Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Kan rugby ons weer verenig?

Is dit nie vreemd dat soveel van die groot oomblikke in Suid-Afrika se gekiedenis met prestasies op die rugbyveld verweef is nie? vra Koos Kombuis.

Skets: Koos Kombuis

Onlangs is Frik du Preez op ’n sonderlinge wyse vereer toe die noordelike paviljoen op Loftus Versfeld na hom genoem is.

Sê jy die naam “Frik du Preez”, doem ’n beeld dadelik in my kop op: Frik met die bal onder sy linkerarm, vasbeslote trek op die gesig, op pad na die doellyn in die eerste toets teen die Britse Leeus in 1968.

Dis moeilik om die grootsheid van sulke oomblikke te verduidelik aan iemand wat nie in rugby belangstel nie.

Dis moeilik vir my om te verduidelik dat toe ek jare gelede die voorreg gehad het om Frik du Preez persoonlik te ontmoet, ek byna flou geword het van opgewondenheid en feitlik op my knieë voor die man neergesak het.

Maar hoekom sou ek op ’n ou soos Frik trots wees? Ek is immers ’n alternatiewe musikant. En boonop ’n sogenaamde “leftie”! Ek is veronderstel om net rockmusiek te luister en Deon Maas se boeke te lees. En ja, al daardie dinge doen ek, en nog meer.

Maar ek hou regtig baie van rugby ook. Het nog altyd.

O, ek was nie ’n baie goeie speler nie, dis absoluut waar, ek was aanhoudend onkant en ek het laaste opgedaag by elke losgemaal .

Hoekom het ek anders plakboeke gehad as kind waarin ek foto’s gebêre het van Piet Visagie, Tiny Naudé, Jan Ellis, Eben Olivier en Mannetjies Roux?

Hoekom het ek op hoërskool Saterdag ná Saterdag vir my C-span-wedstryde in Paul Roos Gimnasium se maroen truitjie opgedaag?

O, ek was nie ’n baie goeie speler nie, dis absoluut waar, ek was aanhoudend onkant en ek het laaste opgedaag by elke losgemaal en ek het een keer ’n drie agter my eie doellyn gaan druk met ’n sierlike duik toe ek rigting-bedonnerd was, maar speel het ek gespeel, en elke oomblik geniet.

Stransky en Mandela en Kolisi . . .

By mekaar as Suid-Afrikaners: Oudpres. Nelson Mandela en Francois Pienaar ná die Wêreldbeker-eindstryd van 1995. Foto: Jan Hamman

Vandag is rugby nog steeds ’n groot prioriteit vir my. Hulle sê die gemiddelde man dink elke ses minute aan seks. Ek dink net so baie aan rugby. Ek dink dalk selfs soms meer aan rugby as aan seks.

My vrou raak soms geïrriteerd met my as ek aan die etenstafel in my gedagtes versonke raak en sy my vra: “Waaraan dink jy?” en ek antwoord: “Ek wonder hoe oud Morné Steyn is?” of “Wie is ons beste skumskakel, Faf de Klerk of Herschel Jantjies?”

Dan sê sy: “Hoekom wonder jy oor sulke goed?”

Dan antwoord ek: “Álle mense wonder tog seker oor sulke goed! Doen jy nie?”

Rugby kan nie die ANC regmaak nie. Rugby kan nie honger kinders voed nie. Rugby kan nie keer dat mense Covid-19 kry nie.

Alle grappies op ’n stokkie. Dis waar, om nou ernstig te wees, daar is sekerlik dinge in die lewe wat swaarder weeg en meer van ons aandag behoort te vereis as rugby.

Rugby kan nie die ANC regmaak nie. Rugby kan nie honger kinders voed nie. Rugby kan nie keer dat mense Covid-19 kry nie. Rugby kan nie water verskaf aan die droë woonbuurte in Gauteng nie en rugby kan nie aardverwarming stop nie.

Maar.

Is dit nie vreemd dat wanneer jy aan die groot oomblikke in Suid-Afrika se geskiedenis dink, soveel daarvan met prestasies op die rugbyveld verweef is nie?

Springbok-vreugde in 2019. Siya Kolisi en sy spanmaats met die Wêreldbeker. Foto: Gallo Images

Joel Stransky se skepdoel in die Wêreldbeker-eindstryd van 1995. En as gevolg van daai skop: Francois Pienaar en Nelson Mandela wat naas mekaar staan, verenig as Suid-Afrikaners.

Rassie Erasmus se span van 2019, wat onherroeplik bewys het dat transformasie in sport en die kies van spelers op grond van meriete nie teenstrydig hoef te wees nie.

