Paul Kruger. Ek mis die wye denke en die lojale verset van iemand soos N.P. van Wyk Louw.

NP van Wyk Louw Skets: Koos Kombuis

Ek mis Nelson Mandela en ek mis Denis Worrall en ek mis Helen Suzman. Hierdie leiers was nie een foutloos of onbesproke nie. Die nuwe, jonger leiers wat hopelik sal opstaan sal ook nie foutloos of perfek wees nie. Maar hopelik bring hulle nuwe visie en energie sonder die bagasie van die verlede.

Maar as ons so iets doen, moet ons dit nou doen, voor die Ramaphosas en die Mboweni’s hul greep verloor. Voor die hardhandige optrede van ’n handjievol onverantwoordelike soldate en polisiemanne ons laat afstuur op ’n spiraal van wraak en anargie.

Melanie Verwoerd het ’n paar dae gelede in ’n Engelse rubriek gewaarsku dat wat in Amerika gebeur, ook hier kan gebeur.

Daar is juis in dié stadium nog genoeg welwillendheid en samehorigheid onder alle Suid-Afrikaners om hul steun toe te sê aan so ’n proses.

Koos Kombuis

Daar is baie vrae wat beantwoord moet word. Ons weet nou van soveel haakplekke waarvan ons onbewus was tydens die eerste Kodesa.

Ons moet einde ten laaste almal saam om ’n spreekwoordelike ronde tafel kan bymekaarkom as gelykes en uitsluitsel kry oor al die dinge wat ons nie kon oplos tydens die eerste kwarteeu van demokrasie nie.

Ons moet praat oor die markte. Ons moet praat oor grond. Ons moet saam soek na oplossings wat radikaal is en tog prakties uitvoerbaar sonder om gehoor te gee aan niksseggende en oppervlakkige populistiese slagspreuke.

Of ons dit gaan regkry, weet ek nie. Ek besef daar is altyd die kommerwekkende moontlikheid dat die heethoofde van ver-links of ver-regs so ’n geleentheid kan probeer kaap.

Maar ek kan nie dink aan ’n ander uitweg nie.

2020 is ons Grootste Oomblik van Waarheid. Ons kan dit nie langer uitstel nie.

* Koos Kombuis se jongste boek, Sushi with Hitler, het onlangs by Naledi verskyn. SMS “Sushi” na 48423 om jou eksemplaar te bestel. (’n SMS kos R1,50.)

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.