Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: ’n Volk staan op

Mense werk deesdae sy aan sy om slaggate reg te maak, om te veg vir onderrig in ’n inheemse taal, vir die reg tot selfrespek, medemenslikheid en buurmanskap. En dit is iets om op trots te wees, skryf Koos Kombuis.

Wellington se Moederkerk met die bekende standbeeld van Andrew Murray. Foto: Koos Kombuis

Wie of wat is ’n “volk”?

Is daar iets soos “ons volk”?

Dié van ons aan die sogenaamde “verligte kant” van die spektrum van Afrikanerdom het nie die luukse om aan onsself te dink as ’n “volk” nie. Ons sien onsself meestal as ’n losser groepering onder die breër sambreel van “Afrikaanses”.

Daarom was dit seker te verstane dat ek, toe ek ’n paar jaar gelede ’n skarebefondsing-projek begin vir my beplande laaste Afrikaanse CD, in ’n oomblik van onbegrensde idealisme op sosiale media gesê het: “Kom help my om Afrikaanse musiek te red! Kom ons doen dit vir die volk!”

Ek het die woord “volk” daar nie in ’n ironiese sin bedoel nie. Ek was doodernstig.

Die oproep het egter wye kritiek ontlok. Dit was seker te verstane. Want in my naïwiteit het ek vergeet dat, vir die meeste mense, “volk” nie dieselfde konnotasie gehad het as vir my nie.

Vir die meeste van my liberale vriende was die woord “volk” toe al lankal ’n vloekwoord.

Dit is hartseer om só daaraan te dink. Is ons, wat eerder “Afrikaanses” wil wees as “Afrikaners”, dan nie ook geregtig om tuis te voel in die konteks van ’n “volk” nie? Het ons geen eiegoed nie?

Ek voel oor my familie soos ek voel oor die NG Kerk. Ek is nie meer kwaad nie. Maar ek sal nooit kan teruggaan nie. Dis ’n metafoor, ’n reeks metafore, wat ek ontgroei het.

Ons is individue, ja, ons is ’n bont klomp, en ja, ek sal altyd eerstens ’n individu wees as ’n groepmens. Die meeste van ons is werklik nie goeie “team players” nie. Dalk het ons te veel Vonnegut gelees in ons kinderjare? Dalk is dit waar ons ons vrees vir die sogenaamde “granfalloons” van die establishment vandaan kry? (Dié wat nie die woord “granfalloon” ken nie, kan dit gerus Google . . . dis ’n interessante konsep!)

Maar tog. In my agterkop het die woord “volk” nog steeds ’n sentimentele klankie, voel dit vir my soos ’n vars briesie. En was dit nog altyd so.

Onlangs het ek twee besluite tegelyk geneem wat op die oog af lyk na ’n onhoudbare teenstrydigheid.

Ek het vrede gemaak met my familie, met die mense tussen wie ek grootgeword het.

En net daarna het ek besluit om bande met hulle te verbreek.

Dit was ’n geval van “get out while the going’s good”.

Ek voel oor my familie soos ek voel oor die NG Kerk. Ek is nie meer kwaad nie. Maar ek sal nooit kan teruggaan nie. Dis ’n metafoor, ’n reeks metafore, wat ek ontgroei het.

Net so het ek die ou konsep van “volk” soos dit daar gestel is deur Hermann Gilliomee en ander, lankal agtergelaat. Ek wil nie weer terugkyk nie.

Jaar in Wellington

’n Standbeeld deur Nanette Ranger in die tuin van Die Bôrdienguis-Teater in Wellington. Foto: Koos Kombuis

Uit my absolute nagmerrie-kinderjare het ek enkele mooi herinneringe: die beste van al hierdie herinneringe was my jaar in Wellington.

Dit was 1964. Ek was ’n tjokkertjie van nege jaar oud. Dit was die jaar toe die FAK ’n publikasie die lig laat sien het met die titel ’n Volk Staan Op.

Ek onthou dat ek die boek sien lê het op my Oupa se werktafel. My Oupa was al die jare ’n stoere voorstander van Afrikaans. My Oupa, wat ook, wanneer die geleentheid dit vereis het, ’n toespraak kon afsteek in foutlose Oxford-Engels. My Oupa, wat nooit ’n professoraat op Stellenbosch aangebied is nie omdat hy geweier het om lid van die Broederbond te wees.

