Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: ’n Mengsel van trots en walging

Hy is nog lief vir sy land. Ja, natuurlik is daar nog hoop. Maar daar is ook vrees. Twyfel. ’n Diepe hartseer, skryf Koos Kombuis.

Die ander dag, ’n hele paar dae ná die dood van James Small, stuur ’n ou vriend van my op WhatsApp die skakel na ’n lang eerbewys aan dié rugbyspeler en sy loopbaan.

Nadat ek dit gekyk het, antwoord ek hom: “Ek mis daai groot oomblikke toe ons nog trots was op Suid-Afrika.”

Nadat ek die boodskap gestuur het, is ek skielik gevul met ’n warboel van emosies en vrae.

Die eerste vraag is: Is ek dan nie meer trots op Suid-Afrika nie?

En my eerlike antwoord is: Ek weet nie.

Nee, ek is nog lief vir die land, maar die trots is vervang met ander emosies.

Hoop. Ja, natuurlik is daar nog hoop. Maar daar is ook vrees. Twyfel. ’n Diepe hartseer.

En, ergste van alles: ’n gevoel wat ek nie anders kan beskryf as “walging” nie.

Skets: Koos Kombuis

As Suid-Afrikaners voel baie van ons van ons die meeste van die tyd hierdie deurmekaarspul van gevoelens.

Party van ons voel niks. Ons het doodgegaan binne-in ons siele. Vir so lank al wag ons op ’n nuwe dageraad, ’n regverdige bestel, ’n doeltreffende regering. ’n Land wat werk.

En dan is daar dié wat woedend is. Woedend rassisties – wit en swart mense is hieraan skuldig – woedend getraumatiseerd omdat ons naasbestaandes verloor het as gevolg van geweld – hetsy plaasmoorde, bendeverwante sterftes of misdaad – en woedend oor beloftes wat nie uitgevoer is nie, dienste wat nie gelewer word nie, woede oor rioolvuil wat oorloop en strate wat verval en riviere wat ophoop met gemors en werk wat al hoe skaarser word.

Waarop Suid-Afrikaners trots kan voel

Koos Kombuis sê hy het trots Suid-Afrikaans gevoel toe hy na die Ndlovu-jeugkoor geluister het. Foto: Twitter

Ek weet nie of dit deur die genade is nie, maar daar het die laaste ruk ’n aantal dinge gebeur wat ons herinner het aan die tye toe ons wel nog almal trots Suid-Afrikaans gevoel het.

Ons het ’n hele paar wonderlike Suid-Afrikaners aan die dood afgestaan – Suid-Afrikaners wat gestaan het vir ’n beter Suid-Afrika, en wie se voorbeelde van moed en toewyding ons opnuut gebring het by die punt waar ons onsself wil afvra: Is dit weer moontlik? Kan ons ooit weer so voel?

Johnny Clegg. James Small. Piet Botha. En ook ander.

Nie een van hierdie mense was sonder foute nie, net soos Nelson Mandela nie sonder sy foute was nie. Maar hulle het almal iets in gemeen gehad: hulle het dinge gedoen en gesê of gesing wat ons nader gebring het aan ons gemene identiteit, wat ons opgebou het as ’n nasie, wat die grense tussen volke en kulture afgebreek het en ons probeer wys het waartoe Suid-Afrikaners in staat kan wees as hulle saam woeker met hul talente.

Koos Kombuis

Dis gelukkig nie net die dooies wat hierdie gewaarwording by ons wakker maak nie.

Onlangs by die Bands-For-Bricks-konsert in die Sun Arena het ek hulle self van naderby gesien en gehoor: die Ndlovu-jeugkoor wat nou soveel opslae maak by die America’s Got Talent-kompetisie.

Hulle was jou wrintiewaar bereid om, terwyl glorie en roem vir hulle wink oor die water, tyd af te staan om ons te kom help met ons geldinsamelingspoging.

Ek het trots Suid-Afrikaans gevoel toe ek na hulle geluister het.

Net soos ek trots Suid-Afrikaans voel elke keer as ek Trevor Noah op TV sien.

Daar is so baie goeie mense in ons land, mense wat nog leef, jong mense, wat nog so baie het om te gee, wat alles sal doen om te sorg dat Suid-Afrika ’n plek word waar mense kan lag en saamleef en floreer en goed voel oor hul gedeelde erfenis.