Siya Kolisi se span het die hele land laat juig. Beide wit en swart Suid-Afrikaners het die Bokke se triomftog deur ons land toegejuig.

Ek sien weer die koerantfoto’s voor my geestesoog. Dit is deel van ons arsenaal van positiewe memes, inspirerende prentjies.

Dis nie net rugby nie. Watter groot oomblik was dit nie toe ons in 2010 die grootste sokkertoernooi ter wêreld op eie bodem aanbied nie? ’n Paar weke lank was ek sommer baie trots op my land, en dat ons aan die wêreld kon wys dat ons goed genoeg is om so ’n geleentheid aan te bied.

Dink ’n bietjie terug aan al die groot oomblikke in ons sportgeskiedenis.

Ek sien weer die koerantfoto’s voor my geestesoog. Dit is deel van ons arsenaal van positiewe memes, inspirerende prentjies.

Karen Muir se betraande gesiggie ná haar eerste groot prestasie oorsee. Zola Budd se tinger kaalvoetlyfie. Hashim Amla in aksie op die krieketveld. Caster Semenya se vasberadenheid en deursettingsvermoë onder uiters moeilike omstandighede (ek is nie seker of ek Francois van Coke vernuf met die bokshandskoene hier mag insluit nie, maar ek sou graag wou!)

En nou vir die Leeus

Koos Kombuis

Ja, ek weet, sport alleen kan nie op sigself ons land red nie. Maar dit kan ons inspireer en saamsnoer. Dit kan ons aanspoor om trots te wees op wie ons is, om ons bes te lewer, om meer kordaat en minder kroes te wees, om ’n frase by Willem de Klerk te leen.

Onlangs het Naledi Uitgewers ’n boek gepubliseer oor die byna vergete tennisloopbaan van Davy Samaai, die eerste sogenaamd “gekleurde” Suid-Afrikaanse tennisspeler wat in die Wimbledon-toernooi gespeel het. Dit is uiters inspirerende leesstof.

Dit laat ’n mens besef dat sport kan help om die wonde van die verlede te genees.

Maar kan ek nog weer ietsie oor rugby sê? (Ses minute is byna verby).

Ons speel vanjaar teen die Britse Leeus.

Of ons wen of nie, al is daar niemand op die paviljoene nie, al lewer die Springbokke net ’n puik vertoning, sal ons hulle ondersteun, en bly ondersteun, want rugby is lankal nie meer net ’n wit ding of ’n Afrikaanse ding nie, dis ’n alles-saam-vir-almal-ding.

’n Reeks tussen die Springbokke en die Britse Leeus is, op ’n manier, amper die beste ding wat nog in rugby kan gebeur. Dit is amper so groot soos ’n Wêreldbekertoernooi. Dit is selfs meer opwindend as kragmetings teen die All Blacks. Dit is sommer net eenvoudig plein huge.

Dit gebeur ook nie dikwels nie. Dis ’n rariteit.

Die Engelse het rugby uitgedink. Ons het dit vervolmaak. Beide die Leeus en die Springbokke het soveel om aan mekaar te bewys. Dis ’n kwessie van eer.

En dit kan ’n inspuiting vir nasiebou word. Dit kan ons laat goed voel oor onsself, ons plek in die wêreld, en alles waartoe ons in staat is.

Die Springbokspan kan dinge vanjaar regkry wat die politici nooit in 100 jaar sal kan regkry nie. Hulle kan ons in moeilike tye van ons medemenslikheid bewus maak. Hulle kan ons tydelik van die smarte van die pandemie laat vergeet. Hulle kan ons saamsnoer in ’n gevoel van lojaliteit teenoor ons eie.

Of ons wen of nie, al is daar niemand op die paviljoene nie, al lewer die Springbokke net ’n puik vertoning, sal ons hulle ondersteun, en bly ondersteun, want rugby is lankal nie meer net ’n wit ding of ’n Afrikaanse ding nie, dis ’n alles-saam-vir-almal-ding, en dis, om nou dood-eerlik te wees, een van die enigste dinge wat ons werklik goed kan doen.

Ja, inderdaad. Rugby kan ons weer verenig.

Komaan, Groen-en-goud! Komaan, Mzansi!

Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Springbokke  |  Britse Leeus  |  Caster Semenya  |  Siya Kolisi  |  Frik Du Preez  |  Joel Stransky  |  Hashim Amla  |  Nelson Mandela  |  Zola Budd  |  Francois Pienaar  |  Loftus Versfeld  |  Nasiebou  |  Sport  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.