Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Kaalvoet oor die Drakensberg

Wat ons vandag nodig het, is energie, nie anargie nie.Ons het nodig dat jong mense van oral oor Suid-Afrika mekaar opsoek en saamwerk, skryf Koos Kombuis.

Koos Kombuis

As daar een ding is van die afgelope verkiesing wat ons bekommerd behoort te stem, is dit dat jong mense wat vir die eerste maal in hul lewe stemgeregtig is in sulke groot getalle van die stembus af weggebly het.

’n Mens wonder wat die rede hiervoor kan wees. Is demokrasie uitgedien? Is jong mense te lui om die moeite te doen om uit te gaan en iets te doen wat hulle nie tuis op hul selfoonskerms kan doen nie? Het hulle enigsins besef hoe ontsettend belangrik hierdie afgelope verkiesing vir Suid-Afrika was?

Of was daar eenvoudig geen politieke party wat hul verbeelding aangegryp het nie?

Vandat ek my verstand gekry het en so ver as wat ek kan onthou, was die jeug nog altyd polities aktief.

Dit was swart skoolkinders wat in 1976 die voortou geneem het met die opstande in Soweto. En in die laat 1980’s was dit die beurt van jong Afrikaners om hul misnoeë met die heersende stelsel te kenne te gee deur middel van rockmusiek.

Ek verwag nie van die jeug om enige van daardie kaskenades te herhaal nie. Ons het reeds te veel protes en wanorde op straat. En nog ’n beweging soos Voëlvry, met sy dekadensie en dwelmmisbruik, is dalk die laaste ding wat ons nou nodig het. Al daardie giere was dalk nodig of onvermydelik in die 1970’s en 1980’s, toe omstandighede anders was en toe jong mense ’n ander taal gepraat het en aangevuur is deur ander simbole.

Presies wat ons vandag nodig het, daarvan is ek nie seker nie. Al wat ek weet, is dit: Ek mis die betrokkenheid van vandag se jong mense.

Ons het jonger geslag se insette nodig

Gereeld lees ek die menings van studente in gasrubrieke op Netwerk24. Die menings daarin is sonder uitsondering vars, opwindend en oorspronklik. Dit borrel van nuwe gedagtes en nuwe maniere van dinge sien. Is dit slegs enkele jong mense wat só voel of is daar ’n groter bewussyn wat besig is om pos te vat?

As daar so iets is – en ek vermoed daar is tog – hoekom het dit nie gewys in die deelname van jong mense aan die verkiesing nie?

As daar ooit ’n tyd was wanneer ons die insette en energie van die jonger geslag nodig het, is dit juis vandag.

Die uitdagings wat aan ons jeug gerig word, is enorm. Die gevare wat die toekoms inhou, is legio.

Die potensiaal wat bestaan om iets omtrent ons probleme te doen – nóú, nóú, terwyl die welwillendheid van oraloor nog bestaan, terwyl die polarisasie nog nie die oorhand gekry het nie – is geweldig groot.

’n Hele geslag het die kans vir heropbou laat verbygaan en het al hul energie bestee aan selfverryking en onderlinge twiste.

Dit is die tyd vir aksie. Nie vir apatie nie. Ook nie vir terugsit en kwalik neem nie.

Hoekom het die ANC in so baie opsigte misluk? Omdat die heersende faksie in daardie beweging teruggesak het in ’n passiewe houding van “dis alles die verlede se skuld, ons verdien spesiale behandeling”. En so is basiese verantwoordelikhede versaak ter wille van ideologie. So is regstellende aksie ingestel en so het regstellende aksie eindelik tragies ontspoor.

’n Hele geslag het die kans vir heropbou laat verbygaan en het al hul energie bestee aan selfverryking en onderlinge twiste.

In plaas daarvan om aandag te gee aan besonderhede en om elke dag hul werk te doen na die beste van hul vermoë, het hierdie oudstryders onpraktiese utopiese drome gedroom van ’n pseudo-Marxistiese revolusie.

Waar is die ware vernuwing? Waar is die kopskuif wat ons nodig het om die toekoms met ywer aan te pak?

Moenie wroeg nie

Collage gebaseer op die voorblad van Die Huisgenoot van Desember 1938. Collage: Koos Kombuis

As daar een ding is wat ek nie van ons kinders verwag nie – en beslis nie van Afrikaanse kinders nie – is dit om te veel te wroeg. Ons ouer garde het genoeg gewroeg en genoeg geboikot en genoeg koppe in die sand gesteek. Om Wimpie de Klerk se terminologie te leen, ons was lank genoeg kroes. Dis nou die tyd vir kordaat wees.

Daar is ’n berg om oor te trek. Ons kan nie terug na die ou Kolonie nie. Die ou vlag gaan nooit weer wapper nie.

Daar is nie meer wegkruipplek in ’n virtuele volkstaat nie.

Ons soek jong mense wat bereid is om hul hande vuil te maak. Ons soek jong entrepreneurs, studente, innoveerders, kulturele leiers, staatmakers. Ons soek nuwe gesigte, nuwe idees . . . en as daar dan protes móét wees, meer sinvolle protes as bloot boikot, afbreek, sanik en raas.

Die oorlog is verby. Wat ons vandag nodig het, is energie, nie anargie nie.

Die tyd vir anargie is verby. Anargie was die slagspreuk van Voëlvry en van die Struggle, dit was die kreet van oorlog en stryd.

Die oorlog is verby. Wat ons vandag nodig het, is energie, nie anargie nie.

Jong mense van oral oor Suid-Afrika moet mekaar nou opsoek en saamwerk. Om op te hou om ons erfenis te verwaarloos en te verrinneweer. Om bome te plant, verhoudings te herstel, paaie te teer, kundigheid aan te wend, werkgeleenthede te help skep, vennootskappe aan te gaan, mekaar se tale te leer praat en saam die nuwe land binne te trek as mede-Suid-Afrikaners.

Ek is in my hart seker dat die jong mense van Suid-Afrika genoeg talent het om hierdie moeilike taak aan te pak en ek hoop dat hulle ook genoeg ywer daarvoor het.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Soweto  |  Energie  |  Anargie  |  Jong Mense  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.