Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: ’n Nuwe soort reënboognasie

Wat is die kanse dat jong mense van verskillende kulture kan hande vat en saamwerk om dinge te vermag wat die ouer geslag en die politici nie kon regkry nie? vra Koos Kombuis.

Skets: Koos Kombuis

Dit was dalk nie verlede naweek die beste tyd om weer Noam Chomsky te lees nie.

Ek het sy boek Global Discontents opgetel in ’n lughawe se boekwinkel bloot omdat ek verveeld was. Ek was nog nooit ’n slaafse navolger van hierdie skrywer se anargistiese filosofieë nie, maar dis moeilik om positief te wees oor die politiek ná ’n paar hoofstukke van so ’n boek, al stem jy nie met alles saam nie.

Nou ja, dit was een van daardie naweke waarin daar absoluut geen tyd was om op te let wat gebeur in die wêreld nie. Geen tyd vir TV-kyk, koerant lees of om die internet op my foon te raadpleeg nie.

Dit was eers Sondagaand, op die N2 op pad huis toe van die lughawe af, dat ek na die nuusbesprekingsprogram om agtuur op RSG luister dat ek al die skokkende nuus inhaal.

Magnus Malan na bewering ’n pedofiel.

Die onverkwiklike skikking tussen die DA en Patricia de Lille.

Die ANC wil die onregte van die verlede regstel, maar hulle kan nie die probleme van die hede hanteer nie.

“Kan ’n mens nog ’n politikus vertrou?” was die vraag wat op die radio gestel is.

Nie gedink Radio Sonder Grense sal ooit Chomsky napraat nie.

Want ’n mens sal ver moet gaan voor jy ’n meer siniese, uitgesproke, radikale denker soos hy kan kry:

“ . . . The United States, Britain, Israel . . . are rogue states, states that disregard international law. The UN Charter doesn’t apply to them. They have a monopoly on force . . . and they use it as they like.”

Dis jammer AfriForum het nie Chomsky gelees voordat hulle gaan aanklop het vir hulp in die VSA nie.

Ons ween en murmureer oor ons probleme. Die lang donker skaduwee van grondonteiening sonder vergoeding. En ek hoef nie die nuus te lees om te sien in watter toestand ons land is nie – ek kan slegs met my motor ry deur feitlik enige dorp noord van die Oranjerivier en kyk na die haglike toestand van die strate.

Die ANC wil die onregte van die verlede regstel, maar hulle kan nie die probleme van die hede hanteer nie.

Een helse onoplosbare krisis?

Is dit die lot, nie net van ons land nie, maar van die hele wêreld? Stuur alles af op een helse onoplosbare krisis? Is die ideale van liberalisme finaal versmoor deur die ysterhand van neo-liberalisme?

Wanneer laas was daar ’n betroubare leier? Madiba was ’n beter filosoof as wat hy ’n politikus was. Barack Obama het onskuldige mense laat vermoor deur hommeltuie. Die een of twee skerp dinge wat Donald Trump tot dusver vermag het, word oorskadu deur sy persoonlike tekortkomings en sy waansin.

Terug by die huis probeer ek sin maak van alles. Ek skakel my computer aan, en ontdek tot my verbasing: dis alweer tyd vir Oppikoppi.

Oppikoppi bestaan nog. Die jeug van Suid-Afrika stroom nog soontoe in hul duisende.

Goeiste! Hoe kan ’n mens Oppikoppi vergeet? Dit herinner my aan ons balhorige jeug, aan die tyd toe ons nog geglo het die kitaar is magtiger as die pen én die swaard.

Oppikoppi bestaan nog. Die jeug van Suid-Afrika stroom nog soontoe in hul duisende.

Hulle is nóú daar terwyl u hierdie rubriek lees. En vanjaar se Oppikoppi is meer inklusief en meer uitdagend as ooit tevore.

Die naam van hierdie jaar se fees herinner aan daardie trefferliedjie van Brenda Fassie “Nomakanjani”. (Zoeloe vir “no matter what”).

Die organiseerders van vanjaar se fees het self ’n klere-reeks bekendgestel.

Glo die jeug van Suid-Afrika nog in ons land?

Wat is die kanse dat jongmense van verskillende kulture kan hande vat en saamwerk om dinge te vermag wat die ouer geslag en die politici nie kon regkry nie?

Ek dink terug aan my indrukke van verlede naweek.

Die massa-opkoms by die “Liefde by die Dam”-fees. Daar is ’n verskil tussen vandag se jong Afrikaanse ikone en die ikone van my era, besef ek.

Bont klere verbloem dodelike erns

Koos Kombuis

In ons tyd het ons onsself snaakse name gegee. Vandag verkies kunstenaars om hul doopname te behou. Schalk Bezuidenhout. Bouwer Bosch. Karlien en Bobby van Jaarsveld.

As dit ’n “trend” is waarvan Steve Hofmeyr die voorganger was in die tyd van Piet Pers en Johannes Kerkorrel, moet ’n mens hom dalk ten minste vir hierdie één ding krediet gee . . .

Hulle lyk ook anders.

Ons het almal dieselfde gelyk: lang hare, jeans en T-hemde. Vandag is dit snaakse sokkies, byderwetse truitjies, kuiwe wat dwars aan die een kant afhang, allerhande nuwe vorms van retro-punk.

Dis asof die kinders wil sê: “Ons dra nie meer die maskers van potsierlike skuilname nie, ons is wie ons is, en ons is bont.”

So asof hulle deur hul kleredrag alleen die reënboognasie ’n werklikheid wil maak.

Magnus Malan moet in sy graf omdraai.

Dit is dalk slegs oppervlakkig, en tog . . . Ek kry die gevoel, as ek na webruimtes soos Klyntji  en ander soortgelyke nuwe geselsplatforms kyk, dat die nuwe uitspattighede meer is as slegs uitspattighede.

Dit verbloem ’n dodelike erns.

’n Erns wat wil sê: “Ons glo in die toekoms.”

Foto: Pinterest

Want is dit nie wat die retro-punk modegiere in werklikheid is nie? Is dit nie ’n direkte aanvaarding van Paul Kruger se beroemde woorde nie?

“Haal uit die verlede wat goed is en bou die toekoms daarop.”

Ek sluit af met nog ‘n aanhaling van Chomsky, net om te wys dat selfs hy nie 100% negatief was nie:

“If anything’s going to happen, it is going to be through mutual aid, solidarity, community, and a collective commitment to making changes. That’s always been the case in the past, and there’s no reason to think it will be different in the future.”

* Gepraat van bont klere, ek wil graag in Vrouemaand hulde bring aan een van Suid-Afrika se aktiefste klere-ontwerpers, Kim Davy Griessel van IZod Clothing.

Hierdie talentvolle vrou ontwerp al jare lank skouspelagtige uitrustings vir Suid-Afrikaanse celebrities, onder andere Dozi en ook myself (sy was die brein agter die “Kombuis Kat” reeks wat ons voor Kersfees vrygestel het).

Ons vennootskap is vir eers gestaak omdat haar seun, Jarrod, kanker opgedoen het, en sy die afgelope maande al haar aandag aan hom moes gee. Jarrod is vandeesweek oorlede en sy lyding is verby.

Ek wil graag namens al die kunstenaars vir wie Kim al klere ontwerp het, bedank en sterkte toewens vir die pad vorentoe. Ons dink aan haar in hierdie moeilike tye.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

Meer oor:  Oppikoppi  |  Koos Kombuis  |  Noam Chomsky  |  Suid-Afrika  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.