Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: My f*k, Ramaphosa!

Hy wil net fietsry en vry wees in Suid-Afrika voordat die ANC alles steel waarvoor hy in sy lewe gewerk het, skryf Koos Kombuis.

Koos KombuisFoto: Foto24

’n Ruk gelede het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat die Reserwebank genasionaliseer gaan word. In dieselfde asem het hy Suid-Afrikaners verseker dat Eskom nie geprivatiseer sal word nie.

Ek wil nie ingaan op die politieke of ekonomiese implikasies van sy aankondigings nie. Sulke analises sal ek liefs los vir ouens wat meer verstaan van politiek en ekonomie as ek, soos Dawie Roodt, Tim du Plessis en Max du Preez.

Ek wil slegs ’n paar gewaarwordings opper, as gewone Suid-Afrikaner. Gedagtes wat by my opgekom het toe ek luister na daardie aankondiging, en dinge waaraan ek gedink het in die weke daarna.

Interessantste van alles was Ramaphosa se woordkeuse: “The ANC has decided . . .”

Nie “I have decided” nie. Die ANC het besluit dat die Reserwebank genasionaliseer sal word. Dat Eskom nie geprivatiseer sal word nie.

Dit laat ’n mens wonder hoe groot is die gaping tussen mense soos Cyril Ramaphosa, Tito Mboweni en Pravin Gordhan en “die ANC wat besluit het”?

So amper asof Cyril vasgevang was in nie middel van twee onversoenbare opinies – sy eie en dié van die ANC.

Dis soos daai ou advertensie: Innie mirrel, Cyril!

Dit laat ’n mens wonder hoe groot is die gaping tussen mense soos Cyril Ramaphosa, Tito Mboweni en Pravin Gordhan en “die ANC wat besluit het”?

Is hulle nog deel van dieselfde party?

En sou ek, as gewone Suid-Afrikaner, op verkiesingsdag besluit om my kruisie by die ANC te trek, wie gaan baat by my stem? Watter ANC? Die ANC waarvan Ramaphosa president is, of “die ANC wat besluit het”?

Oukei, kom ons staan eenkant toe. Flits terug na ’n ander insident. Die eerste keer toe iemand vir my die “My f*k Marelize”-video stuur.

Dit was verskriklik snaaks, daardie eerste keer. Dit het my sommer laat lus voel om dadelik op my fiets te spring en dieselfde truuk uit te probeer.

Daar was net een probleem – my ou fiets was so ’n krok dat ek nie eens die lengte van ’n tiende van ’n rugbyveld sou kon ry nie. Hy het nie remme wat werk nie. Sy handvatsels het windskeef gestaan. Die ketting het elke tien sekondes afgeval. Ek sou nie eens kon vorder tot by die naaste rugbypale nie.

Illustrasie deur Koos Kombuis.

Sosialisme versus kapitalisme

Asof die noodlot vir my iets wou sê, kuier ek toevallig kort daarna in Stellenbosch by my mede-musikant Matthys Maree, wat saam met my opgetree het in die pas afgelope “Optog”-vertonings.

Matthys is ook ’n deeltydse entrepreneur, en een van sy gunsteling stokperdjies is die invoer van sogenaamde “Lekker Fietsen” vanaf Amsterdam na Suid-Afrika.

Sy redenasie was daar is ’n baie groot fietsry-kultuur in Suid-Afrika, maar dis feitlik uitsluitlik gemik op fietsry as sport. Ons het nie ’n kultuur van mense wat soggens fietsry werk toe nie, of winkel toe nie, ensovoorts. En ons móét so ’n kultuur kry, anders gaan te veel karre te veel koolstofmonoksied die lug in pomp.

Meer mense wat fietsry vir daaglikse ontspanning beteken meer mense wat al fikser word. Veral op Stellenbosch, waar die verkeersprobleme in die middedorp skrikwekkende afmetings aanneem, sal dit almal baat as meer pendelaars fietse gebruik pleks van karre.

Vandaar “Lekker fietse”. Dis goedkoper as ’n resiesfiets. Dis verbruikersvriendelik en maklik. Dit herinner jou aan die fiets wat jy op hoërskool gery het, maar dit kraak minder en dit staan nie vol lekplekke en roes agter teen die garage-muur nie.

...maak die fietsrybane wat die DA gebou het op vir die vreeslike lelike dinge wat hulle aangevang het met Auntie Pat?

