Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Kom ons verander Suid-Afrika se naam sommer nou!

Ons weet nou hoekom die ANC deesdae weer so baie plekke se name verander. Maar kom ons wag ’n bietjie en kyk of die dienslewering in Gqeberha beter is as wat dit in Port Elizabeth was, skryf Koos Kombuis.

Een van die ikoniese bakens in Port Elizabeth – deesdae Gqeberha. Foto: Renaldo Gouws

Dit het in die laaste week van Februarie gebeur.

Een aand het inwoners van Port Elizabeth gaan slaap in Port Elizabeth. Die volgende oggend het hulle wakker geword in Gqeberha.

Dit het as ’n groot skok gekom vir die meeste Suid-Afrikaners. Ek was onder die wanindruk Port Elizabeth is lankal herdoop na Nelson Mandelabaai. Blykbaar is daar ’n verskil tussen die naam van ’n dorp en die naam van sy munisipaliteit.

Dis alles baie verwarrend. Of dit was.

Intussen het die stof effens gaan lê. Die meeste mense het uitgefigure hoe om Gqeberha uit te spreek. Ons raak stadig gewoond daaraan om die nuwe naam in nuusberigte raak te lees.

Gee ’n munisipaliteit ’n nuwe naam, en hulle sal heeltemal outomaties begin om meer gereeld vullis te verwyder, paaie te teer, water te voorsien en hul elektrisiteitskuld aan Eskom te betaal.

Boonop weet ons nou hoekom die ANC deesdae weer so baie dorpe (of munisipaliteite – om nie eens van lughawens te praat nie) se name verander. Die Vrystaatse tak van die ANC het alles hier verduidelik. Al is hulle baie ver van Gqeberha af. 

Dis blykbaar om dienste te verbeter: “The failure to name our areas – in particular, streets – have impacted at times the provision of certain services . . . this process will continue to buttress the people’s dignity and security.”

Gee ’n munisipaliteit ’n nuwe naam, en hulle sal heeltemal outomaties begin om meer gereeld vullis te verwyder, paaie te teer, water te voorsien en hul elektrisiteitskuld aan Eskom te betaal. So lui die argument.

Dit is wonderlik! Nou hoekom op dees aarde het ons al die jare gestruggle en geraas gemaak om teen swak dienslewering te betoog? Hoekom het ons gebodder om sekere dorpe onder administrasie te laat sit?

Gee die plek net ’n nuwe naam! En tjieng! Soos in ’n wonderwerk, sit jy oornag met ’n hele nuwe dorp!

’n Wonderwêreld van beeldspraak

Alle grappies op ’n stokkie. Ek is seker die naam “Gqeberha” het ’n trotse geskiedenis. Wat daardie geskiedenis presies is, is ’n bietjie moeilik om uit te vind, want as ek intik “Gqeberha meaning” op my Google-soek-enjin, raak ek nie veel wys nie. Maar almal verseker my dat die naam beslis ’n trotse geskiedenis het.

Koos Kombuis

En, ja, die feit dat dit moeilik is om uit te spreek, is nie ’n geldige rede om so ’n naamsverandering tee te staan nie. Soos Mmusi Maimane tereg gesê het, dis hoog tyd dat Suid-Afrikaners mekaar se tale aanleer. Ons moet al die Xhosa’s se kliek-klanke baasraak en hulle moet Afrikaanse name en begrippe soos “Jan Braai vir Erfenis” leer verstaan en uitspreek.

Dit maak absoluut sin.

Ons het inderdaad baie pragtige inheemse tale, en baie van ons dorpe (of munisipaliteite?) het lankal reeds wonderlike Xhosa- en Zoeloe-name. Kyk maar na plekke soos Lwandle (dit beteken liefde vir die see), Langa (sonskyn), Nyanga (maan) en Khayelitsha (nuwe tuiste). Is hier nie ’n wonderwêreld van beeldspraak en metafore om te ontdek nie?

Ook party van die name wat betreklik onlangs eers verander het, was hoogs gepas. Ek kan aan geen beter naam vir Bloemfontein dink as Mangaung (plek van die Cheetahs) nie. Ditsem! Sê dit soos dit is!

Plek van die riool

’n Plek se naam is inderdaad baie belangrik. Ek is reeds jare lank ongelukkig omdat die dorp waar ek woon se naam Somerset-Wes is.