Daar is iets moois aan die gebeur in ons Springbokspan . . . ons is dalk nog nie perfek nie, maar daar is geen twyfel nie dat Rassie-hulle ’n goeie paadjie bewandel.

Waarom dan nou laer trek?

Pieter-Louis Myburgh se Gangster State het vanjaar opslae gemaak. Foto: Jaco Marais

Wanneer ek sulke mense sien, en sulke dinge sien gebeur, weet ek: Ons as Afrikaners hoef nie laer te trek nie. Ons kan trots wees op meer as slegs ons eie taal en kultuur. Ons kan ook trots wees om deel te wees van ’n groot en diverse land wat oorloop van potensiaal.

Dit het vir my ’n gewoonte geword om smiddags in te skakel op die KykNET NOU-kanaal (DStv 146). Dit is vir my verstommend om te besef hoe die Afrikaanse musiektoneel ontplof het. En ook hoe inklusief hulle skielik is.

Baie van hierdie nuwe kunstenaars word nog nie gereeld oor die radio gehoor nie en hulle is nog nie huishoudelike name nie. Maar as hulle voortgaan om sulke goeie musiek te maak – en dit is dalk die mees verbasende ding van alles, die feit dat die nuwe musiek meesal vars is en oorspronklik klink (hier is tonne talent!) – sit ons binnekort met ’n totaal nuwe Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kulturele landskap met nuwe metafore, nuwe idees, en ’n splinternuwe hiërargie van sterre.

Die hemel weet, dit is nodig.

Vir te lank was ons gevoelens van “trots Suid-Afrikaans” gesetel in die verlede. Party van ons was trots op die Groot Trek en die Boereoorlog. Goed en wel. Party van ons het Tiny Naudé se lang wen-strafdoel in Christchurch in 1965 onthou.

Soos die Amerikaners vandag nog trots voel oor die maanlanding, swel ons borse van trots as ons terugdink aan Chris Barnard se eerste hartoorplanting, aan al die brawe loopbane te midde van teenstand van helde en heldinne soos Basil D’Oliveira en Zola Budd, en, meer onlangs, Caster Semenya.

Wat is nasietrots?

Ek voel dit wanneer ek boeke lees van skrywers soos Jacques Pauw, Pieter-Louis Myburgh en Pieter du Toit wat soveel gewaag het om sulke puik joernalistieke ondersoeke te doen en soveel wanpraktyke te ontmasker.

Ek voel trots, en veral ook hartseer, as ek dink aan die dapper lyding en onnodige dood van iemand soos Suna Venter (SAUK).

Daar is so baie soos sy. Daar is te veel soos sy. Onskuldige mense wie se lewens vernietig is as gevolg van korrupsie, intimidasie en emosionele en fisiese geweld, mense wat beland het in die spervuur van die kollektiewe waansin wat so ’n houvas op Suid-Afrika gekry het in die afgelope dekade.

Ek voel níé trots nie wanneer ek kyk na die EFF se kaskenades in die parlement, of Jacob Zuma se stamelende, selfbehepte en delusionêre verbale getuienis voor die Zondo-kommissie nie.

Kom ons genees onsself van die walging en word weer trots Suid-Afrikaans.

Dan voel ek die teenoorgestelde.

Ek voel walging.

Daar is geen ander manier om dit beter te stel nie.

Dit is wat Zuma en sy trawante gedoen het (en steeds probeer doen): Hulle het ons land tot op die been afgebreek en kaal gestroop tot daar feitlik niks oor was nie. Geen hoop nie, geen optimisme nie, geen toekomsvisie nie, geen nasietrots nie. Dit is as gevolg van hulle dat mense soos Steve Hofmeyr, wat soos Zuma en Malema ook rasse-polarisasie najaag, vir so lank heldestatus verkry het. Dit is as gevolg van hulle dat die goeie mense van Suid-Afrika vir lank bang was om hul stemme te laat hoor. Hulle het ons potensiaal doodgesmoor en ons moedeloos gemaak, moedeloos en arm en die slagoffers van ondraaglike omstandighede.

Dit is tyd dat ons as Suid-Afrikaners opstaan en sê: kom ons verenig in ons stryd teen die leuens en die waansin van die Zuma-geslag.

Kom ons genees onsself van die walging en word weer trots Suid-Afrikaans.

Mzansi bo!

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.