Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: My geld is op ’n nuwe daeraad

Sê van die land wat jy wil, want dis waar. Maar onthou dít: Die Bokke se oorwinning was ons silwer randjie, skryf Koos Kombuis.

’n Pa en sy dogter juig toe die Bokke deur die strate van Kaapstad gery het met die William Webb Ellis-trofee.Foto: Jaco Marais

Laat ek sommer nou hier bieg: Ek het feitlik die hele Wêreldbeker-rugbytoernooi misgeloop.

Nee, dit was nie omdat ek aan die All Blacks se kant was nie. Of omdat ek MultiChoice wou boikot nie. Dit was alles net swak tydsberekening.

In die hele toernooi het ek net twee wedstryde gekyk: Nieu-Seeland teen Ierland (dit was ’n verskoning om Guinness te drink voor middagete) en natuurlik die eindstryd.

Maar toe die laaste drie punte kort daarna bygevoeg word, toe weet almal dit het iets met Handré Pollard se skopskoen te doen, al kon ons dit nie sien nie.

Tydens al die ander wedstryde was ek of iewers op ’n vliegtuig, of in my motor, of verdwaal in die Drakensberge, of moer ver in die boendoe – of sommer net iewers waar ek glad nie by ’n televisiestel kon uitkom nie.

Ek onthou nog hoe ons op Bloemfontein se lughawe land en rondstaan om te wag vir die bagasie, en almal wonder wat’s die score, en ek hoor iemand aankondig: “Sestien elk!”

O, my swak hart.

Maar toe die laaste drie punte kort daarna bygevoeg word, toe weet almal dit het iets met Handré Pollard se skopskoen te doen, al kon ons dit nie sien nie.

Teen die tyd dat die eindstryd ’n week later aanbreek en ek besef dat ek vir die eerste keer in langer as ’n maand ’n hele naweek by die huis gaan wees, sê ek vir my vrou: “In watter bar sal ek Saterdag kyk hoe speel ons . . .teen wie nou weer? Is dit die All Blacks?”

“Nee,” sê sy. “Ek het jou te veel gemis. Ons kyk dit net hier by die huis. Hulle saai dit mos uit op die SAUK. En dis Engeland, nie die All Blacks nie.”

“Wow,” sê ek. “Dis ’n deal! En dis sommer ook verskoning om ’n hele 80 minute lank alleen saam met jou te wees vir die eerste keer sedert September. Gee my net Saterdagoggend kans om gou drankwinkel toe te gaan.”

Koos KombuisFoto: Verskaf

Allesverloren of vonkelwyn?

Dis waar die k*k begin het. Die toue in die drankwinkels daardie Saterdagoggend was iets verskrikliks. Dit het my laat dink aan ons eerste demokratiese verkiesing in 1994. Die spanning het net so hoog geloop.

Net soos met die verkiesing was ek onseker oor die opsies voor my. Ek staan voor die rakke en dink: Moet ek nie maar twee bottels kry nie? Wat van ’n bottel Allesverloren vir ingeval ons verloor, en ’n bottel vonkelwyn vir ingeval ons wen?

Selfs my 17-jarige dogter, wat hoegenaamd nie in rugby belangstel nie omdat sy voltyds besig is om die planeet te red, het haar Springboktrui aangetrek.

Die dunheid van my beursie het die deurslag gegee. Ek het by die huis aangekom met net ’n bottel vonkelwyn, net betyds vir die afskop-fluitjie, en het dadelik die bubbly in ons vrieskas gaan bêre.

Tagtig minute se speeltyd later was alles verby, en die drank net mooi koud.

Wat ’n wonderlike oomblik was dit nie! Wat ’n dag!! Selfs my 17-jarige dogter, wat hoegenaamd nie in rugby belangstel nie omdat sy voltyds besig is om die planeet te red, het haar Springboktrui aangetrek.

Dis nou al weke later en die meeste ouens se babalaas is soort van oor, want feesgevier is daar feesgevier – en as daar nou één ding is wat Suid-Afrikaners goed kan doen, is dit paartie hou. Sommer so deur die dreigemente van beurtkrag deur en die ekonomiese krisisse en die moorde en verkragtings en die slaggate wat nooit reggemaak word nie en Telkom wat amper soveel skuld soos Eskom en die SAL en alles wat aaklig en depressing en terrible is in Suid-Afrika.