Illustrasie: Koos Kombuis

Die probleem is, na wát verander ’n mens die naam Somerset-Wes? Het ons enige belangrike landmerke? Al waaraan ek kan dink is die Somerset Mall. Maar ek is nie seker of ek sal hou van ’n naam soos Imoli (die Xhosa-sleng vir mall) nie!

Maar selfs Imoli sal beter wees as Somerset-Wes, want die woord Somerset verwys na ’n ou Kaapse goewerneur waarvan niemand regtig gehou het nie (ek het niks teen Engels nie, maar daai verengelsingsbeleid van Lord Charles was een te veel!). En die woord Wes . . .Wes van wát?

Die naam van ’n plek behoort, ideaal gesproke, nie die naam van ’n windrigting in te sluit nie. Of as daar van ’n windrigting melding gemaak word, moet dit ten minste sin maak.

Die naam Oos-Londen – wat beteken dit? Wat het dit met Londen te doen? En van wanneer af is Oos-Londen oos van Londen? Selfs Suid-Londen sou beter gewees het as Oos-Londen!

O, en ek kan aan talle wonderlike nuwe name dink.

Dis gelukkig nie werklik nodig om Kaapstad se naam te verander nie, want onder die DA is die dienslewering hier nie te sleg nie. Maar as dit dan móét, sal ons sal dalk kan leer om saam te leef met ’n naam soos Itafile (tafel)(vernoem na Tafelberg).

As dinge só aangaan, sit ons eersdaags met ’n land waar die name so vinnig verander dat geen GPS-stelsel hier sal kan navigeer nie.

Daar is wel ander plekke waar die dienslewering regtig dringend aandag nodig het. Daarom stel ek voor dat Standerton die tussentydse naam Ilindle (plek van die riool) kry. En Parys in die Vrystaat? Wel, ek kon nie ’n akkurate inheemse woord vir slaggate kry nie, maar die naaste een wat ek in my Xhosa-leksikon kon opspoor was Imingxuma.

Dis alles baie fantasties, maar daar is net een probleem: As dinge só aangaan, sit ons eersdaags met ’n land waar die name so vinnig verander dat geen GPS-stelsel hier sal kan navigeer nie.

Mzansi

Dalk moet ons eerder, ter wille van praktiese oorwegings, net alles los soos dit is. Staak die verwarring wat aanhoudende naamsveranderinge skep!

Kom ons verander net één naam: Die naam van ons land.

Hier is my pleidooi: Kom ons plaas vir eers ’n moratorium op alle naamsveranderinge aan dorpe, munisipaliteite, vliegvelde, sportvelde (en strate – laat ons nie van strate vergeet nie).

Kom ons verander net één naam: Die naam van ons land. Iemand het so-iets onlangs in ’n Afrikaanse weekblad voorgestel, en ek dink dis ’n great idee.

Kom ons verander Suid-Afrika na Mzansi. Sommer nou.

En bogger dan eers met al die red tape en beslommernis en onnodige bestedings aan ’n nuwe naam vir elke denkbare gehuggie.

Mzansi beteken ook suid, maar dis ’n minder lang en lomp woord om uit te spreek as Suid-Afrika (laasgenoemde klink alte veel soos Somerset-Wes of Oos-Londen).

Die naam Mzansi is boonop reeds deur die meeste Suid-Afrikaners aanvaar as ’n alternatiewe naam vir ons land. Mzansi is ’n eenvoudige, sterk woord, ’n vriendelike woord, iets waarmee almal kan vereenselwig. Dit het ook nie die radikale politieke konnotasies van Azania nie.

As die ANC nie hierdie voorstel wil aanvaar nie, is ek bereid om ’n weddenskap met hulle aan te gaan.

Kom ons wag ’n bietjie en kyk of die dienslewering in Gqeberha beter is as wat dit in Port Elizabeth was.

As daar binne ses maande nog niks verander het nie, moenie bodder om al die naamplaatjies en kaarte te verander nie.

Spandeer eerder daardie geld aan rioleringsdienste, elektrisiteitsrekeninge, skole, hospitale, infrastruktuur . . . Of wat praat ek alles?

*Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Naamsveranderinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.