Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Musiek gee ons hoop

As jy soms oorval word deur Afro-pessimisme, luister net na die Ndlovu-jeugkoor. Want hoe kan ’n land wat sulke grootse talent oplewer ooit ten gronde gaan? vra Koos Kombuis.

Skets: Koos Kombuis

Ten minste sing ons nou.

Cyril Ramaphosa sing in die kerk. En hy sing nogal mooi!

Ten minste síng ons nou.

Dis wat ek dink elke keer wanneer ek iets negatiefs lees oor my mede-Suid-Afrikaners of oor my land.

Was dit die liedjieskrywer André Swiegers wat ’n paar jaar gelede die opmerking gemaak het dat “elke Afrikaanse persoon onder die ouderdom van 60 deesdae sy eie CD uitgebring” het?

Ons sing almal deesdae. Nie net Afrikaanse mense nie. Ons almal.

Die ander aand sien ek ’n Afrikaanse nuusgreep van ’n bekende in regskringe, ene Mzukisi Kota, wat in sy vrye tyd deelneem aan musiekkonserte as voorsanger. En hel, het die man ’n goue stem (en nog meer nootvas as Cyril!).

Mzukisi Kota

Daar is orals stemme, ou en nuwe kunstenaars, van hip-hop tot instrumenteel, van Bellville tot Mitchells Plain, van Ladismith tot Limpopo.

Die gehalte van die musiek is natuurlik nie altyd ewe goed nie, maar om te sing, is darem gewoonlik beter as om stil te bly? Is dit nie?

Daar is min dinge in ons lewe wat nie die een of ander klankbaan het nie. Dit besef ek al hoe meer.

As daar nog ’n ou is wat ek baie graag sal wil hoor sing, is dit regter Raymond Zondo. Hy het so ’n mooi, diep stem. Ek is seker dat, as hy ooit sou sing, hy baie sou klink soos Tom Waits.

’n Mens kan nie van sy stem wegkom nie. Dit dreun elke dag deur ons huis. Daar is altyd iemand ingeskakel op die Zondo-kommissie.

My vrou dra die skootrekenaar met haar saam waar sy ook al gaan. Al wat ek op ’n afstand kan hoor, is regter Zondo se diep melodieuse stem wat opklink iewers uit die kombuis, of uit die slaapkamer. Dit klink soos stadige kletsrym.

Ek kan nie altyd hoor wat die regter sê nie, maar hy het ’n baie gerusstellende stem. Solank ek sy stem hoor, weet ek: Iemand is besig om korrupsie oop te vlek.

Die dag as Zondo se stem stilgemaak word, gaan ons probleme hê.

Waar daar musiek is, is daar lewe

Ons het alreeds probleme. Baie probleme.

Juis die ander oggend ry ek dorp toe in my motor. Toevallig het ek ’n ou CD van Crosby, Stills, Nash en Young in my CD-speler. Ek stop by ’n verkeerslig. Hier is tientalle mense wat bedel met karton-plakkate, wat werk soek, wat aalmoese vra.

Ek kan hulle nie almal help nie. Die ekonomie is in sy moer. Werkloosheid is op totaal onaanvaarbare vlakke. Almal wat ek ken, ekself inkluis, voel die byt van die wolf by die deur. Hoe lank voor alles in duie stort?

Dit laat my magteloos voel.

Op daardie presiese oomblik begin Neil Young sy liedjie “Helpless” sing.

“There is a town in North Ontario . . . ”

Nog ’n klankbaan.

Die probleme wat ons land, en die ganse mensdom, in die gesig staar, is enorm.

Iemand steek ’n vuurhoutjie aan in die Amasone, en die helfte van ons planeet se longe brand af.

’n Hommeltuig in Saoedi-Arabië veroorsaak amper ’n Derde Wêreldoorlog.

Ons oseane verswelg onder die gewig van plastiek. Die pole smelt.

Dis onmoontlik vir my om hierdie stories in die koerante te lees sonder dat ek daardie liedjie van Chris Rea in my agterkop hoor:

“This is no technological breakdown

Oh no

This is the road to hell . . . ”

Daar is musiek vir elke ervaring. Daar is ’n deuntjie vir elke gebeurtenis. Soms is die klankbaan steurend of onstellend, soms bring dit troos.

Nie almal stem saam oor watter musiek goeie musiek is of nie. Maar almal het hul gunstelinge. Daar is iets vir elke smaak. En hoe jy ook al sekere liedjies haat, dis steeds beter as stilte. Want waar daar musiek opklink, is daar mense, én lewe, én kreatiwiteit.

Daar is orals klankbane

Dit staan natuurlik enige mens vry om sekere liedjies van jou keuse op te roep in jou geheue of die moeite doen om daarna te gaan soek. Enigiets om jou luim te verbeter, of jou hoop te gee vir die lewe en die wêreld.

Word jy soms oorval deur Afro-pessimisme?

Join the club. Of luister net na die Ndlovu-jeugkoor van Limpopo.

Neem kennis van hierdie wonder-kinders. Neem kennis van hul sukses oorsee. Neem die reaksie waar van die talle mense wat deur hul musiek aangeraak is . . .

Ai, broers en susters, hoe kan ’n land wat sulke grootse talent oplewer, ooit ten gronde gaan?

Of kom ons luister weer hoe sing Refentse daardie Koos Doep-medley wat hy sy eie gemaak het.

Luister weer na “Hillbrow” van Johannes Kerkorrel.

Daar is orals klankbane. Daar is orals deuntjies wat mense by mekaar kan bring. Wat ons kan red van wanhoop en van die troostelose gebrek aan uitsig wat die default mode van die moderne mens geword het.

Luister na Vusi Mahlasela. Luister na Piet Botha. Luister na Stef Bos. Luister na Abdullah Ebrahim. Luister na goue oues soos Anton Goosen en David Kramer.

En drink ’n glasie, terwyl jy dit doen, op ons land. Op ons planeet. Op ons toekoms saam in hierdie tranedal. Op sommer alles.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.