Vir langer as ’n week het ek rondgeloop in ’n wolk van euforie. Ek het amper vir my ’n Speedo gaan koop, so happy was ek.

Ondersteuners het Maandag die Bokke in Kaapstad verwelkom toe hulle met die William Webb Ellis-trofee kom spog het. Foto: Jaco Marais

Was dit alles die moeite werd?

Maar daar was – en ís nou nog – baie mense wat weliswaar anders voel oor die hele storie. En laat ons maar eerlik wees, hierdie mense is eintlik die realiste.

“Moet ek ook so bedremmeld voel?” het ek myself afgevra. “Wat help dit? Dit was net ’n game. Wie’s ek om te glo dinge gaan nou skielik regkom? Moet ek nie maar die land verlaat of net vir ’n ruk iewers gaan wegkruip soos Vicki Momberg nie? Daar is nog so baie redes om gal te braak. O hel, en wat van Eben?”

Maar dis juis die ding. Dis hier waar ’n mens jou keuse moet maak. Is jou wynglas half leeg of half vol? Het elke silwer randjie ’n donker wolk? Of kan ’n mens uit ’n ander hoek daarna kyk?

Dit alles doen ek al my lewe lank omdat ek probeer glo in Suid-Afrika.

’n Paar dae gelede, op pad terug ná nog ’n konsert, sit ek in die Lanseria-lughawe se sitkamer en wag vir my vlug huis toe. Ek drink ’n koffie, sit terug, en maak my oë toe.

My hele lyf is seer. My vingers is bloederig van kitaar slaan. Wat ’n maand was dit nie! Ek het 14 000 kilometer gevlieg en gery, sowat ’n dosyn konserte gehou en tientalle deadlines gejaag vir resensies en rubrieke. Nooit kans gekry vir e-posse lees of gaan stap met my hond nie! My vrou net vir 80 minute gesien (plus rustyd en ’n bottel vonkelwyn, darem. O ja, en daar was die braai ná die tyd. . .)

Wat ’n lewe. Dit alles doen ek al my lewe lank omdat ek probeer glo in Suid-Afrika. Omdat ek glo daar is plek vir Afrikaans en Afrikaanse musiek in ons land. Omdat ek my klein deeltjie probeer bydra om te help ons kom lewendig anderkant uit.

Maar was dit alles die moeite werd?

Die son kom op oor Nature’s Valley.Foto: Koos Kombuis

Ons silwer randjie

Skielik skrik ek wakker uit my mymeringe. Wat se geraas is dit? Geraas. Iemand het die TV harder gesit. Ek hoor mense skree en gil.

Ek kyk op, en sien die vreemdste gesig.

Suid-Afrikaners wat saam in die strate van ons land juig en sing en jubel oor die Bokke se oorwinning. Dag ná dag. Wit en swart gemeng. Die vreugde is aansteeklik.

Saam. Ons is een land. Ons is een nasie. Dit het waaragtig gebeur. Dis ’n werklikheid, hier en nou.

Hierdie ding het ons hoop gegee, en gee ons nou nog hoop.

En dis toe dat die besef tot my deurdring: Sê wat jy wil van Eskom, sê wat jy wil van al die k*k wat ons daagliks moet opvreet, sê wat jy wil van die swak dienslewering en die korrupsie en van Zuma wat kastig siek is en Helen Zille wat aan verbale diarree ly en die hele moerse donker wolk wat oor ons land hang. . .

Sê dit alles, want dis waar. Maar onthou dít: Hierdie was ons silwer randjie. Hierdie was die een ding wat ons nou nodig gehad het. Hierdie ding het ons hoop gegee, en gee ons nou nog hoop.

Daar is lig aan die einde van die donker tonnel.

Dit is óf ’n donker wolk met ’n silwer randjie óf ’n silwer randjie met ’n donker wolk.

Dis óf Allesverloren of ’n bottel vonkelwyn.

Dis óf die sonskyn van ’n nuwe daeraad of die lig van ’n aankomende trein.

Ek weet ek is dalk nie ’n realis nie, maar my geld is op die nuwe daeraad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.