Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Kyk wat vang ons sangers deesdae aan!

Talle Afrikaanse musikante en uitvoerende kunstenaars maak deesdae naam in die beeldende kunste, skryf Koos Kombuis.

“Early Birds” van Andries Bezuidenhout, olie op doek, 59x42cm.

Soos al die ander uitvoerende kunstenaars wat ek ken, het die staat van inperking, wat in Maart aangekondig is, my van noodsaaklike inkomste beroof.

Ek onthou nog hoe stomgeslaan ek was toe die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gekanselleer is. Ek was op die punt om daarheen te vertrek vir ’n konsert saam met Schalk Joubert en ’n klomp ander musikante, en ek het geweldig daarna uitgesien.

Nou ja.

Dis nou amper ’n halwe jaar later. Die afgelope ses maande het ek teruggeval op iets wat tot voor die winter van 2020 meesal slegs ’n stokperdjie was: Prentjies maak.

Koos Kombuis

Een van die grootste gelukkies wat my al vroeg in die staat van inperking getref het, was toe Karen Zoid instem dat ek kon deelneem aan ’n reeks virtuele kunsveilings wat sy op haar Facebook-blad aangebied het.

Dit was groot pret! Nie net het ons almal ’n bietjie geld gemaak nie, maar ek het ook besef hoe wyd en uiteenlopend die kunsmark in Suid-Afrika is.

Seker die verrassendste tendense van die afgelope paar maande is die groot aantal musikante en sangers wat hulle deesdae tot die visuele kunste as tweede beroep wend.

Dit kom al eintlik van voor die staat van inperking af.

Andries Bezuidenhout, bekende sanger en ook lid van die gewilde Brixton Moord-en-Roof-Orkes, skilder al jare. So ook Vernon Swart.

Om die waarheid te sê, Vernon Swart is meer bekend vir sy kuns as vir sy samewerking met Valiant Swart en ander.

Ook Andries, wat reeds op skool begin skilder het, voel reeds jare dat kuns vir hom eintlik eerste kom, al is hy ’n suksesvolle sanger/liedjieskrywer: “Ek dink teken is my enigste ware talent, met al die ander goed wat ek doen – musiek en gedigte – moet ek baie hard werk. Teken en verf kom makliker vir my.

“Maar ek wil nie kies nie. Dis vir my ’n tipe verset teen ’n wêreld wat mense wil dwing om net een ding te doen, om ’n spesialis te wees.”

As ’n mens na Andries se werk kyk, is dit onmoontlik om nie ’n sterk ondertoon aan te voel van dieselde soort enorme talent en styl van die ontslape Walter Meyer nie.

Sy onlangse werk Early Birds, stel ’n toneel voor in die Olympia Café in Kalkbaai en is, volgens hom, bedoel as ’n tweegesprek met Ed Hopper se Nighthawks.

Edward Hopper se “Nighthawks”. Foto: Getty Images

Toe ek nou weer met Andries begin gesels, het ek onthou dat ek so lank gelede as in 2014 toevallig eendag, ek dink dit was in Nelspruit, by ’n uitstalling van die uitvoerende kunstenaar en komediant Casper de Vries ingestap het.

Ja, Casper skilder ook! Al lankal!

Ek het hom dadelik gekontak en gevra of hy nog steeds skilder. “Ja,” het hy gesê, en bygevoeg dat hy lank gelede al geïnspireer is deur Karen Hougaard (ook ’n musikant!) en At Botha. “Maar my kuns is nie snaaks nie,” voeg hy verskonend by. “Dit het ’n ernstige kant.”

Ongetitelde werk deur Casper de Vries.

Daar is inderdaad baie sangers wat deesdae ’n ernstige kant het.

Jak de Priester het verlede jaar al die stokperdjie begin om deure te koop by hardeware-winkels – ja, gewone houtdeure – waarop hy dan skouspelagtige Jackson Pollock-tipe landskappe en patrone laat dans.

Die ruk-en-rol-sanger Jan Blohm doen ook nou kuns, en benewens sy eie uitstallingslokaal in die Strand stal hy ook werke met verskillende media virtueel uit saam met ’n groepie uitgesoekte kunstenaars van die bekende Dot-the-Eye-galery.

Kort nadat ek kragte saamgespan het met Karen Zoid se groepie kunstenaars, was ek verbaas om te ontdek dat ’n ou vriendin van my, Anna Davel, ook kunswerke aanlyn begin verkoop het. En sy is baie suksesvol.

Een van Anna Davel se onlangse werke: “Woorde van verwond”.

“Ek skilder en verf nog altyd vir die lekker,” vertel Anna my, “maar die musiekloopbaan en toere en ontwrigting het nie altyd vir my ruimte geskep om studio op te slaan en tyd daaraan te spandeer nie.

“Toe ek in eerste vyf weke van lockdown in Rosendal gaan bly het, het ek my teken- en verfgoed ingepak. In daardie stadium was die gedagte om my uit die kwaad te hou aangesien al my konserte gekanselleer was, en ek vir wie weet hoe lank alleen daar in ’n houthuisie sou gesit het.”

Sy is nou al besig met haar derde virtuele uitstalling, en haar werk is baie gewild!

Die werk van ’n ander bekende sangeres, Lize Beekman, wat al jare gelede bekendheid verwerf het vir haar verstommende en fyn afgewerkte mandala-ontwerpe, het ook tydens die staat van inperking in ’n nuwe rigting ontwikkel.

Lize, wat nou aan ’n nuwe album werk, vertel: “Ek het binne die lyne van die sirkel gebly soos wat ek binne die mure van my huis gebly het. Mettertyd het ek soms buite my huis begin beweeg . . . My visuele kuns was ’n kreatiewe ruimte en ’n plek vir heel raak toe musiek nie vir my toeganklik was nie.”

“Ek speel in die Lenteson” van Lize Beekman.

Nog ’n musikant wat al lankal skilder en wie se werk deesdae behoorlik opslae maak, is die voormalige Springbok Nude Girls-voorsanger Arno Carstens. Dit lyk asof hy tydens die staat van inperking behoorlik ’n kreatiewe ontploffing ervaar het!

Arno Carstens se “Sweet Embrace” (olie op doek, 70x56 cm).

Dit lyk asof die staat van inperking inderdaad dinge in ons kollektiewe psige wakker gemaak het wat al lankal roer en nou eers werklik tot uiting kom.

’n Mens kan nie wag om te sien waarheen dit nog gaan lei nie.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.