Die paradokse kom van ver af.

Wie is dit wat gesê het “every generation hates their parents and makes friends with their grandparents?”

As kind was ek gefassineer deur die titel van daardie boek: ’n Volk Staan Op.

My destydse standard twee-jaar was ’n hedonistiese orgie van rugby, popmusiek, en heldhaftige uiterstes.

Dit was so ’n sterk titel, so ’n positiewe statement. Dit het my laat dink aan my grootste rugbyhelde. Frik du Preez. Tiny Naudé. Jan Ellis . . .

“As ’n volk opstaan,” so het ek myself gesê op die ouderdom van nege jaar, “wil ek ook opstaan. Ek wil deel van so ’n volk wees.”

Maar 1964 was ook die jaar toe ek rock ’n roll ontdek het. Die Beatles het op die internasionale musiektoneel ontplof.

1964 – my destydse standard twee-jaar – was ’n hedonistiese orgie van rugby, popmusiek, en heldhaftige uiterstes. Ons het vrugte gesteel. Ons het vriende gemaak met die kindertjies van die squatterkamp buite die dorp en saam met hulle kaal geswem in die Bergrivier.

Ek het Trompie-boeke gelees. Ek was mal oor Trompie, want hy was “stout, maar nooit lelik stout nie”.

Dit was ’n leuse waarby ek die res van my lewe sou probeer hou, hoewel ek nie altyd daarin geslaag het nie, want soms was ek en my vriende ook maar lelik stout. Maar nou ja, ek het myself intussen daarvoor vergewe, soos ek ook my familie vergewe het.

Die afgelope paar jaar, terwyl ek besig was om finaal deur ou traumas te werk, het ek besluit om my verlede te herontwerp. Ek het alles weggegooi behalwe daardie jaar in Wellington.

Vergeet van die verlede

Koos Kombuis

Dis natuurlik moeilik om dele van jou verlede weg te gooi. Sal ons ooit die Zuma-jare kan weggooi?

Tog: daar kom ’n tyd wanneer die verlede nie meer ’n houvas op jou kan hê nie. Daar moet ’n tyd kom, in die lewe van ’n mens en ook in die lewe van ’n volk, dat jy ophou blaam soek.

Daar kom selfs in ’n tydperk in die geskiedenis van ’n land wanneer absoluut alles wat verkeerd gaan nie meer op die verlede geblameer kan word – hetsy apartheid, die Botha’s, Zuma – nie en wanneer daar ’n skoon blaadjie omgeblaai moet word en ’n mens nuut moet begin.

’n Nuwe volk is besig om op te staan. Hulle besef dit nog nie, maar hulle doen dit. Dis ’n inklusiewe, Suid-Afrikaanse volk. Party van hulle praat Afrikaans, party nie.

Vreemdste van alles, dis nie ’n liberale inisiatief nie. Dis ook nie ’n outydse struggle-sosialistiese inisiatief nie.

Dis ’n inisiatief van gewone mense, vir gewone mense. Dit gebeur op plekke soos Fikcsburg en Senekal.

Mense steek hande uit na mekaar. Mense werk sy aan sy om slaggate reg te maak, om te veg vir inheemse taalonderrig, vir die reg tot selfrespek, medemenslikheid en buurmanskap.

’n Volk staan op. ’n Nasie staan op. ’n Land staan op.

Dis ’n klein begin, maar dit groei teen ’n verbysterende tempo, hierdie beweging. Dit is die magtige dreuning, nie slegs van die eertydse Afrikanerdom nie, maar van ’n nuwe burgerlike samelewing wat bewus word van hulself, en wat besef wat hulle alles kan vermag wanneer hulle saamwerk pleks van mekaar haat.

Wanneer hulle ophou wag vir die regering om dinge vir hulle te doen en dit vir hulself leer doen.

’n Volk staan op. ’n Nasie staan op. ’n Land staan op.

En, hel, as dit nie iets is om op trots te wees nie, weet ek nie wat is nie . . .

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Koos Kombuis  |  Wellington  |  Senekal  |  Ficksburg  |  Slaggate  |  Afrikaners  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.