Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Môre is 6 April

Hy het begin gewoond raak aan ’n vuisvoos toestand, ’n magtelose woede, ’n verontwaardiging wat só erg is dat hy nie meer weet hoe om dit te verwoord nie, skryf Koos Kombuis.

Koos Kombuis

In die ou dae sou môre ’n openbare vakansiedag gewees het.

Onder die ANC-regering is hierdie dag afgeskaf as openbare vakansiedag en word dit nie meer herdenk of gevier nie.

Die Zuma-bewind het ’n stap verder gegaan. Daar is gesê dat al Suid-Afrika se probleme begin het met die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap die Goeie Hoop.

Daar is verskillende maniere om te kyk na wat gebeur het op hierdie datum. Elkeen van hierdie maniere van kyk het sy goeie punte en sy blinde kolle. Daar is nie ’n finale antwoord op die Groot Vraagteken wat die geskiedenis geplaas het langs die datum van 6 April 1652 nie.

Die versoeking is groot om ’n politieke rubriek oor hierdie onderwerp te skryf. Wie was reg oor kolonialisme, Helen Zille of Julius Malema? Dien dit enige doel om standbeelde van Cecil John Rhodes te verwyder?

Die laaste ruk was ek op baie lang road trips, soms saam met my gesin, die meeste van die tyd alleen. Dan word musiek my beste vriend. So luister ek die ander dag na Pietman Geldenhuys se nuwe album.

Die openingswoorde van die album lui:

Ek wens ek kon hiberneer

Soos ’n beer

En eers wakkerword

As iemand anders regeer

Dis die enigste politieke statement op Pietman se hele album. Die res is love songs. Van die mooiste love songs wat nog ooit in Afrikaans geskryf is, mag ek byvoeg.

Maar wat sê Pietman presies met daardie vier reëls?

Hy sê: ek wil nie protesteer nie. Ek wil niemand slegsê nie. Ek wil net my oë toemaak en wens die aaklige goed gaan weg.

Ek weet, dis dalk nie die regte manier om vandag se probleme te benader nie. As almal dit sou doen, sou niks verander nie.

Dis ook soos om te doen wat ons onlangs gedoen het – om ’n naweek lank deur te bring op die hoogste berg in Namakwaland, ver weg van selfoonontvangs, koerante, slegte nuus en al die sinnelose debatte en verkiesingsfoefies.

’n Snoepwinkel aan die suidpunt van Afrika

Kan ek maar nou heeltemal eerlik wees? Ek kan verstaan hoekom Pietman voel soos hy voel. Ons protesteer al so lank, en dinge raak nie beter nie.

Dit is môre 6 April 2019.

Hulle sê dis waar al die moeilikheid begin het. Toe iemand presies 367 jaar gelede besluit het om ’n snoepwinkel aan die suidpunt van Afrika oop te maak.

367 is ’n bietjie meer as die aantal dae in ’n jaar. Wat het ons die afgelope 367 jaar geleer? Wat het ons die afgelope jaar geleer?

Ek het geleer dat die regering nie belangstel in my mening nie. Ek het ook besef dat om te gaan stem op 8 Mei – en, help my God, ja ek sal seker maar op die ou end gaan stem – nie noodwendig enigiets gaan oplos nie.

Ek het besef dat daar sekere dinge is wat ek nie kan beheer nie.

Ek besef my reaksie van weersin is irrasioneel. Of is dit?

Ek het begin gewoond raak aan ’n vuisvoos toestand, ’n magtelose woede, ’n verontwaardiging wat só erg is dat ek nie meer weet hoe om dit te verwoord nie.

Bo-op Gifberg se hoogste toppie het ons vir ’n naweek lank gesit en ons het niks gedoen nie, net gebraai en wyn gedrink en so ’n bietjie gejêm, ek en my pêlle, en niemand het ’n woord gesê oor die absoluut onmoontlike, onhanteerbare, ondeurgrondelike, etterse, toksiese gemors wat die ANC van Suid-Afrika gemaak het nie.

“Toksies” is die enigste manier om sekere dinge te beskryf. Vra my, ek weet. Soos talle mense wat ek ken, was ek as kind deel van ’n toksiese gesin.

O, ek het intussen besef ek kan hulle nie blameer nie. Ek het vrede gemaak met almal, en ek is bly as hulle my ondersteun of selfs onverwags opdaag by ’n konsert. Maar wanneer hulle wil kom kuier of my nooi vir ’n familiebyeenkoms, steek my kop dwars in die sand soos ’n volstruis en alles in my sê: “Nee, nee, nee, julle verstaan nie! Ek is nie regtig ’n Du Toit nie!”

Ek besef my reaksie van weersin is irrasioneel.

Of is dit?

Dalk nie die dapperste keuse . . .

Blindejan Skets: Koos Kombuis

Wanneer iets toksies is of was, is dit die beste om dit uit te sny. Soos ’n gewas. Soos ’n tuin vol onkruid. Maak skoon, gooi weg, ontsmet. Al verbrand jy soms die goeie plantjies saam met die onkruid, soos wat die Bybel sê.

Die Bybel sê jy moet jou vader en jou moeder eer. Maar die Bybel sê ook jy moenie terugkyk as jy jou huis verlaat nie.

Die ANC het soos ’n toksiese gesin geword.

Ek eer die nagedagtenis van Nelson Mandela, maar dis omtrent waar my lojaliteit nou eindig.

Soos ’n infeksie wat geleidelik versprei, het hierdie huidige regering sedert die Mbeki-jare die ganse politieke landskap besmet.

Cyril Ramaphosa mag voorgee om die beste bedoelings ter wêreld te hê – en dalk het hy? – maar selfs die kollegas in sy onmiddellike dampkring is vergiftig deur die morele verval. Dis hoe diep die verderf sit. Tot in sy huishouding, aan sy eie boesem, sy eie seun. Hoeveel meer toksies kan ’n situasie word?

Dis môre 6 April. Ek dink aan die woorde van N.P. van Wyk Louw:

O waar sal jy gaan

en met watter skip?

die aarde is branding

en oral is klip,

of as jy wil vlug

uit die stad wat brand,

dan vlug ek saam

soos ’n vrou aan jou hand . . .

Waarnatoe gaan ’n mens, waarheen vlug jy, hoe haal jy asem as jy net wil oorleef? As jy ’n afstand wil skep tussen jouself en alles wat giftig vir jou geword het? Al die leuens van politici? Al die verhoudings wat tot in ewigheid gedoem is om te stagneer? Al die olifante in die voorkamer?

Jy klim in jou kar, jy ry ’n duisend kilometer weg, en jy luister na Pietman Geldenhuys se album.

Dis dalk nie die dapperste keuse nie. Maar dit maak meer sin as om alles op een ou se snoepwinkel meer as 300 jaar gelede te blameer.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.