Dit was love at first sight toe ek ’n Lekkerfiets koop by Matthys. Skielik hou ek weer van een ding wat die DA begin doen het in die Wes-Kaap; hulle het fietsrybane orals begin bou. So asof hulle ook die nodigheid van ’n nuwe fietsry-kultuur in Suid-Afrikaanse dorpe en stede raakgesien het.

Wanneer ek my kruisie gaan trek op die 8ste Mei, sal ek moet besluit hoe ek voel oor die ANC. En ook oor die DA.

Watter faksie is die toekoms van die ANC – Ramaphosa of die sosialiste? En: maak die fietsrybane wat die DA gebou het op vir die vreeslike lelike dinge wat hulle aangevang het met Auntie Pat?

Op die ou end gaan die verkiesing van 8 Mei ’n stryd wees tussen twee uiteenlopende ideologieë wat albei baie sterk figureer in Suid-Afrika: sosialisme en kapitalisme.

Nou, soos ek sê, ek is nie Dawie Roodt nie. Ek is ook nie Jonathan Haidt nie.

’n Linkse geraas

Ek kan instinktief verstaan hoekom mense nie hou van die soort kapitalisme wat tans deur Amerika bedryf word nie. Dit f*k die omgewing op. Dis taai en klewerig en ongesond, soos Coca-Cola.

Maar daar is ’n ander soort kapitalisme waarvan ek baie hou. Ek is mal oor die jong entrepreneurs van ons land. Ek is mal oor ouens soos Matthys Maree wat ’n gaping in die mark sien en summier inspring.

Ek is mal oor ander moderne entrepreneurs oor wie ek al gelees het. Jong woelwaters en trendsetters wat met harde werk en oorspronklike idees besig is met fantastiese ondernemings en projekte; mense wat met suiwer breinkrag en geesdrif dit regkry om iets te skep uit niks. Bekende name soos Alex Fourie, Bheki Kunene, Khethi Ngwenya, Thato Kgatlhanye, Jonathan Liebman en vele ander.

As jy nog nie van hierdie mense gehoor het nie, sal jy binnekort, want hulle is die nuusmakers van vandag en môre. Elke keer as ek depressief voel oor iets wat Julius Malema kwytraak, dink ek aan wat hierdie groep mense besig is om te vermag, en dan voel ek beter.

Kapitalisme is nie sonder sy foute en vergrype nie. Maar vir elke Steinhoff is daar tien, twintig, honderd mense wat die regte ding doen.

Vaar enige township in, stap deur die middestad van Johannesburg en jy sien orals mense wat grondboontjies verkoop, vir jou ’n haarsny aanbied, jou skoene wil politoer smeer, iets wil aanbied in ruil vir jou rande.

Ek is gatvol vir rooi T-hemde, rooi baniere, rooi berets en rooi retoriek.

Gee en neem, ruilhandel, woeker en winsmaak is die hart van die beskawing. Dis wat ons individue maak, wat ons laat uitstyg bo stam en klas. Dis die groot gelykmaker. Maar dis ’n ander soort gelykmaker as die idealistiese “gelykmaak” van sosialisme. Dit skep gelyke geleenthede eerder as om te sanik oor gelyke regte vir almal ongeag meriete of insig.

Ek is siek en sat, tot in my diepste wese, vir politici en politieke partye wat gedurig ’n linkse geraas maak. Ek is tot in my derms moeg vir mense wat mekaar aanspreek as “kameraad”; wat hulle mond uitspoel oor “witmonopoliekapitaal” terwyl hulle soveel witmonopoliekapitaal steel as wat hulle kan. Ek is gatvol vir rooi T-hemde, rooi baniere, rooi berets en rooi retoriek.

Ek wil hê die goeie ouens moet hierdie verkiesing wen. Al kos dit dat die grootste party in Suid-Afrika afskeur op ’n skeuring.

Ek wil net fietsry en vry wees in Suid-Afrika voor “die ANC” met hulle “besluite” alles steel waarvoor ek in my lewe gewerk het.

My f*k, Ramaphosa. Is jy blind vir wat besig is om te gebeur?

*Ek bedank graag die volgende mense wie se werk en skrywes my gehelp het in my navorsing vir hierdie rubriek: Matthys Maree: musiekpromotor, entrepreneur en probleem-oplosser; Pieter Kloppers, dekaan van studente aan die Universiteit Stellenbosch; Shawn Greyling en Erene Oberhozer (joernaliste).

*Die standpunte in hierdie rubriek verteenwoordig dié van die skrywer en nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Kapitalisme  |  Da  |  Sosialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.